Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 10/1 bl. 29-31
  • Talespraak—Kom dit van God af?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Talespraak—Kom dit van God af?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle “het in ander tale begin praat”
  • ’n Teken van God se steun
  • ’n Hulpmiddel om die goeie nuus te versprei
  • Talespraak in ons dag—’n Teken van God se steun?
  • Talespraak in ons dag—’n Hulpmiddel om die goeie nuus te versprei?
  • Wie lewer bewys dat hulle die heilige gees het?
  • Wat leer die Bybel oor die vermoë om in tale te praat?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Is die gawe van tale deel van die ware Christelike geloof?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Talespraak
    Redenering uit die Skrif
  • Talespraak—’n toenemende verskynsel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 10/1 bl. 29-31

Talespraak—Kom dit van God af?

“EK VERSTAAN dit eenvoudig nie”, sê Devon. “Elke week ontvang baie by ons kerk blykbaar die heilige gees en praat hulle wonderdadig in verskillende tale. Party lei ’n onsedelike lewe. Ek probeer ’n sedelike lewe lei. Maar ongeag hoe dikwels ek daarvoor bid, ek ontvang nooit hierdie gawe van die gees nie. Hoe kan dit wees?”

Gabriel gaan ook na ’n kerk waar mense blykbaar die heilige gees ontvang en in tale praat. “Wat my pla”, verduidelik hy, “is dat ander my gebede onderbreek deur hard te praat en dinge te sê wat nie ek of hulle verstaan nie. Niemand vind werklik baat by wat hulle sê nie. Behoort ’n gawe van God se gees nie ’n nuttige doel te hê nie?”

Devon en Gabriel se ondervindinge laat ’n interessante vraag ontstaan: Kom talespraak soos dit vandag in party kerke beoefen word, werklik van God af? Om hierdie vraag te beantwoord, sal dit help om die gawe van wonderdadige spraak onder eerste-eeuse Christene te ondersoek.

Hulle “het in ander tale begin praat”

In die Bybel lees ons van mans en vroue wat die krag ontvang het om tale te praat wat hulle nooit geleer het nie. Dit het die eerste keer op Pinksterdag 33 HJ plaasgevind, ’n paar weke ná die dood van Jesus Christus. Op daardie dag is 120 dissipels van Jesus in Jerusalem “met heilige gees vervul en het [hulle] in ander tale begin praat”. Besoekers van ander lande was “verbysterd, want elkeen het hulle in sy eie taal hoor praat”.—Handelinge 1:15; 2:1-6.

Die Bybel meld ander vroeë volgelinge van Jesus wat hierdie merkwaardige vermoë gehad het. Die heilige gees het byvoorbeeld die apostel Paulus in staat gestel om wonderdadig in etlike tale te praat (Handelinge 19:6; 1 Korintiërs 12:10, 28; 14:18). Maar enige sodanige gawe van God se heilige gees moet logieserwys ’n goeie doel hê. Wat was dan die doel van talespraak in Bybeltye?

’n Teken van God se steun

In ’n brief aan Christene in Korinte, van wie party klaarblyklik in tale kon praat, het Paulus verduidelik dat ‘tale ’n teken vir die ongelowiges is’ (1 Korintiërs 14:22). Die vermoë om in tale te praat, sowel as ander wonderdadige vermoëns, was dus vir dié wat dit gesien het, ’n aanduiding dat die nuutgevormde Christengemeente God se goedkeuring en steun geniet het. Die wonderdadige gawes was soos ’n padwyser wat vir dié wat na die waarheid gesoek het, gewys het waarheen hulle nou moes gaan om God se uitverkore volk te vind.

Dit is betekenisvol dat die Bybel nie sê dat Jesus of enige van die voor-Christelike profete wonderdadig in tale gepraat het wat hulle nie geleer het nie. Die gawe van talespraak wat Jesus se dissipels ontvang het, het klaarblyklik ’n bykomende doel gehad.

’n Hulpmiddel om die goeie nuus te versprei

Vroeg in sy bediening het Jesus sy dissipels beveel om die goeie nuus van God se Koninkryk net aan die Jode te verkondig (Matteus 10:6; 15:24). Gevolglik het die dissipels selde buite die gebiede gepreek wat hoofsaaklik deur Jode bewoon is. Maar dit sou weldra verander.

Kort ná sy dood in 33 HJ het die verrese Jesus sy volgelinge beveel om “dissipels [te maak] van mense van al die nasies”. Hy het ook vir sy volgelinge gesê dat hulle getuies van hom sou wees “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Matteus 28:19; Handelinge 1:8). Om die goeie nuus in dié mate te versprei, sou baie tale benewens Hebreeus gebruik moes word.

Maar baie van daardie vroeë dissipels was “ongeleerde en gewone mense” (Handelinge 4:13). Hoe sou hulle dan in verafgeleë lande kon preek waar tale gepraat is waarvan hulle moontlik nooit gehoor het nie, wat nog te sê leer praat het? Die heilige gees het aan party van hierdie ywerige predikers die wonderdadige vermoë gegee om vlot te preek in tale wat hulle nooit leer praat het nie.

Die gawe van talespraak het dus twee noodsaaklike funksies gehad. Eerstens het dit gedien as ’n bewys van God se steun. Tweedens was dit ’n doeltreffende hulpmiddel vir die eerste-eeuse Christene om hulle opdrag uit te voer om vir mense van baie tale te preek. Vervul die talespraak wat vandag in baie kerke beoefen word, hierdie funksies?

Talespraak in ons dag—’n Teken van God se steun?

Waar sou jy ’n teken oprig sodat soveel mense moontlik in julle gemeenskap dit kan sien? In ’n klein gebou? Natuurlik nie! Die verslag oor Pinksterdag sê vir ons dat ’n “menigte” verbygangers die teken gesien het wat deur die dissipels se wonderdadige talespraak voorsien is. As gevolg daarvan is daar op daardie dag “omtrent drieduisend siele” tot die Christengemeente bygevoeg! (Handelinge 2:5, 6, 41) As mense vandag beweer dat hulle in tale praat, maar dit net in ’n kerkgebou doen, hoe kan dit dan as ’n openbare teken vir ’n menigte ongelowiges dien?

God se Woord sê dat hoerery en ander “werke van die vlees” in stryd is met die werking van die heilige gees en voeg by dat “dié wat sulke dinge beoefen, God se koninkryk nie sal beërf nie” (Galasiërs 5:17-21). As jy mense met twyfelagtige sedes in tale sien praat, kan jy tereg wonder: ‘Is dit nie inkonsekwent—selfs misleidend—dat God se heilige gees uitgestort word op persone wat hulle deurentyd skuldig maak aan gedrag wat deur God se Woord veroordeel word nie? Dit sou wees soos om ’n padwyser op te rig wat verkeer in die verkeerde rigting lei.

Talespraak in ons dag—’n Hulpmiddel om die goeie nuus te versprei?

Wat van die ander funksie van die gawe van talespraak in die eerste eeu? Dien die talespraak wat in kerke beoefen word, as ’n hulpmiddel om die goeie nuus aan mense van verskillende tale te verkondig? Onthou dat die mense wat op Pinksterdag 33 HJ in Jerusalem was en dit gesien het, van baie lande gekom het, en hulle het die tale wat die dissipels wonderdadig gepraat het, goed verstaan. Daarenteen word die woorde van dié wat vandag in tale praat, gewoonlik nie deur enige luisteraar verstaan nie.

Dit is duidelik dat hedendaagse talespraak grootliks verskil van die gawe van die heilige gees wat aan Jesus se vroeë volgelinge gegee is. Trouens, daar is geen betroubare verslag dat enigiemand sedert die dood van die apostels hierdie wonderdadige vermoë ontvang het nie. Dit verbaas Bybellesers nie. Die apostel Paulus het aangaande die wonderdadige gawes, insluitende talespraak, voorspel: “Hulle sal ophou” (1 Korintiërs 13:8). Hoe kan ’n mens dan onderskei wie vandag die heilige gees het?

Wie lewer bewys dat hulle die heilige gees het?

Jesus het goed geweet dat die gawe van talespraak redelik kort ná die stigting van die Christengemeente sou ophou. Kort voor sy dood het Jesus ’n tydlose teken gemeld waaraan sy ware volgelinge uitgeken sou word. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is”, het hy gesê, “as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Trouens, in dieselfde vers waar God se Woord voorspel het dat die wonderdadige gawes uiteindelik sou ophou, sê dit: “Die liefde faal nooit nie.”—1 Korintiërs 13:8.

Liefde word aangegee as die eerste van nege aspekte van die vrug van God se heilige gees (Galasiërs 5:22, 23). Diegene wat werklik God se gees—en dus God se steun—het, sal derhalwe opregte liefde vir mekaar toon. Wat meer is, die derde aspek van die vrug van die gees is vrede. Die mense wat vandag die heilige gees het, sal dus vrede nastreef en hard probeer om bo dweepsug, rassisme en geweld uit te styg.

Dink ook aan Jesus se profesie wat in Handelinge 1:8 opgeteken is. Hy het voorspel dat sy dissipels krag sou ontvang om “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” getuies van hom te wees. Jesus het ook aangedui dat hierdie werk “tot aan die voleinding van die wêreld” sou voortduur (Matteus 28:20, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Hierdie internasionale predikingswerk sou dus ’n identifiserende kenmerk bly van dié wat werklik die heilige gees het.

Wat dink jy? By watter groep mense vind jy vandag bewyse van die heilige gees? Wie openbaar die vrug van die gees, veral liefde en vrede, in so ’n mate dat hulle deur regerings vervolg word omdat hulle wêreldwyd weier om die wapen op te neem? (Jesaja 2:4). Wie span hulle in om die werke van die vlees, soos hoerery, te vermy en verwyder selfs dié wat sulke gedrag onberouvol beoefen, uit hulle midde? (1 Korintiërs 5:11-13). Wie verkondig dwarsoor die aarde die goeie nuus dat God se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is?—Matteus 24:14.

Die uitgewers van hierdie tydskrif huiwer nie om te sê dat Jehovah se Getuies die Bybel se beskrywing pas van dié wat die heilige gees het nie. Leer hulle gerus beter ken en besluit self of hulle werklik God se steun geniet.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel