Bied die Goeie Nuus Aan—In sakegebied
1 Die verslag in Handelinge 17:17 sê dat Paulus ‘gespreek het met die Jode en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom’. Sy predikingswerk op die mark en op ander plekke het duidelik sy opregte begeerte geopenbaar om mense met die Koninkrykshoop te bereik, waar hulle ook al gevind kon word. Dit was selfs waar wanneer die omstandighede blykbaar nie so gunstig was nie. Sy predikingswerk op die mark, waarvan die bogemelde verslag melding maak, het byvoorbeeld tot gevolg gehad dat hy na die Areopagus geneem is, waar hy sy geloof uitstekend verdedig het. By daardie geleentheid is talle, onder andere Dionisius, ’n regter, beweeg om die Christelike geloof aan te neem.—Hand. 17:15-34.
2 Kan ons soortgelyke resultate verwag wanneer ons vir diegene in sakegebied getuig? Ja! Trouens, een suster wat die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! by ’n restouranteienaar aangebied het, het sy belangstelling in die waarheid gaande gemaak, en dit het tot ’n gereelde Bybelstudie by sy restourant gelei.
3 Maar ondanks die sukses wat talle in hierdie aspek van die bediening gehad het, is sommige verkondigers van mening dat dit uiters moeilik sal wees om vir winkeliers te getuig. Een verkondiger wat hierdie beskouing gehad het, het gesê: “Ek het verwag dat die reaksie negatief sou wees. Maar tot my verbasing was hulle reaksie op die Koninkryksboodskap net die teenoorgestelde! Hulle was opreg beleef en vriendelik en het feitlik altyd die tydskrifte aanvaar.” Ja, diegene wat al in sakegebied gewerk het, beskryf dit as ’n vrugbare werk wat seëninge meebring.
4 Waar daar groot sakegebiede is, sal dit goed wees om afsonderlike kaarte vir sakegebied te hê. Bekwame verkondigers of pioniers kan gereeld daarin werk, net soos woongebiede deur die gemeente gedek word. Diegene wat in sakegebied werk, moet netjies geklee wees. Bied die jongste nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! aan, maar van tyd tot tyd is dit gepas om ander lektuur aan te bied.
5 Ouere manne, veral die diensopsiener, moet ervare verkondigers aanmoedig om in sakegebied te werk. Diegene wat daaraan deelneem, moet probeer om kort en saaklik te wees wanneer hulle met sakemense praat, aangesien hulle tyd dalk beperk is. Talle het dit prakties gevind om daar te werk wanneer die winkels of kantore nie so stampvol is nie, soos in die oggend wanneer die winkels oopmaak of miskien gedurende die middel van die week, pleks van gedurende die besige winkelure. Een suster skryf: “Ons het in winkels of ondernemings ingegaan wanneer daar geen klante was nie en die jongste tydskrifte of die brosjure kortliks aangebied. Daar was soveel belangstelling dat ons al ons tydskrifte in twee blokke versprei het.”
WAT MOET ONS SÊ?
6 Dit is gepas om te vra om met die bestuurder of met die toesighouer te praat. Gebruik ’n eenvoudige benadering en verduidelik die rede vir jou besoek. Nadat jy jouself voorgestel het, kan jy byvoorbeeld sê: “Aangesien dit dikwels baie moeilik is om sakemense tuis te vind, wend ons hierdie poging aan om hier met u te praat. In die jongste nommer van Die Wagtoring is daar hierdie artikel met die titel [gee titel] wat inligting bevat wat u persoonlik raak. Ons weet dat u dit sal geniet om hierdie artikel sowel as die ander te lees. Ons bied dit saam met Ontwaak! aan teen ’n bydrae van slegs R1,00.”
7 As ons in sakegebied getuig, bied dit ons ’n geleentheid om mense te bereik wat selde in die huis-tot-huis-werk gevind word. Wees dus wakker vir sulke geleenthede. Werk in sakegebied het tot goeie resultate gelei!