Help ander om vooruitgang te maak in die bediening
1 In Lukas 22:32 het Jesus Petrus aangespoor om ‘sy broeders te versterk’. Petrus het dit gedoen. Sy getroue bediening was ’n bron van krag vir sy Christenbroers (1 Pet. 5:12). Net soos ons dit waardeer wanneer ons gehelp word om ’n gereelde aandeel in die velddiens te hê, stel ander dit ook op prys. Vra jou af: Wie in my gemeente het aanmoediging nodig om vooruitgang te maak in die bediening? Hoe kan hulle gehelp word?—1 Thess. 5:11.
2 Een manier is deur hulle te help om die ‘Onderwerp vir gesprekke’ met welslae aan te bied. Stel byvoorbeeld gepaste inleidings vir julle omgewing voor. Wys vir hulle hoe vrae gevra kan word om die huisbewoner te betrek en hoe hulle die tekste doeltreffend kan inlei. Stel voor dat hulle saam met verskillende broers en susters werk en uit hulle aanbiedings leer (Spr. 20:18). Reël oefensessies waar werklike omstandighede in die veld nageboots word (Spr. 27:17). Daar kan baie gedoen word om nuwe of minder ervare verkondigers by velddiensvergaderinge, na die boekstudie, in die motor op pad na die gebied, of in die gesin te help.
WEES ’N BRON VAN BEMOEDIGING
3 Elke Christen het ’n lewensbelangrike werk om te verrig. Ons word aangespoor om ‘die lendene van ons verstand te omgord’, en ons staan onder verpligting om mekaar te bemoedig. Wees bewus van diegene in die gemeente met bepaalde behoeftes, soos die vaderlose seuns, die bejaardes en persone met ongelowige huweliksmaats. Kan jy die tyd afstaan om saam met hulle velddiens te doen? (1 Pet. 1:13; Pred. 4:9, 10). ’n Goeie geleentheid hiervoor is tydskrifwerk op die tweede en vierde Saterdag.
4 Pioniers, julle is in ’n uitstekende posisie om hulp te verleen. Julle bemoedigende ondervindinge kan ’n goeie uitwerking op ander hê. Soek dus geleenthede om hierdie ondervindinge met ander te deel (Hand. 15:3). Beplan gerus om iemand saam met jou na ’n Bybelstudie of herbesoek te neem. Maak seker dat wanneer jy hierdie reëlings tref jy die verkondiger laat weet watter gedagte jy wil dek sodat hy ook aan die bespreking kan deelneem. Julle ywerige verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk sal ander aanspoor om dit ook te doen.
5 Ouere manne is nie net bevoorreg om ’n ywerige voorbeeld in die verkondiging van die Koninkryk te stel nie, maar ook om hulle broers en susters te help om hulle beter in hierdie diens te bekwaam. Gemeentelike Boekstudiehouers en die diensopsiener kan af en toe die Gemeentelike Verkondigerverslagkaarte nagaan sodat hulle op hoogte is van tendense wat in persone se velddiens ontstaan. Hulle sal dan deeglik toegerus wees om Koninkryksverkondigers op te lei sodat hulle bedrewe sal word in verskeie aspekte van die diens. Hulle kan lede van die kudde help om te stry teen ontmoediging weens moeilike gebied of probleme wat dalk hulle diens belemmer. Velddiensvergaderinge wat die verkondigers pas, moet gereeld gehou word, en spesiale diensreëlings kan vir feesdae getref word.
HULP AAN ANDER VERSKAF VREUGDE
6 Spoor jy ander aan om deel te neem aan die veldbediening? Dit verskaf groot bevrediging en vreugde as jy iemand help om ten volle aan die Koninkrykspredikingswerk deel te neem (Neh. 8:11). Maak gedurende hierdie laaste dae van elke geleentheid gebruik om ander te help om saam met jou die vreugde te smaak wat dit verskaf as ons skouer aan skouer in Christelike eenheid arbei!—Sef. 3:9.