Bied die Goeie Nuus Aan—Tydens herbesoeke
1 As bedienaars van die goeie nuus word ons beveel om dissipels te maak (Matt. 28:19). Herbesoeke is dus ’n noodsaaklike deel van ons dissipelmaakwerk. Wanneer ons herbesoeke doen, besoek ons mense wat belangstelling in die Koninkryksboodskap toon. Hulle het bykomende geestelike voedsel nodig om vooruitgang in die waarheid te maak. Hulle moet meer bewus gemaak word van hulle geestelike behoefte (1 Pet. 2:2; Matt. 5:3, vgl. NW). Herbesoeke bied ons die geleentheid om in hierdie behoefte te voorsien terwyl ons mense help om wysheid uit God se Woord te verkry.
2 Beplan vooruit. Staan tyd af vir herbesoeke. Baie reël om herbesoeke te doen nadat hulle huis-tot-huis-werk gedoen het. Daarbenewens kan ander reëlings getref word vir hierdie werk. Party vind dat as hulle vroeg saans teruggaan hulle mense gewoonlik tuis vind en dat hulle meer ontspanne en gewillig is om te luister. Kan jy tyd afstaan vir herbesoeke? As jy volhard, sal jou vooruitsigte om ’n tuisbybelstudie te begin baie groter wees.
AANVAAR DIE UITDAGING
3 Party is dalk bang om herbesoeke te doen omdat hulle dit as ’n uitdaging beskou. Voel jy so? Indien wel, is voorbereiding moontlik die oplossing. Aangesien ons mense besoek wat al ’n mate van belangstelling getoon het, het ons reeds ’n grondslag om ’n gesprek te begin. Dit is belangrik om akkuraat verslag te hou oor julle gesprek tydens die eerste besoek. Dit is makliker om belangstelling aan te wakker deur na die vorige gesprek te verwys en dan daarop voort te bou. Let op enigiets wat hulle sê wat ’n leidraad oor hulle belangstellings en doelwitte kan gee. Berei dan bykomende inligting met behulp van die Redenering-boek voor. Meld hierdie punte wanneer jy hulle weer besoek en gesels oor die dinge wat jy voorberei het. Die huisbewoners sal dan besef dat jy opreg in hulle belangstel en hulle sal aangespoor word om op die boodskap van hoop te reageer.
4 Vir ander is dit ’n uitdaging om belangstellendes weer tuis te vind. ’n Suster het tydskrifte by ’n man gelaat maar kon hom twee jaar lank nie tuis vind nie. Toe sy hom uiteindelik gevind het, het hy vir haar gesê dat hy die tydskrifte geniet het en hulle graag weer sou wou ontvang. Maar weens sy werkrooster was dit steeds baie moeilik om hom tuis te vind. Eindelik, na baie pogings om met hom in aanraking te kom, het die suster hom weer tuis gevind en was hy gereed om te gesels. Hy het haar gegroet en gesê: “Wat moet ek doen om ’n Getuie te word?” Hy het gestudeer en dien nou as ’n ouere man. Dit verskaf groot vreugde om sulke mense te vind. Dit maak alles die moeite werd. Jehovah het hierdie suster se harde werk geseën (Pred. 11:1). Hy sal ons s’n ook raaksien. Ons kan soortgelyke seëninge geniet. Maar waar kan ons nog hulp en aanmoediging vind?
5 Diensopsieners kan hulp verleen en goeie leiding met herbesoeke gee. Wanneer hulle boekstudiegroepe besoek, kan hulle ’n toespraak oor die belangrikheid van herbesoeke hou. Hulle kan demonstreer hoe om Bybelstudies te begin. Wanneer hulle saam met ’n groep velddiens doen, kan hulle verkondigers help herbesoeke doen en Bybelstudies begin. Vra jou diensopsiener om hulp as jy dit op hierdie gebied van die bediening nodig het.
ONS VRUGTE
6 Elkeen wat hom aan Jehovah toewy, dra die verantwoordelikheid om aan die dissipelmaakwerk deel te neem. As ons goed voorberei en gereeld effektiewe herbesoeke doen, sal ons vrugte pluk wat ryk seëninge vir ons ‘sowel as die wat ons hoor’, sal meebring.—1 Tim. 4:16.