Bied die Goeie Nuus Aan—
In groepgetuieniswerk
1 Dit is prakties sowel as opbouend om ter voorbereiding van velddiens saam met ander te vergader. So ’n voorsiening moedig ons broers aan om skouer aan skouer te werk om die goeie nuus te verkondig.
2 Die meeste gemeentes hou, afhangende van hulle situasie, hulle velddiensvergaderinge oor die naweek by elke Gemeentelike Boekstudie. Hierdie reëling het ooglopende voordele. Ons besef dat omstandighede van gemeente tot gemeente verskil. Dit is soms dalk gepas om uiters klein groepies te kombineer. Die liggaam van ouere manne moet dus die plaaslike omstandighede oorweeg en bepaal watter reëlings die nuttigste sal wees.—Kyk Ons bediening, bladsye 96, 97.
ONDERSTEUN VELDDIENSVERGADERINGE
3 Groepgetuieniswerk wat op die boekstudievlak gereël word, bied die boekstudiehouer ’n goeie geleentheid om aan elke individu aandag te skenk. Nuwe verkondigers sowel as die meer ervarenes kan daarby baat vind om saam met die ouere manne en die bedieningsknegte te werk.
4 Middeweekse velddiensvergaderinge kan gehou word by die Koninkryksaal of by verskeie plekke wat vir die verkondigers gerieflik is. Plaaslike omstandighede en die beskikbaarheid van ouere manne, bedieningsknegte of ander bekwame individue wat toegewys is om die vergadering te behartig en die leiding in die veldbediening te gee, sal bepaal of twee of meer vergaderinge gehou moet word.
5 Met die oog op die dringendheid van die tye wil ons soveel mense moontlik met die Koninkryksboodskap bereik. Wat kan die boekstudiehouer of diegene wat toegewys is om die groep te behartig, doen om te verseker dat almal die tyd wat hulle vir groepgetuieniswerk opsy gesit het ten beste benut? Boekstudiehouers kan in gedagte hou dat die vergadering vir velddiens nie langer as 10 tot 15 minute moet duur nie. (Kyk Ons bediening, bladsy 77.) Baie tyd kan gespaar word as gebied toegewys word voordat die groep na die gebied gaan, en dit kan voorkom dat groot groepe op die straathoek saamdrom en ’n indruk van desorganisasie skep. Sommige het dit nuttig gevind om gedeeltes van die gebied ’n ruk lank aan bekwame verkondigers toe te wys. Sodra groepe dus gereël is, kan hulle onmiddellik na hulle gebied vertrek. Die diensopsiener moet wakker wees om probleme rakende groepreëlings op te los sodat meer tyd aan die velddiens bestee kan word.
6 Talle verkondigers wat lank in die waarheid is, onthou met genoeë ondervindinge wat hulle deur die jare meegemaak het terwyl hulle saam met ander aan groepwerk deelgeneem het. Sulke ondervindinge versterk die eenheid van die gemeente en die band van Christelike liefde. Hoewel daar soms dalk goeie redes is waarom twee verkondigers saamwerk, kan daar in talle gebiede meer verrig word deur alleen te werk terwyl ander daar naby getuieniswerk doen. As ons alleen velddiens doen waar omstandighede dit toelaat, kan ons meer mense bereik en kan dit goeie opleiding vir die toekoms wees ingeval onverwagse beperkings op ons predikingswerk ingestel word. (Kyk Die Wagtoring van 15 November 1985, bladsy 13, paragraaf 11.) Die reëlings wat ons tref, moet deur goeie oordeel, asook ’n begeerte om soveel moontlik te verrig, bepaal word.
7 Die apostel Paulus het mede-Christene van sy dag aangespoor om ‘die belydenis van die hoop onwankelbaar vas te hou’. Sy geïnspireerde woorde sê ook vir ons: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim [nie] . . . maar laat ons mekaar [aanmoedig], en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebr. 10:23-25, vgl. NW). Mag ons deur ons ondersteuning van die plaaslike reëlings vir groepgetuieniswerk daarin slaag om ons mede-Koninkryksverkondigers “tot liefde en goeie werke” aan te spoor. Wanneer ons dit doen, sal ons talle puik beloninge in Jehovah se diens ontvang.