Bied die Goeie Nuus Aan—Met die nuwe boek
1 Opregte Bybelstudente wil eeue lank al die boek Openbaring verstaan. Sedert 1917, toe The Finished Mystery vrygestel is, is verskeie boeke deur die Genootskap uitgegee om godvresende mense te help om hierdie Bybelboek te verstaan. Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! voorsien die duidelikste en breedvoerigste verduideliking tot op hede van die geïnspireerde Bybelboek Openbaring.
2 Jehovah se volk het veral ’n intense belangstelling in Openbaring met sy fassinerende visioene oor “wat binnekort moet gebeur” (Openb. 1:1, NAV). Dit was dus met groot vreugde en waardering dat ons die nuwe Openbaring-boek by die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms ontvang het. Het jy jou eksemplaar al gelees? Gedurende Maart sal ons die geleentheid hê om hierdie nuwe boek aan te bied vir almal wat ons teëkom.
EIENSKAPPE WAT WAARDEER WORD
3 Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! word veral waardeer omdat dit ’n vers-vir-versbespreking van die hele boek Openbaring gee. Dit sal van onskatbare waarde wees vir persoonlike studie en om ander te onderrig.
4 Jy is ongetwyfeld geboei deur die boek se treffende illustrasies. Hulle is ’n groot hulpmiddel om die simboliek wat deur Johannes beskryf word te visualiseer. Gebruik hierdie illustrasies doeltreffend wanneer jy die boek in die velddiens aanbied. Hoewel ons die Koninkrykseëninge wil beklemtoon wanneer ons die goeie nuus aanbied, moet ons belangstellendes ook help om die dringendheid van Jesus Christus se boodskap in die boek Openbaring te besef. Soos die spreker by die streekbyeenkoms ons aangespoor het: “Gebruik . . . hierdie nuwe boek . . . om vir die wêreld aan te kondig dat Babilon die Grote gedoem is, dat die nasies nou voor Armageddon staan en dat die groot klimaks bereik sal word in Jehovah se luisterryke Koninkryksheerskappy onder Christus en sy bruid.”
WAT GAAN JY SÊ?
5 Nadat jy jouself voorgestel het, kan jy sê: “Talle het al gewens dat hulle die boek Openbaring kan verstaan. ‘Die uur van oordeel’ wat in Openbaring 14:7 gemeld word, is van groot belang. [Lees.] Dit sal u dalk baie verbaas om uit te vind wie ’n ongunstige oordeel van God ontvang. [Lees Openbaring 18:2a, 4.] Het u al ooit die uitdrukking ‘Babilon die Grote’ gehoor? [Laat huisbewoner antwoord.] Waarop het dit betrekking, en waaruit moet ons gaan? [Wys Openbaring-boek.] Wat hierdie boek so interessant en so nuttig maak, is dat dit insiggewende kommentare op elke vers in die Bybelboek Openbaring lewer. Die informasie in hoofstukke 33-38 identifiseer Babilon die Grote en vertel van haar naderende vernietiging. [Beklemtoon ’n spesifieke verwysing of prent in die publikasie.] Hierdie informasie sal baie waardevol wees om u en u dierbares te help om stappe te doen om God se guns te verkry en sodoende die lot van Babilon die Grote vry te spring. Ek moedig u aan om ’n eksemplaar van hierdie boek, Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, teen net R6,00 te neem.”
6 Vir ’n kort aanbieding kan sommige dalk verkies om Openbaring 18:4 te lees en dan na die prent op bladsy 241 te blaai en te meld dat die boek verduidelik wat Babilon die Grote afbeeld, wat die dier afbeeld en waarom dit so belangrik is dat ons op God se waarskuwing teen hulle ag slaan. Nuwe of minder ervare verkondigers kan die prent op bladsy 302 verduidelik deur Openbaring 21:4, wat op bladsy 303 aangehaal word, te gebruik.
7 Jy kan jou inleiding en die gedagtes wat jy beklemtoon, ooreenkomstig die omstandighede aanpas deur die tekste en informasie onder “Babilon die Grote”, op bladsye 51, 54, en 55 van die Redenering-boek te gebruik.
8 Ons het Jehovah en ons naaste lief. Dit beweeg ons om God se oordeelsboodskap te verkondig. Terwyl Babilon die Grote verder aan die kaak gestel moet word, moet opregte persone die geleentheid gebied word om ‘uit haar uit te gaan’ en ’n ferm standpunt vir die waarheid in te neem. Daarom verhef ons ons stemme eenparig en sê “Kom!” vir diegene wat dors na “die water van die lewe”.—Openb. 22:17.