Bied die Goeie Nuus Aan—Deur mekaar te help om Bybelstudies te begin
1 Almal wat Jehovah liefhet, wil produktief in hulle bediening wees. Jesus het ons die opdrag gegee om ‘dissipels te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het’ (Matt. 28:19). As jy graag ’n Bybelstudie wil begin, moet jy Jehovah se leiding vra en die praktiese hulp en wenke benut wat deur die gemeente voorsien word.—Matt. 7:7, 8.
2 Jou Gemeentelike Boekstudiehouer stel besonder belang in die Bybelstudiewerk in julle groep. Nader hom en spreek jou begeerte uit om ’n Bybelstudie te hou. Hy kan dalk reël dat ’n ervare verkondiger ’n ruk lank saam met jou werk. Die oogmerk moet wees (1) om jou te help om ’n Bybelstudie te begin en dan ’n progressiewe Bybelstudie te hou en (2) om in die toekoms ander studies te begin.
LEER DEUR VOORBEELDE
3 In baie gevalle het ons dalk nie ’n Bybelstudie nie omdat ons nie gou genoeg teruggaan na mense wat lektuur geneem of belangstelling getoon het nie. Lê jou dus daarop toe om so gou moontlik terug te gaan. Jy sal natuurlik ’n goeie aantekening van die belangstelling moet maak. Die verkondiger wat jou help, kan jou dalk wys hoe dit gedoen word. Julle twee kan saam voorberei om hierdie herbesoeke te doen met die doel om Bybelstudies te begin. Oefensessies sal jou ’n beter idee gee van hoe jy die belangstelling kan verlewendig wanneer jy teruggaan.
4 Let op wat jou metgesel doen wanneer hy die leiding by ’n besoek neem. Let op hoe hy die huisbewoner by ’n gesprek betrek. Vra jou af hoe jy dieselfde kan doen. Kry hy die huisbewoner se mening deur uitlokvrae te stel of kommentaar op ’n gepaste teks te vra? Hersien na die besoek wat jy geleer het. Probeer hierdie dinge dan by toekomstige herbesoeke toepas.
5 Wanneer julle ’n Bybelstudie begin het, kan julle aan maniere dink waarop julle albei daaraan kan deelneem. Jy kan dalk gekose sleuteltekste lees en die huisbewoner help om dit te verstaan. Na afloop van die studie kan jy jou maat om nuttige wenke vra, soos wanneer om bykomende vrae te vra, hoe om die student se belangstelling vir die volgende studie te wek en hoe om belangstelling na die organisasie te rig.
WANNEER GEBIED VERANDER WORD
6 Wanneer nuwe gemeentes gestig word of wanneer die gebied verander word, moet jy dalk ’n Bybelstudie wat jy begin het aan ’n ander verkondiger oorgee. Jy kan reël dat ’n bekwame verkondiger van die ander gemeente saam met jou na die studie gaan. Na ’n paar weke kan daardie verkondiger dit begin hou. As jy besef dat dit net nog ’n deel van die dissipelmaakwerk is om ’n studie oor te gee, sal dit jou beweeg om te doen wat die beste vir die student is.—Filip. 2:4.
7 Jehovah vervul inderdaad sy belofte om ‘al die nasies te skud’ en vul sy huis met die begeerlike dinge (Hag. 2:7, NW). Watter wonderlike voorreg het ons om ander te help om Jehovah te leer ken en lief te hê! Baie meer van ons sal dalk die vreugde smaak om ’n gereelde tuisbybelstudie te hou as ons mekaar deur die Gemeentelike Boekstudiereëling help.