Bied die goeie nuus aan—met die God se woord-boek
1 In sy brief aan ’n mede-evangeliedienaar het die apostel Paulus geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.”—2 Tim. 3:16.
2 As hedendaagse verkondigers van die goeie nuus glo ons hierdie verklaring van ganser harte. Ons aanvaar die Bybel as God se geïnspireerde Woord. Ons aanvaar die leiding daarvan in elke aspek van ons lewe (Ps. 119:105; Joh. 17:17). Maar hoe kan ons ander help om die Bybel as God se Woord te aanvaar en die beginsels daarvan in hulle daaglikse lewe toe te pas?
HOE ONS DIT KAN DOEN
3 Terwyl ons gedurende Maartmaand vir die eerste keer die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? vir die publiek aanbied, sal ons mense se vertroue in die Bybel opbou en hulle help om te sien watter voordele dit inhou as ’n mens volgens die geïnspireerde raad daarin lewe. Wat ’n voorreg sal dit tog wees!
4 Wat kan ons sê wanneer ons hierdie boek aanbied? Nadat ons vriendelik gegroet het, kan ons die aandag op Spreuke 14:12 vestig om te toon dat ’n suksesvolle lewe wyse leiding vereis. Verkeerde leiding kan rampspoedig wees. Lees dan Spreuke 2:6, 7 om te toon dat Jehovah ware wysheid voorsien. Ons kan met die huisbewoner redeneer oor hoe belangrik dit is om ons tot die Bybel te wend as ons goddelike wysheid wil vind. Dan kan ons sê: “Hierdie publikasie toon dat die Bybel ’n betroubare bron is wat gesonde raad bevat oor probleme wat mense in die gesig staar. Let asseblief op wat dit hier op bladsy 5, paragraaf 2, sê. [Lees paragraaf 2, en as die tyd dit toelaat, lees paragraaf 4.] Hierdie publikasie sal u help om te besef dat die Bybel inderdaad God se Woord is en dat dit praktiese leiding in alle fasette van die lewe gee. U kan hierdie boek teen ’n bydrae van net R.2,50 verkry.”
5 ’n Huisbewoner lyk miskien besig of sê dalk dat hy nie belangstel nie omdat hy nie by ’n lang bespreking betrek wil word nie. Jy kan ’n kort aanbieding doen deur te sê: “U sal ongetwyfeld saamstem dat daar baie probleme is wat die mens in die gesig staar.” Lees dan die inleiding tot hoofstuk 1. Nadat die huisbewoner oor die laaste vraag in daardie paragraaf kommentaar gelewer het, kan jy sê: “Die Bybel sê dat God self binnekort al die mens se kwellende probleme sal oplos. Hierdie boek lewer kragtige bewys dat die Bybel waar is, aangesien dit God se woord is en nie die mens s’n nie. Ek wil dit graag by u laat teen ’n bydrae van net R2.50.”
DIT VOORSIEN IN ’N BEHOEFTE
6 Hierdie nuwe boek, Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, sal opregte lesers help om te besef dat die Bybel waarlik God se Woord is. Indien hulle in opregtheid die gedagtes daarin ondersoek, sal hulle moontlik gehelp word om die pad na die lewe te begin bewandel. Daarom moet ons ’n spesiale poging aanwend om hierdie boek by soveel mense moontlik te laat.
7 Ons almal behoort die nuwe boek deur te lees voordat die Maartkampanje begin. Ons wil die God se woord-boek in die hande van soveel mense moontlik kry en dit in elke aspek van die bediening gebruik.