Vraebus
◼ Is dit gepas om die Genootskap se publikasies vir verspreiding aan ander te kopieer?
Die Genootskap het deur die jare heen ’n groot verskeidenheid publikasies uitgegee wat oor feitlik elke aspek van Bybelkennis handel. Persone wat in onlangse jare die waarheid leer ken het, meen dalk dat hulle nie die voordele geniet het van materiaal wat in die verlede uitgegee is en nie meer deur die Genootskap verkry kan word nie. Sommige het groot moeite gedoen om eksemplare van ouer publikasies in die hande te kry, en ander het dit op hulle geneem om kopieë van die Genootskap se publikasies te maak en dit op verskillende maniere beskikbaar te stel. Dit het behels dat hulle van die publikasies herdruk het asook rekenaarkopieë gemaak het. In sommige gevalle is dit uit winsbejag gedoen.
Die getroue “dienskneg” is bewus van ons geestelike behoeftes en voorsien geestelike voedsel “op tyd” (Matt. 24:45). Wanneer dit nodig was om materiaal wat in die verlede gedruk is weer uit te gee, het die Genootskap reëlings daarvoor getref. Die Watchtower-bundels van 1960 tot 1985 is byvoorbeeld herdruk en aan almal beskikbaar gestel. Maar wanneer individue die inisiatief neem om sulke materiaal self te kopieer en te versprei, kan dit tot onnodige probleme lei.
Ernstige probleme word geskep wanneer hierdie materiaal gekopieer en uit winsbejag versprei word. Die Vraebus in Ons Koninkryksdiens vir Julie 1977 het gesê: “Dit is dus die beste om nie teokratiese bande uit te buit deur die verkoop of advertering van enige goedere of dienste vir kommersiële voordeel in die Koninkryksaal, by die gemeenteboekstudies of by byeenkomste van Jehovah se volk op tou te sit nie. Dit sal ons help om aan geestelike belange die volle aandag te skenk wat hulle verdien en om handelsbedrywigheid op sy regte plek te hou.” Dit is derhalwe belangrik dat ons dit vermy om winsoogmerke te hê wanneer dit kom by die kommersialisering van God se Woord of sake wat daarmee verband hou.