Gaan terug om mense te leer hoe hulle vir ewig kan lewe
1 Sedert die Paradys op aarde-boek vrygestel is, is meer as 65 miljoen eksemplare in 115 tale gedruk. Baie wat nou dienaars van Jehovah is, het die basiese Bybelwaarhede deur middel van hierdie puik instrument geleer. Ons het moontlik vandeesmaand en volgende maand die geleentheid om hierdie Bybelstudiehulp vir mense aan te bied, of ons ontmoet dalk mense in die gebied wat dit reeds het.
2 Gaan terug na diegene wat die boek het: Party verkondigers het al goeie resultate behaal deur die belangstellende se aandag op die inhoudsopgawe te vestig en hom te vra watter onderwerp hy veral interessant vind. Wanneer die huisbewoner ’n onderwerp gekies het, kan jy voorstel dat hy voor die volgende besoek die hoofstuk in die boek lees.
3 As dit enigsins moontlik is, moet ons ’n definitiewe afspraak maak om terug te gaan. Voordat ons terugkeer, moet ons ’n paar paragrawe voorberei van die hoofstuk wat die huisbewoner gekies het. As hy nie een verkies nie, kan ons hoofstuk 1 begin bespreek. Nadat ons ’n paar paragrawe bespreek het, moet ons ’n vraag opper wat in die volgende paar paragrawe gedek sal word. Dit sal as ’n trapklip vir nog ’n herbesoek dien waartydens ons die studie van die Paradys op aarde-boek kan voortsit.
4 As die huisbewoner vrae het, is dit natuurlik beter om hulle eers te bespreek. Sy vrae word heel waarskynlik in die boek beantwoord. As ons met die inhoud van die boek bekend is, kan ons dalk na die gepaste paragrawe blaai en daardie materiaal gebruik om die vrae wat geopper is te beantwoord.
5 Gaan terug na diegene by wie ons ’n traktaat gelaat het: Miskien het ons die Vreedsame nuwe wêreld-traktaat by die huisbewoner gelaat. Wanneer ons teruggaan, kan ons die aanvangsparagrawe van die traktaat bespreek.
Wanneer ons aan die einde van die eerste paragraaf op bladsy 3 kom, waar Psalm 37:29 aangehaal word, kan ons sê:
◼ “Hierdie woorde beklemtoon wat in hierdie publikasie, Jy kan vir ewig in die paradys op aarde lewe, bespreek word. Let op die gedagte hier in paragraaf 3 van hoofstuk 1 onder die opskrif ‘Waarom ons dit kan glo’.” Ons kan dan paragraaf 3 lees, die gedrukte vraag daaroor vra en paragraaf 4 en 5 op dieselfde manier doen. Dan kan ons sê: “Waarom stem toestande vandag so min ooreen met God se voornemens? Die volgende paar paragrawe verduidelik dit, en ek sal graag dieselfde tyd volgende week wil terugkom en daardie vraag vir jou beantwoord.”
6 Om die “Paradys op aarde”-boek aan te bied, kan ons sê:
◼ “Ek is seker jy sal dit geniet om jou eie eksemplaar van hierdie publikasie te hê. Dan kan jy vooruit lees en dus meer nut uit ons volgende bespreking put.” Sê vir die huisbewoner dat jy graag die boek by hom wil laat vir ’n bydrae van R9,00 (kleiner uitgawe kos R4,50).
7 Om terug te gaan en mense te leer hoe hulle vir ewig kan lewe, is ’n baie belangrike werk. Jesus het sy volgelinge beveel om wat hulle geleer het aan ander te leer. Ons bid Jehovah om meer werkers uit te stuur. Laat ons dan ons deel doen om belangstellendes te vind en hulle te leer om medewerkers in die oes te wees.—Matt. 9:37; 28:19, 20.