Berei jou eie tydskrifaanbieding voor
1 Ons waardeer Die Wagtoring en Ontwaak! weens die tydige en leersame artikels wat hulle bevat, wat alles dek van wêreldkwessies tot “die diep dinge van God” (1 Kor. 2:10). Gedurende Oktober gaan ons intekeninge op albei hierdie tydskrifte aanbied. Ons almal kan terugdink aan talle nuwe en opbouende dinge wat ons gelees het in hierdie tydskrifte, wat Jehovah gebruik om die waarheid progressief te openbaar (Spr. 4:18). Ons wil ywerig wees om hulle die grootste moontlike verspreiding te gee.
2 Ontleed jou gebied: Watter soort mense woon in jou omgewing? As hulle ’n gejaagde lewe lei, moet jy dalk ’n aanbieding voorberei wat kort en saaklik is. Indien die mense in jou gebied ’n rustiger lewe lei, kan jy miskien meer sê. As die meeste huisbewoners gedurende die dag werk, sal jy dalk groter welslae behaal as jy hulle laat agtermiddag of vroegaand by die huis besoek. Jy kan gedurende die dag met party in aanraking kom deur straatgetuienis- of winkel-tot-winkel-werk. Sommige verkondigers behaal sukses deur mense onder informele omstandighede in parkeerterreine en stadsparke te nader.
3 Raak vertroud met die tydskrifte: Lees elke tydskrif sodra jy dit ontvang. Kies die artikels wat jy meen dalk by die mense in jou gebied ingang sal vind. Watter onderwerpe is vir hulle van belang? Soek ’n spesifieke punt wat jy kan aanhaal uit die artikel wat jy beoog om te gebruik. Dink aan ’n vraag wat jy kan stel om belangstelling te wek. Soek ’n gepaste teks uit wat jy vir die huisbewoner kan lees as jy die geleentheid kry. Dink aan wat jy kan sê om die grondslag vir ’n herbesoek te lê.
4 Berei jou openingswoorde voor: Beplan goed wat jy gaan sê wanneer jy jouself voorstel en ’n gesprek begin. Party het sukses behaal met hierdie inleiding: “Ek het ’n fassinerende artikel in hierdie tydskrif gelees, en ek wil ander graag daarvan vertel.” Baie begin met ’n vraag wat die aandag vestig op die gesprekspunt wat hulle beplan om te gebruik. Byvoorbeeld:
5 As jy die aandag vestig op ’n artikel oor die hoë voorkoms van misdaad kan jy vra:
◼ “Wat is nodig sodat ons snags kan slaap sonder die vrees om beroof of aangeval te word?” Verduidelik dat jy inligting oor ’n oplossing vir hierdie probleem het. Die oplossing sal binnekort ook alle ander maatskaplike probleme uit die weg ruim. Verwys na iets in die tydskrif wat hierdie hoop voorhou. Wanneer jy teruggaan, kan jy die huisbewoner se aandag vestig op hoofstuk 1 van die Kennis-boek.
6 Wanneer jy ’n artikel oor die gesinslewe aanbied, kan jy sê:
◼ “Die meeste ouers vind dat dit vandag werklik ’n uitdaging is om kinders groot te maak. Baie boeke is al oor die onderwerp geskryf, maar selfs die kenners verskil. Is daar enigiemand wat betroubare leiding kan voorsien?” Lees ’n spesifieke kommentaar uit die tydskrif wat toon watter wyse raad die Bybel bevat. Wanneer jy die herbesoek doen, kan jy die skriftuurlike gedagtes oor die grootmaak van kinders op bladsye 145-8 van die Kennis-boek bespreek.
7 Indien jy ’n artikel oor ’n maatskaplike probleem uitlig, kan jy sê:
◼ “Baie mense voel dat die spanningsvolle tye waarin ons lewe druk op hulle uitoefen. Dink jy dit was God se voorneme dat ons só lewe?” Vestig die aandag op ’n artikel wat toon hoe ons vandag se probleme die hoof kan bied of wat redes gee om na ’n kommervrye toekoms uit te sien. Met jou volgende besoek kan jy die illustrasie en byskrif op bladsye 4-5 van die Kennis-boek bespreek en dan direk oorgaan tot ’n tuisbybelstudie.
8 Pas aan by die huisbewoner: Jy sal mense met verskillende belange en agtergronde ontmoet. Berei ’n basiese aanbieding voor wat jy by elke huisbewoner kan aanpas. Dink aan hoe jy dit wat jy gaan sê, kan aanpas by ’n man, ’n vrou, ’n ouer persoon of ’n jongmens. Daar is geen vaste reëls vir wat jy moet sê nie. Gebruik enigiets waarmee jy gemaklik is en wat werk. Wees egter entoesiasties, praat in opregtheid en wees ’n goeie luisteraar. Diegene wat die “regte gesindheid” het, sal jou opregtheid aanvoel en sal gunstig reageer.—Hand. 13:48.
9 Help mekaar: Deur idees uit te wissel, leer ons nuwe maniere om ons gedagtes uit te druk. As ons ons aanbiedings saam oefen, doen ons ondervinding op en gee dit ons vertroue (Spr. 27:17). As jy dit wat jy gaan sê vooraf oefen, sal jy gemakliker by die deur voel. Dit is noodsaaklik dat ouers tyd opsy sit om hulle kinders te help voorberei, te luister terwyl hulle hulle aanbiedings oefen en wenke te gee om dit te verbeter. Nuwelinge kan daarby baat vind as hulle saam met bekwamer verkondigers werk.
10 Dit hoef nie moeilik te wees om jou eie tydskrifaanbieding voor te berei nie. ’n Mens moet eenvoudig iets spesifieks in gedagte hê om te sê en dit dan op ’n manier uitdruk wat die hart sal raak. Deur inisiatief aan die dag te lê en dit goed te deurdink, kan ’n mens ’n goeie aanbieding uitwerk wat ’n gunstige reaksie sal uitlok.
11 Tydskrifverspreiding is een van die vernaamste maniere waarop ons die Koninkryksboodskap wêreldwyd verkondig. As jy Die Wagtoring en Ontwaak! in die hande van opregte mense kan kry, kan die tydskrifte hulle eie praatwerk doen. Onthou te alle tye hoe waardevol hulle is en dat die boodskap daarin lewens kan red. Dit behaag Jehovah grootliks wanneer ons op hierdie manier ‘goed doen en mededeelsaam is’.—Heb. 13:16.