Gee ander die hoop op die ewige lewe
1 Hoewel die mens nog altyd na maniere gesoek het om die verouderingsproses te vertraag en om sy lewensduur te verleng, bly veroudering en die dood onafwendbaar. Hoe dankbaar is ons tog dat die Bybel verduidelik waarom mense oud word en sterf, asook hoe die aftakeling wat met veroudering gepaardgaan ongedaan gemaak en die dood vernietig gaan word. Hierdie waarhede word oortuigend aangebied in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Die boek gee duidelike antwoorde op ingewikkelde vrae oor die lewe en die dood en vestig die leser se aandag op die tyd wanneer die Paradys herstel gaan wees.
2 In Maart gaan ons die Kennis-boek aanbied met die doel om tuisbybelstudies te begin (Matt. 28:19, 20). Dan sal ons herbesoeke doen by almal wat belangstelling in die Koninkryksboodskap toon. Sodoende kan ons ander die hoop op die ewige lewe gee (Tit. 1:2). Om dit te kan doen, sal jy dalk die volgende wenke nuttig vind.
3 Wanneer jy iemand die eerste keer besoek, kan jy hierdie vraag opper:
◼ “Het jy al ooit gewonder waarom mense na ’n langer lewe smag? [Wag vir ’n antwoord.] Boeddhiste, Christene, Hindoes, Moslems en ander hoop almal op ’n lewe ná die dood.” Maak die Kennis-boek oop by hoofstuk 6, “Waarom word ons oud en sterf ons?”, en lees paragraaf 3. Bespreek die teksverwysings. Verwys na die twee vrae aan die einde van die paragraaf en vra die huisbewoner of hy self die antwoorde wil sien. As hy instem, kan jy ook die volgende paar paragrawe bespreek. En daar begin jy ’n studie! Bied die boek aan teen ’n bydrae van R4,00 en tref reëlings om terug te gaan, verkieslik binne ’n dag of twee, om die antwoorde te bespreek.
4 Wanneer jy teruggaan na iemand by wie jy die “Kennis”-boek gelaat het, kan jy sê:
◼ “Ek het teruggekom om die twee vrae oor die dood te bespreek wat ons nie verlede keer beantwoord het nie.” Herinner die huisbewoner aan die vrae. Bespreek dan die inligting in hoofstuk 6 onder die onderhofie “’n Bose komplot”. Na gelang van die omstandighede kan jy óf die studie voortsit óf die laaste vraag aan die einde van paragraaf 7 vra om die grondslag vir die volgende gesprek te lê. Tref definitiewe reëlings om terug te gaan. Gee vir die huisbewoner ’n strooibiljet en verduidelik kortliks hoe gemeentelike vergaderinge gehou word. Nooi hom hartlik uit om dit by te woon.
5 In deur-tot-deur-werk of informele getuieniswerk kan jy ’n gesprek aanknoop deur te sê:
◼ “Het jy al ooit gewonder wat die toekoms vir ons en vir die aarde inhou? [Wag vir ’n antwoord.] Die Bybel som die toekoms op in een woord—Paradys! Dit verduidelik dat God in die begin ’n deel van die aarde verander het in ’n pragtige paradys waarin hy die mensepaar geplaas het wat hy geskep het. Hulle moes die hele aarde bevolk en dit geleidelik in ’n paradys omskep. Luister na hierdie beskrywing van hoe dit moes gewees het.” Maak die Kennis-boek oop by bladsy 8 en lees paragraaf 9 onder die onderhofie “Die lewe in die Paradys”. Bespreek dan die gedagtes in paragraaf 10 en lees die teksverwysing, Jesaja 55:10, 11. Bied aan om die bespreking voort te sit van hoe die lewe in die herstelde Paradys sal wees en om paragrawe 11-16 saam te bespreek. Bied die boek aan teen ’n bydrae van R4,00. Moedig die persoon aan om dit op sy eie te lees, en reël om terug te gaan en dit te bespreek.
6 As jy nie tydens jou eerste besoek ’n studie begin het nie, kan jy probeer om dit tydens die herbesoek te doen deur te sê:
◼ “Soos ons verlede keer bespreek het, is dit God se voorneme dat die hele aarde in ’n paradys omskep moet word. Dit gee aanleiding tot die vraag: Hoe sal dit in die Paradys wees?” Maak die Kennis-boek oop by hoofstuk 1 en bestudeer paragrawe 11-16 onder die onderhofie “Die lewe in die herstelde Paradys”. Wys daarna vir die huisbewoner die prent op bladsye 4-5 en vra hom of hy daarvan sal hou om in so ’n pragtige omgewing te lewe. Lees dan die eerste sin van paragraaf 17 op bladsy 10. Na gelang van die omstandighede kan jy óf die studie voortsit óf sê dat jy met jou volgende besoek sal verduidelik wat van iemand verwag word as hy in die herstelde Paradys wil lewe. Gee vir die persoon ’n strooibiljet, verduidelik die vergaderingrooster en nooi hom hartlik uit om Koninkryksaal toe te kom.
7 Die Kennis-boek is ’n uitstekende instrument om aan ander “die ewige lewe” te openbaar wat God beloof het. Deur tuisbybelstudies met mense te hou, kan jy hulle hierdie wonderlike hoop gee wat geïnspireer is deur die God “wat nie kan lieg nie”.