Handhaaf voortreflike gedrag wat God verheerlik
1 Ongeag waar ons is, ons gedrag, kleredrag en persoonsversorging getuig van ons en die God wat ons aanbid. Dit word veral opvallend by groot samekomste van God se volk, waar baie mense ons sien. Wanneer ons voorbeeldig is, word Jehovah se naam verheerlik (1 Pet. 2:12). Maar die slegte gedrag of ondeurdagte optrede van net ’n paar kan God se naam en sy volk tot oneer strek (Pred. 9:18b). As ons in gedagte hou dat buitestanders ons organisasie en die God wat ons aanbid na gelang van ons gedrag oordeel, moet dit ons beweeg om nougeset “alles tot heerlikheid van God [te doen]”.—1 Kor. 10:31.
2 Voorbeeldige gedrag by hotelle en koshuise: In die meeste gevalle is personeel baie beïndruk deur hoe ordelik, goed gemanierd en netjies Jehovah se Getuies is. Een bestuurder het van die Getuiegesinne wat in sy hotel gebly het, gesê: “Die kinders van Jehovah se Getuies is die ordentlikste kinders wat ek nog gesien het! Hulle trek soos ware dames en here aan; hulle is beleef, hoflik en goed gemanierd en hulle het hoegenaamd geen probleme veroorsaak nie. Julle moet werklik gelukgewens word met julle jongmense. Ons het dit geniet om julle kinders hier te hê.” Kommentare soos hierdie is algemeen, want diegene wat met ons in aanraking kom, kan die liefde en respek sien wat daar onder Jehovah se volk heers.
3 Aan die ander kant toon opmerkings deur ander personeel dat daar steeds ’n probleem is met sommige wat nie op hulle gedrag let nie of wat die fasiliteite misbruik. Dit veroorsaak probleme en lok kritiek uit wat onnodig is. Sommige bestuurders kla dat kinders en tieners luidrugtig en wanordelik is en die swembad of ander ontspanningsfasiliteite sonder die toesig van hulle ouers gebruik.
4 Die meeste hotelle en koshuise het reëls wat gaste veronderstel is om te volg. Party broers het hierdie reëls verbreek deur te luidrugtig te wees of in hulle kamers te kook. Hotel- en koshuisbestuurders sê vir ons dat voedselvoorbereiding, waar dit nie toegelaat word nie, ’n algemene misbruik van hulle eiendom is. Nie alleen is die kamers beskadig nie, maar blywende reuke het dit ook onmoontlik gemaak om die kamers dae of weke daarna te verhuur. Tensy voedselvoorbereiding in die kamers spesifiek toegelaat word, moet dit nie gedoen word nie.
5 ’n Daadwerklike poging moet aangewend word om ten volle met die bestuur saam te werk. Ons wil beslis nie ’n ongunstige indruk van Jehovah se volk laat nie. As Christene moet ons te alle tye eerlik wees. Ons moenie linne of ander “aandenkings” van hotelle vat nie, aangesien dit diefstal is; ons moet ook nie oneerlik wees oor hoeveel mense ons van plan is om in ’n kamer te hê wanneer ons besprekings maak of wanneer ons inteken nie.
6 Gepaste voorkoms by die byeenkoms: Ongeag die soort fasiliteite wat gebruik word, ons moet dit gedurende die byeenkoms as ’n groot Koninkryksaal beskou. Gepaste kleredrag en persoonsversorging is net so belangrik soos wanneer ons die vergaderinge van ons plaaslike gemeente bywoon. Broers en susters moet dit vermy om gedurende en na afloop van die byeenkomssessies onbeskeie of ultramoderne uitrustings te dra, wat die gees van die wêreld weerspieël en dit moeilik maak om ons te herken as mense wat op ’n heilsame manier anders is. Susters moet noukeurig daarop let dat die styl en lengte van hulle rompe en rokke beskeie genoeg is (1 Tim. 2:9, 10). Volgens ’n byeenkomskomitee het ’n belangstellende die volgende opmerking gemaak: “Jehovah se volk is goeie mense. Hulle leerstellings is die waarheid, maar hulle susters se rokke is nie so beskeie soos die Apostolies s’n nie.” Die komitee het gesê “die onderliggende probleem is dat die gesinne van sommige ouer manne ’n swak voorbeeld stel”. ’n Ander byeenkomskomitee het laat weet: “Ons was baie bly om te sien dat die meeste susters op ’n Christelike manier geklee was. Dit was egter skokkend dat daar steeds susters was in baie kort rompe of rokke met splete amper tot by die heup.” Om hierdie neigings teë te werk, sal dit goed wees as gesinne in ’n gesinstudie die onderwerp van gepaste kleredrag kan bespreek. Hetsy ons die byeenkoms bywoon, in ’n hotel of koshuis bly, in ’n restaurant eet of inkopies by ’n winkel doen, ons moet te alle tye weerspieël dat ons God se bedienaars is en geen aanleiding tot struikeling gee nie.—2 Kor. 6:3.
7 Die doop sal Saterdagoggend by die byeenkoms gehou word. Die Wagtoring van 1 April 1995, bladsy 30, beskryf die gesindheid wat ons by hierdie geleentheid moet openbaar. Dit sê dat ons “die doop met gepaste erns [moet] beskou. Dit is nie ’n tyd vir lawaai, vir partytjies of vir uitgelatenheid nie. Maar dit is ook nie ’n somber tyd nie.” Dit sal uiters onvanpas wees vir diegene wat gedoop word om skraps of onbeskeie baaikostuums te dra, of hulle nou mans of vroue is. Almal moet dus die erns asook die vreugde van Christelike doop weerspieël.
8 Petrus herinner ons aan “watter soort mense [ons] behoort . . . te wees in heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid” (2 Pet. 3:11). Mag ons woorde en dade by die “Daders van God se Woord”-streekbyeenkoms waarnemers wat opreg van hart is, help om ons groot God, wat alle eer en heerlikheid waardig is, te ken en te aanbid.—1 Kor. 14:24, 25.