Kan jy ’n helpende hand bied?
1 Jehovah soek altyd na maniere om sy lojale knegte te help (2 Kron. 16:9; Jes. 41:10, 13). Jesaja het hom met ’n liefdevolle herder vergelyk en geskryf: “Met sy arm sal hy die lammers bymekaarbring; en in sy boesem sal hy hulle dra. Dié wat soog, sal hy met sorg lei” (Jes. 40:11). Kyk na ’n paar maniere waarop ons Jehovah se liefdevolle besorgdheid kan navolg.
2 Help nuwelinge: Ons kan ’n helpende hand bied deur nuwelinge te nooi om saam met ons opbouende omgang te geniet (Spr. 13:20). ’n Broer het vertel hoe ander hom gehelp het toe hy met die gemeente begin omgaan het en het gesê: “’n Gesin het my dikwels by hulle gesinstudie ingesluit. Ek het vooruitgang gemaak, en ’n jong pionieregpaar het my gereeld genooi om die hele dag saam met hulle in die bediening deur te bring. Ons het altyd aangename geestelike gesprekke gehad.” Hy het bygevoeg: “Voordat ek ’n Christen geword het, het ek gewoonlik op Vrydag- en Saterdagaande uitgegaan. Maar die tyd wat ek saam met die broers deurgebring het, het in my behoefte aan omgang voorsien.” Die liefdevolle belangstelling van die gemeente het hierdie broer gehelp om goed gewortel en standvastig gemaak te word in die geloof, en hy dien nou as ’n lid van die Bethelgesin.—Kol 2:6, 7.
3 Bou mekaar op: Ons sien dalk ’n geleentheid om ’n helpende hand te bied wanneer ons broers met moeilike omstandighede te kampe het. Kan jy reël om saam met ’n verkondiger met gesondheidsprobleme telefoongetuieniswerk te doen of hom nooi om saam met jou na ’n Bybelstudie toe te gaan, miskien selfs die student na sy huis toe bring? Sal ’n ouer met klein kindertjies ’n helpende hand waardeer wanneer hy of sy aan die bediening deelneem? Is daar skugter persone wat jou hulp sal verwelkom wanneer hulle herbesoeke doen of aan ’n ander aspek van die bediening deelneem? Liefdevolle belangstelling in ons broers sal ons beweeg om na maniere te soek om hulle op te bou.—Rom. 14:19.
4 Wanneer ons Jehovah se tere besorgdheid oor sy knegte navolg, versterk ons mekaar, help ons die gemeente om in liefde nader aan mekaar te kom en verheerlik ons ons hemelse Vader.—Ef. 4:16.