Volg Christus na in jou bediening
1 Jesus het die voorbeeld gestel wat ons in ons bediening moet navolg. Hy het sy hartgrondige liefde vir God en vir mense by baie geleenthede en op baie maniere getoon. Hy het sagmoediges die waarheid geleer en dade van liefderyke goedhartigheid ten behoewe van die geteisterdes en die verdruktes verrig.—Matt. 9:35.
2 Jesus se voorbeeld en leringe: Jesus het nie toegelaat dat sy aandag afgelei word deur betrokke te raak by politieke aangeleenthede of by blote humanitêre pogings om die gemeenskap te verbeter nie. Hy het ook nie toegelaat dat enige ander goedbedoelde strewes sy aandag aflei of die voorkeur geniet bo sy vernaamste werk nie (Luk. 8:1). Hy het hom toegespits op die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk as die enigste permanente oplossing vir die mensdom se probleme. Jesus het ’n groot werk gehad om te doen en sy tyd daarvoor was beperk. Toe mense in Kapernaum wou hê dat Jesus daar moes bly, het hy vir sy dissipels gesê: “Laat ons êrens anders heen gaan . . . sodat ek ook daar kan preek, want daarvoor het ek uitgegaan.”—Mark. 1:38.
3 Nadat Jesus sy dissipels opgelei het, het hy hulle met hierdie spesifieke instruksies uitgestuur: “Preek en sê: ‘Die koninkryk van die hemele het naby gekom’” (Matt. 10:7). Hy het sy volgelinge geleer dat Koninkryksbelange voorkeur in hulle lewe moet geniet (Matt. 6:33). Jesus se afskeidswoorde aan sy dissipels voordat hy na die hemel opgevaar het, het duidelik getoon wat hulle moes doen. Hy het gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.”—Matt. 28:19.
4 Belangrikheid van die Koninkryk: Die vernaamste onderwerp waaroor Jesus gepraat het, was God se Koninkryk, en hy het sy dissipels aangespoor om sy voorbeeld na te volg. Mensepogings om die wêreld se probleme op te los, kan nie slaag nie (Jer. 10:23). Net God se Koninkryk sal God se naam heilig en blywende verligting vir die mensdom bring (Matt. 6:9, 10). Wanneer ons Koninkrykswaarhede aan mense leer wat “sug en steun oor al die verfoeilike dinge wat . . . gedoen word”, help dit hulle om nou ’n gelukkige, suksesvolle lewe te lei en om aan ’n betroubare hoop vir die toekoms vas te hou.—Eseg. 9:4.
5 Jesus is nog steeds betrokke by die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk, en hy verseker ons van sy ondersteuning (Matt. 28:20). Tot watter mate volg ons in ons bediening die voorbeeld na wat Jesus vir ons gestel het? (1 Pet. 2:21). Mag ons in hierdie betekenisvolle laaste dae alles in ons vermoë doen om die voorbeeld wat Jesus in die bediening gestel het, noukeurig na te volg!