Ons beskou die wêreld
WÊRELDGESONDHEIDS- VERSLAG
Twintig persent van die wêreld se bevolking—ongeveer ’n miljard mense—ondervind ernstige gesondheidsprobleme, aldus die jongste Verslag oor Wêreldgesondheid wat deur die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) uitgegee is. Die ernstigste is kindersiektes, asemhalingsinfeksies, diarreale siektes, seksueel oorgedraagde siektes (waaronder Vigs), tuberkulose, skistosomiase en malaria. Die grootste gesondheidsprobleme word glo gevind in die nasies van Afrika besuide die Sahara, waar 160 miljoen mense aan Vigs, parasitêre siektes, malaria en ander kwale ly; en in suidelike en oostelike Asië, waar 40 persent van die bevolking, ongeveer 500 miljoen mense, weens siekte en wanvoeding ly. Talle is vasgevang in ’n dieper wordende maalgat waarin armoede verantwoordelik is vir siekte wat op sy beurt toenemende armoede en siekte tot gevolg het. Gesondheidsuitgawes in die armer lande is jaarliks gemiddeld minder as R13 per persoon. Volgens dr. Hirosji Nakajima, direkteur-generaal van die WGO, sal immunisasie en geslaagde behandeling met geneesmiddels vir die meeste van die siektes moontlik wees as hierdie bedrag met net R5,20 per persoon vermeerder word.
POUS STEUN GALILEI
“Pous Johannes Paulus II het erken dat dit ‘onverstandig’ van die Rooms-Katolieke Kerk was om Galilei te veroordeel omdat hy beweer het dat die aarde nie die middelpunt van die heelal was nie”, berig The Christian Century. Galilei is in 1633 deur die kerk veroordeel omdat hy die Copernicaanse beskouing voorgestaan het dat die son, en nie die aarde nie, die middelpunt van die heelal is. Ietwat laat, in 1979, is ’n kommissie deur die pous aangestel om die saak te ondersoek. In 1984 het die aanvanklike verslag gesê dat Galilei verkeerdelik veroordeel is. Die pous het in Pisa, die wetenskaplike se geboorteplek en die plek waar hy sy beroemde eksperimente oor swaartekrag uitgevoer het, ’n toespraak gehou en Galilei se werk erken as “’n noodsaaklike stadium in die metodologie van navorsing . . . en in die weg tot begrip van die natuurwêreld”.
BESLUITNEMING
Wanneer neem jy jou beste besluite—wanneer jy staan of wanneer jy sit? Volgens ’n studie wat deur die Universiteit van Suid-Kalifornië gedoen is, “neem mense wat onder druk verkeer moeilike besluite ongeveer 20% vinniger as hulle staan pleks van sit”, berig die tydskrif American Health. Die studie het ’n reeks vrae behels wat op ’n rekenaarmonitor geflits is, terwyl die deelnemers eers in ’n sittende en dan in ’n staande posisie daarop moes reageer. Die staande posisie het die beste resultate gelewer. Ouer persone wat gewoonlik sit, het die meeste verbeter toe hulle besluite geneem het onderwyl hulle gestaan het. Dit is nie verbasend nie, want die hartklop neem met ongeveer tien slae per minuut toe wanneer jy staan en voorsien sodoende stimulasie aan die “breinareas wat opwekking beheer”. Sittende kantoorwerkers word aangeraai om gereeld gedurende die werkdag op te staan en hulle uit te rek.
VIGS VIA BLOEDTOEVOER
Tot 40 persent van die Sowjetunie se Vigs-slagoffers het die virus deur besmette bloed opgedoen, berig The Toronto Star. Valentin Pokrowski, hoof van die Sowjetakademie van Geneeskunde, het die situasie “uiters onrusbarend” genoem en erken: “Ons het ’n onaanvaarbaar hoë persentasie gevalle van die Vigs-virus wat gedurende ’n operasie via die bloed oorgedra word.” In die suidelike stede Elista en Wolgograd is die uitbreek van Vigs teruggespoor tot besmette naalde wat in hospitale gebruik is. Ten minste 81 kinders is daar met die virus besmet.
NATUURLIKE BOERDERYMETODES AANGEMOEDIG
“Die National Academy of Sciences het gevind dat boere wat min of geen chemikalieë op hulle gewasse gebruik net so produktief kan wees soos diegene wat plaagdoders en kunsmatige messtowwe gebruik”, berig The New York Times. “Die studie deur die land se hoogs aangeskrewe groep wetenskaplikes is waarskynlik die belangrikste bevestiging van die welslae van landboumetodes wat biologiese wisselwerking pleks van chemikalieë gebruik.” Tot onlangs is boere geleer om groot hoeveelhede chemiese messtowwe en plaagdoders te gebruik om die grootste oesopbrengste te lewer, en natuurlike boerderymetodes is as minderwaardig beskou. Maar namate insekte en onkruid weerstand teen die chemikalieë opgebou het, het boere al hoe meer chemikalieë gebruik en daardeur die gevaar vir die mens se gesondheid vergroot. Die studie het getoon dat boere dikwels hul opbrengste kon vermeerder en uitgawes kon verminder, asook die omgewing kon bewaar, deur gewasse af te wissel en ’n veelsydige stelsel vir gewasse en lewende hawe te gebruik. Die natuurlike metodes het egter meer werk geverg.
“‘ICE’”-BEDREIGING
“Selfs terwyl die VSA ’n stryd voer teen crackkokaïen”, sê die tydskrif Time, “het ’n ysingwekkender dwelm sy verskyning gemaak: ‘ice’.” Soos crack is ice nie ’n nuwe dwelm nie. Dit is gekristalliseerde metamfetamien wat gerook kan word en sedert die sestigerjare as speed bekendstaan. Soos crack is dit verslawend en lei dit ook tot swaar depressie, paranoia en stuiptrekkings. Maar terwyl die bedwelming wat deur crack veroorsaak word minder as 30 minute duur, duur dié wat deur ice veroorsaak word agt uur of langer. Ice, wat reeds die grootste dwelmprobleem in Hawaii is, “neem dwarsdeur die VSA ernstige afmetings aan”, sê Time.
BESORGDHEID OOR MIKROGOLFKOKERY
Kos wat in mikrogolfoonde geplaas word, word gebombardeer met hoë-energie-strale wat die kos se watermolekules in stoom verander en sodoende die kos vinnig verhit. Hoër veiligheidstandaarde en beter ontwerp het die gevaar van stralinglekkasie verminder. “Tog hou mikrogolfoonde veiligheidsprobleme in wat gewone oonde nie inhou nie”, sê ’n artikel in The New York Times. Een vraag is of die kos altyd deeglik genoeg gaargemaak word om die skadelike organismes dood te maak wat dalk daarin voorkom, soos trigine in vark en salmonella in hoender. Die probleem is gedeeltelik dat mikrogolfoonde kos oneweredig verhit, met sommige dele half rou terwyl ander dele goed gaar is, en dat die lug in die oond dalk te koel is om organismes bo-op die kos dood te maak. Nog ’n vraag is of dit veilig is om plastiek in die oonde te gebruik, aangesien die plastiseermiddel wat in sommige omhulsels gebruik word deur die kos geabsorbeer kan word, veral as die plastiek daaraan raak. Die meeste van die probleme word glo opgelos as kookriglyne streng nagevolg word.
AËROSOL WAT OSOON NIE VERNIETIG NIE
’n Uitvinder in Tasmanië, Australië se eilandstaat, het ’n aërosoltoestel vervaardig wat nie met chloorfluoorkoolstowwe of koolwaterstowwe, albei gevaarlik vir die aarde se osoonlaag, werk nie. In plaas daarvan werk sy aërosol met stikstof, wat vier vyfdes van die atmosfeer uitmaak. Buiten die feit dat dit maklik verkrygbaar is, is die koste verbonde aan die gebruik van stikstof laag, en die gas keer ná gebruik onskadelik na die atmosfeer terug. Stikstof is voorheen nie as ’n dryfgas oorweeg nie omdat dit te duur sou wees om die spuitkannetjies te versterk sodat genoeg van die gas daarin gespuit kon word. Die uitvinder het dit oorkom, berig die koerant The Australian, deur ’n gassilindertjie te gebruik wat aan ’n spesiaal ontwerpte klep binne-in die kannetjie gekoppel is. Die ontwerp het net een bewegende deel, sal nie brand of ontplof nie en voldoen glo aan alle wêreldstandaarde vir spuitkannetjies. Daar word verwag dat dit teen vroeg volgende jaar op die mark sal wees.
AARDBEWINGSINDROOM
Aardbewings veroorsaak stres onder mense sowel as diere. Verlede somer, toe duisende groot en klein skuddings Itō, Japan, getref het, het talle mense begin kla oor spysverteringskwale, diarree en, in die besonder, slaaploosheid. Dokters was “huiwerig om ’n vol dosis kalmeermiddels voor te skryf, omdat hulle gevrees het dat hulle pasiënte dalk nie sal wakker word indien die reeks skuddings weer voorkom nie”, het The Daily Yomiuri verduidelik. Dierehospitale in Itō het berig dat plaaslike troeteldiere ook aan die aardbewingsindroom gely het: droë pelse, haarverlies, jeukerigheid, vomering, geen eetlus nie, leweloosheid en koors—alles simptome van stres.
OPNAME OOR WILDERNISSE IN DIE WÊRELD
Hoeveel van die wêreld is nog wildernis, betreklik onaangeraak deur die mens? Sowat ’n derde van die planeet se landmassa—ongeveer 48,07 miljoen vierkante kilometer—sê omgewingsbeleidontleder J. Michael McCloskey en geograaf Heather Spalding, wat die saak 18 maande lank nagevors het. Hulle het lugvaartkaarte aandagtig bestudeer en “streke geïgnoreer wat paaie, nedersettings, geboue, lughawes, treinspore, pypleidings, kragdrade, damme, reservoirs en oliebronne getoon het”, sê Science News. Hulle het ook “hulle opname beperk tot landstreke wat ten minste [405-000 hektaar] was”. Bo-aan die lys is Antarktika, wat ’n algehele wildernis is. Dan kom Noord-Amerika (37,5 persent); die Sowjetunie (33,6 persent); Australasië, wat die suidwestelike eilande in die Stille Suidsee insluit (27,9 persent); Afrika (27,5 persent); Suid-Amerika (20,8 persent); Asië (13,6 persent) en Europa (2,8 persent). Minder as 20 persent van die wêreld se wildernisgebiede word deur die wet teen uitbuiting beskerm.