Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 5/8 bl. 13-17
  • Die Maja-ruïnes—verlate oorblyfsels uit ’n vervloë era

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Maja-ruïnes—verlate oorblyfsels uit ’n vervloë era
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die klassieke tydperk
  • Maja-steles
  • Klassieke Tikal
  • Die einde van die klassieke tydperk
  • Die Majas—Destyds en vandag
    Ontwaak!—2001
  • Ware vryheid vir die Majas
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Die merkwaardige Maja-kalender
    Ontwaak!—2005
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 5/8 bl. 13-17

Die Maja-ruïnes​—verlate oorblyfsels uit ’n vervloë era

Deur Ontwaak!-medewerker in Guatemala

VAN die warm, halfdorre vlaktes van die Mexikaanse Yucatán tot die geil, immergroen reënwoude van Guatemala en Belize en selfs tot in die warm valleie van El Salvador en Honduras in Sentraal-Amerika word ’n oneweredige mosaïek van gedeeltelik gerestoureerde Maja-ruïnes aangetref. Hulle is verlate oorblyfsels uit ’n vervloë era van toringhoë tempels en indrukwekkende paleise wat kunstig ontwerp en versier is. Hierdie bouwerk, eens die wonder van hulle wêreld en nou ’n fassinerende argeologiese raaisel, herinner aan ’n praal wat vir ewig verdwyn het.

Wat het die Maja-beskawing, wat meer as 2000 jaar gelede bestaan het, so buitengewoon gemaak? Ondanks die algehele afwesigheid van voertuie met wiele, metaalgereedskap, pakdiere en die sluitsteengewelf en met die probleem van ’n immer uitbreidende reënwoud, het die Majas daarin geslaag om die grootste pre-Columbiaansea Indiaanbeskawing op te bou wat tot nog toe op die Noord-Amerikaanse vasteland ontdek is. “Hulle het ook ’n skryfstelsel vervolmaak—die enigste skryfstelsel wat ooit in die Amerikas ontwikkel is—en het merkwaardige vooruitgang in die wiskunde en astronomie gemaak”, het die tydskrif Smithsonian gesê. “Hierdie mense het die nuttige konsep van nul uitgedink en hulle het ’n kalender gehad waarmee hulle taamlik noukeurige berekeninge van planetêre en hemelsiklusse kon maak.”

Die klassieke tydperk

Die Majas het voortdurend probeer om tyd te meet en op te teken en hulle grootste prestasies was op hierdie gebied. Gedurende hulle klassieke tydperk, van 250 G.J. tot 900 G.J., het hulle die tropiese jaar suksesvol gemeet en sons- en maansverduisteringe, asook Venus se omlope in verhouding tot die son, akkuraat voorspel.

Maja-geleerdes en -skrywers het verslae gehou op papier gemaak van die wildevyeboom se binneste bas wat fyngestamp en met kalk bestryk is. Hulle skrif, ’n mengsel van fonetiese simbole wat klankeenhede voorgestel het en ideogramme wat woorde aangedui het, is een van die vyf basiese skryfstelsels wat deur die mens ontwikkel is. The New Encyclopædia Britannica sê dat die Majas se ontdekking van posisionele nummering en die nul as “een van die briljantste prestasies van die menseverstand” beskou kan word. Die geskiedenis toon dat net twee ander beskawings, die Hindoe- en die Arabiese beskawing, die wiskundige konsep van die nulgetal ontwikkel het.

Hoewel dit verstommende prestasies was, plaas argeoloog Michael D. Coe die saak in perspektief in sy boek The Maya: “Maar ’n mens moenie oordryf nie. Die wetenskap soos ons dit nou ken, was nie aanwesig nie. Ons vind in die plek daarvan, soos met die Mesopotamiese beskawings, ’n kombinasie van redelik akkurate astronomiese gegewens en blote numerologie, wat deur priesters vir godsdiensdoeleindes ontwikkel is.”

Die Majas, met ’n bevolkingshoogtepunt van sowat 3 000 000 in ’n stuk of 40 stede waarvan elkeen ’n bevolking van oor die 20 000 gehad het, het indrukwekkende piramides en tempels gebou. Hoewel hulle nie voertuie met wiele gehad het nie, het hulle ontsaglike hoeveelhede klip vir hierdie geboue vervoer en die blokke gevorm deur middel van harder klip, skuurtou, vulkaniese glas en ander natuurlike stowwe. Hulle goed ontwerpte geboue het, anders as die ronde sluitsteengewelwe van die Romeinse argitektuur, gebruik gemaak van die korbeelgewelf—gevorm deur opeenvolgende lae messelwerk aan albei kante van ’n opening wat met elke laag effens meer na binne uitsteek totdat dit bo deur ’n dekklip aanmekaar geheg is. Die mure van geboue was ryklik versier met beeldhouwerk en hiërogliewe. Die klassieke tydperk is boonop gekenmerk deur die maak van veelkleurige erdewerk en die oprigting van steles, regop plat klippe waarop buitengewone gebeurtenisse opgeteken is.

Maja-steles

Sedert die vroegste tye strewe die mens daarna om sy naam en prestasies op onverganklike stowwe, soos klei en klip, vir die nageslag op te teken, soos die beroemde Naboniduskroniek van vergange Babilon en die Rosetta-steen van eertydse Egipte bewys. Die Majas was geen uitsondering nie. Ten minste duisend klippilare, of steles, van verskillende vorms en groottes, met ’n gemiddelde hoogte van 2,5 tot 3 meter is ontdek. Daar word nou besef dat die steles monumente ter ere van Maja-heersers is—’n kroniek van hulle regeringstydperke en geskiedenis. Die 86 steles wat in Tikal, Guatemala, gevind is, herinner ’n mens aan kolossale grafstene. Net 21 daarvan is gegraveer, en toon oor die algemeen in vlak reliëf, ’n swierig geklede figuur wat na links kyk, ’n septer swaai en gevangenes vertrap.

Een van die raaisels wat Majaniste nog altyd dronkslaan, is die uitleg van die Majas se hiëroglifiese skrif wat as gliewe bekendstaan. Hoeveel daarvan is ontsyfer? “Ek dink ons kan nou omtrent 75 persent van die gliewe op die monumente lees”, sê Maja-geleerde David Stuart. “En hieruit blyk dit dat die Majas hoofsaaklik daarin belanggestel het om verslag te hou van die stamboom van hulle heersers, wanneer hulle aan die bewind gekom het, hoeveel hulle in oorloë gevange geneem het en wanneer hulle rituele bloedlatingseremonies gehou en offerandes gebring het.”

Drie betekenisvolle deurbrake, kort na mekaar, het met die ontsyfering gehelp. Die eerste was in 1958 toe epigravis Heinrich Berlin bewys het dat die monumente “Embleemgliewe” bevat wat òf die Maja-stede identifiseer waar die monumente gevind is, òf die Maja-dinastieë wat daaroor geheers het.

Die tweede deurbraak was in 1959 toe Majanis Tatiana Proskouriakoff ’n skakel ontdek het vir 35 gedateerde monoliete in Piedras Negras—doelbewus in sewe groepe opgerig—en die feit dat nie een van die sewe groepe ’n tydsduur van meer as ’n gemiddelde leeftyd gedek het nie. Elke groep beeld ware gebeure in ’n volledige regeringstydperk uit. Ten slotte is daar bewys dat die hiërogliewe ’n skryfstelsel met fonetiese simbole en grammatikale strukture voorstel.

Daar is moontlik nêrens in die Maja-gebied sulke kunstige steles soos in die pragtige Copan-ruïnes van westelike Honduras nie. Binne die omtrek van hierdie elegante Maja-sentrum is daar talle kunstig gegraveerde monoliete van groenerige vulkaniese tufsteen wat tragiet genoem word—sag wanneer dit uitgegrawe word, maar dit verhard geleidelik wanneer dit aan die elemente blootgestel word. Dit was beter as die kalksteen van Tikal en het groter moontlikhede aan die beeldhouer verleen, soos blyk uit die drie-dimensionele effek wat verkry is.

Vir party is die mooiste gliewe dié in sonderlinge Quirigua—’n klein, rustige Maja-sentrum sowat 50 kilometer noord van Copan in Guatemala se piesangwêreld, vroeër ’n reënwoud. Hoewel die tempelkompleks onbeduidend is, is die 12 sandsteensteles ’n heeltemal ander saak. Stele “E”, wat 65 ton weeg, is die grootste Maja-monument; dit is 11 meter hoog, 1,5 meter wyd en 1,3 meter dik.

Klassieke Tikal

Diep verborge in die Peténwoud in noordelike Guatemala lê Tikal, die grootste klassieke Maja-sentrum wat tot op hede ontdek is. Die hartjie van hierdie stad van 130 vierkante kilometer dek omtrent 16 vierkante kilometer, en daarin word oor die 3000 bouwerke aangetref wat wissel van nederige huise tot hoë, ziggoeratagtige tempels. Die hoogste, Tempel IV, die imposante Tempel van die Tweekoppige Slang, is 65 meter hoog. Die kern van Tikal is die Groot Plaza van een hektaar, met Tempel I, die Tempel van die Reusagtige Jaguar, aan die oostekant en Tempel II, die Tempel van die Maskers, aan die westekant.

Wat was die doel van hierdie tempels? Hoewel daar nog onsekerheid in hierdie verband is, het Maja-argeoloog Edwin M. Shookb aan Ontwaak! gesê: “Hierdie was tempels in die godsdienstige sin en hulle was met daardie doel gebou. ’n Bykomstige gebruik was om ’n individu te vereer deur sy oorskot in so ’n ereplek te plaas. Byvoorbeeld, Westminster-abdy is nie gebou as ’n begraafplek van mense nie. Maar die Britte vereer hulle helde deur hulle in Westminster-abdy te begrawe. Dit is presies wat ’n mens in die hele Maja-stelsel vind. Daar is min uitsonderings.” Dit was Shook wat Tikal se vernaamste straatweë ontdek en hulle na vroeëre ontdekkingsreisigers vernoem het—Mendez, Maudslay, Maler en Tozzer.

Aan die ander twee kante van die Groot Plaza is die Noordelike en Sentrale Sitadelle, wat vermoedelik paleise en administratiewe geboue was. Naby die Suidelike Sitadel is die Drievoudige Balbaan wat eens weergalm het van die swaar gebons van ’n rubberbal wat deur spelers in skutklere gedeflekteer is. Aangesien Tikal geleë is op ’n poreuse kalksteenbasis waardeur kosbare reënwater maklik sypel, moes die Majas etlike opvangdamme bou, waarvan sommige oorspronklik kalksteengroewe was. Hierdie tenks was met ’n spesiale klei uitgevoer om deursypeling te voorkom. Die Suidelike Sitadel, die Oostelike en Westelike Plazas, die Plaza van die Sewe Tempels, die Sentrale Mark, die vier vernaamste straatweë wat vir godsdiensoptogte gebruik is, en die Verlore Wêreld-kompleks—wat onlangs deur Guatemalaanse argeoloë gerestoureer is—is die bakens wat die oorblyfsels van Tikal vorm.

Die einde van die klassieke tydperk

Wat het die klassieke tydperk aan sy einde gebring? Die teorieë is legio, maar niemand weet werklik nie. Wat wel bekend is, is dat die oprigting van gedateerde steles, paleise en openbare geboue skielik opgehou het. Die laaste stele in Tikal dateer van 869 G.J. Die bevolking het die groot Maja-stadsentrums verlaat en in klein, verspreide landboudorpies gaan woon. Die woud, wat vroeër in bedwang gehou is, het nou vorentoe gedring. Boompies het in die hoekies en gaatjies van die gasheergeboue wortel geskiet en groot bome geword. Hulle wortels, nou etlike meters in omtrek, het hoeke gekraak, kalksteenblokke gebreek, mure verswak en korbeelgewelwe vergruis het. Tikal en sy susterterreine is van die buitewêreld verberg en het verlate en vergete in die woud se verwurgende omhelsing gelê.

Sou geskrifte van die Majas nie ’n bietjie lig op hierdie kultuur gewerp het nie? Dit sou moontlik, as dit nie vir die 16de-eeuse Spaanse veroweraars was nie. “Diego de Landa, eerste biskop van Yucatán, het in ’n aanvangsvlaag van Katolieke ywer die raaisel vergroot deur alle bewyse van Maja-kultuur te probeer uitwis”, sê Smithsonian. “Hy het baie van die kodekse verbrand, die inboorlingboeke op baspapier (sover bekend het net vier van die Maja-kodekse tot vandag toe behoue gebly) wat sake moontlik kon opgehelder en baie latere verwarring kon verhoed het.”

Gevolglik is die Maja-wêreld se mosaïek van gedeeltelik gerestoureerde ruïnes in Sentraal-Amerika steeds ’n argeologiese raaisel van ons wêreld. Stilswyend bly hierdie ruïnes staan, verlate oorblyfsels uit ’n vervloë era.

[Voetnote]

a Voor Christopher Columbus (1451-1506).

b Veldleier vir die grootste deel van die 14-jarige Tikal-restourasieprojek van die Universiteit van Pennsilvanië wat in 1956 begin is.

[Prent op bladsy 15]

El Castillo, grootste van sewe Maja-strukture in Chichen Itzá, Yucatán, Mexiko

[Prent op bladsy 16]

Piramide-tempel (sewende eeu G.J.), die Groot Plaza, Tikal, Guatemala

[Prente op bladsy 17]

’n Outydse balspel is in hierdie binnehof in Copan, Honduras, gespeel

[Erkenning]

Instituto Hondureño de Antropologia e Historia

’n Chac-mool op die voorgrond wat moontlik menseharte ontvang het; Stryderstempel, Chichen Itzá, Yucatán, Mexiko

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel