Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 6/22 bl. 10-11
  • Ontmoet die tapir

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontmoet die tapir
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voortbestaan bedreig
  • Die Westelike Halfrond se “koning van die oerwoud”
    Ontwaak!—2010
  • Die skuwe oerwoudkat
    Ontwaak!—1990
  • Bolivia se “verlore wêreld”
    Ontwaak!—2009
  • Sout—iets waardevols
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 6/22 bl. 10-11

Ontmoet die tapir

Deur Ontwaak!-medewerker in Brasilië

HEEL waarskynlik het jy nog nie die tapir ontmoet nie, want hierdie saggeaarde dier word net in afgeleë plekke in Midde- en Suid-Amerika en in die suidelike dele van Asië gevind. Die tapir is ongeveer so groot soos ’n donkie, maar met sy kort bene lyk hy meer soos ’n vark. Een soöloog het al gesê dat die kleintjies na “gestreepte waatlemoene met bene” lyk.

Tapirs bereik ’n lengte wat wissel van 1,8 tot 2,4 meter en ’n hoogte van 0,8 tot ’n bietjie meer as 0,9 meter, en hulle weeg tussen 230 en 290 kilogram. Hulle stewige liggame het ’n dik nek en kort stert. Die oë is klein en hulle sien sleg. Die snoet is uitgerek en vorm ’n kort beweegbare slurp wat ’n nuttige orgaan is om kos mee te soek. “Van al die groot diere van die wêreld”, sê The International Wildlife Encyclopedia, “is hulle waarskynlik die weerloosstes.”

Gewoonlik sal die skugter dier in die digste dele van die woud bly en sodoende potensiële vyande, soos die jaguar of tier, vermy. Wanneer ’n jaguar op ’n tapir se rug spring, hardloop die tapir glo onmiddellik in die digte kreupelbos van die oerwoud in. Die jaguar word sodoende deur die digte kreupelhout van die oerwoud afgeruk. Weens sy dik vel, wat vinnig genees, word die tapir gewoonlik nie dodelik verwond nie.

Tapirs lewe altyd naby ’n rivier of meer, en baie van hulle tyd word bestee aan swem en plassery in die water en rondrollery in die modder. Dit koel hulle af in die hitte en beskerm hulle teen die ergerlike insekte wat volop in die trope is. Ondanks hulle swaar liggaam kan hulle, indien nodig, vinnig hardloop. Hulle sterk, soliede liggaam met sy kort nek is uiters geskik vir hulle omgewing en stel hulle in staat om maklik deur die digte plantegroei te beweeg.

Drie tapirspesies—die Baird-, Brasiliaanse en bergspesie—word in Suid- en Midde-Amerika aangetref, terwyl die Maleise tapir se tuiste in Suidoos-Asië is. Fossiele wat in Europa, China en die Verenigde State gevind is, staaf die feit dat tapirs eens dwarsdeur die wêreld voorgekom het.

Tapirs is gewoonlik asosiale diere. Hulle lewe alleen of in pare en dit is selde dat meer as drie van hulle saam gesien word, behalwe in dieretuine. Selfs daar skenk hulle nie veel aandag aan mekaar nie. Hulle is planteters wat uitsluitlik landplante wat na aan die grond groei of waterplante eet. Hulle is besonder lief vir sout en sal lang afstande aflê om by ’n soutlekplek uit te kom. Tapirs is hoofsaaklik nagdiere en kan tot 30 jaar lank leef.

Dit lyk asof tapirs ter eniger tyd teel, en na ’n draagtydperk van 13 maande word een kleintjie gebore. Die jong tapirs het ’n rooibruin pels met oorlangse geel en wit vlekke en strepe, wat hulle uitstekend in die dowwe lig van die subtropiese woude kamoefleer. Hierdie kleurskakering verdwyn gewoonlik voor die einde van die eerste jaar; daarna is die Maleise tapir swart met ’n breë wit strook rondom sy flanke, terwyl die Suid-Amerikaanse tapirs donkergrys of bruin is.

Voortbestaan bedreig

Die mens jag al lank die tapir vir voedsel, dikwels gedurende die nag wanneer die diere op hulle aktiefste is. Somtyds word sout rondgestrooi om die dier te lok. Nadat die tapir die sout opgelek het, pyl hy na die naaste waterstroom. Die jagters skyn ’n lig in sy oë, wat hom tydelik verblind en ’n makliker skyf maak.

Die vleis, wat min vet bevat, word dikwels gebraai en is glo smaaklik. Die sterk, taai vel is ook waardevol; dit word gebruik om swepe, vangrieme en tome te maak. Somtyds het Brasiliaanse Indiane die tapir as ’n troeteldier aangehou.

Tapirs is vandag baie uitgedun in talle gebiede waar hulle eens in groot getalle voorgekom het, omdat die mens hulle vir voedsel of die pret gejag het en veral omdat hy hulle woudhabitat vernietig het. Die berg-, Baird- en Maleise tapir word dus nou as bedreigde spesies aangegee.

Ofskoon ’n mens se kans om ’n tapir in die wildernis teë te kom deesdae taamlik gering is, kan jy gerus na ’n tapir gaan kyk wanneer jy weer ’n dieretuin besoek.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel