Die skuwe oerwoudkat
Deur “Ontwaak!”- medewerker in Suriname
EK EN my vrou het hierdie skuwe kat vir die eerste keer gesien toe ons met ’n pad deur die oerwoud gery het. “Kyk!” het ek uitgeroep toe ons jeep om ’n draai kom. Ons was vlak voor ’n penitigri, of gespikkelde tier, soos ons die jaguar in Suriname noem. Sy geelbruin pels het geblink asof dit pas geverf was. Die skemerson het sy kleure verdiep: goudgeel tot rooibruin, wat op sy wange, bors en maag tot ’n dowwe geel verbleek. Die treffendste was egter die oneweredige swart kolle, of rosette, wat amper sy hele liggaam bedek.
Pre-Columbiaanse Indiane was so oorweldig deur die kat se treffende voorkoms dat hulle hom ’n god genoem het! Sy gevlekte pels, het hulle gesê, het soos die sterbelaaide naglug gelyk. Party beskou die jaguar selfs vandag nog as die onbetwiste koning van die Suid-Amerikaanse diere. ’n Mannetjie—dikwels 1,8 meter lank, sonder die stert—kan tot 110 kilogram weeg!a Sy geronde kop en gespierde nek; sy stewige liggaam; sy kort, stewige bene; en groot pote straal alles majestueuse krag uit.
Maar ons jaguar het eenvoudig rustig weggeloop—sy stert met die swart punt na bo gekrul—en het in die ruigte tot stilstand gekom. “Wat ’n kamoeflering!”, het ons gefluister toe hy volkome met die songevlekte omgewing saamsmelt, en sy vlekke soos skaduweekolle lyk.
Die jaguar word baie min gesien omdat hy beskutte plekke verkies. Omdat 80 persent van Suriname deur reënwoud beslaan word, is dit ideale jaguarterrein.
Hy laat sy spoor agter
Die jaguar laat egter spore van sy teenwoordigheid dwarsdeur die land agter. “Ek het hulle spore al op die modderige strande van die Atlantiese Oseaan gesien”, het ’n veldwagter later vir my gesê. “Ek het ook al gekrapte boomstamme by die Brasiliaanse grens gesien.” Daar is al gesê dat jaguars op hierdie manier die grense van hulle gebied afbaken.
“Dis waar”, bevestig 83-jarige James Brown, ’n voormalige gids vir oerwoudekspedisies. “Ons het dikwels op gekrapte bome afgekom, wat aangedui het dat ’n penitigri voor ons daar was.” Jaguars krap ook met hulle kloue teen bome om hulle skerp te maak.
’n Ander manier waarop jaguars sê ‘Ek was hier’ is deur hulle reukmerke en mis agter te laat. Dr. Alan Rabinowitz het onlangs ’n twee jaar lange studie van jaguars voltooi. Hy het vir my gesê dat een jaguar dikwels ’n gebied van digte oerwoudgebied afbaken wat 40-100 vierkante kilometer dek. Dit is geen wonder nie dat reisigers net vlugtige blikke op jaguarlewe gekry het! Maar wanneer ons al hierdie waarnemings bymekaarbring, kom ’n boeiende beeld te voorskyn. Kyk hoe dit ontvou.
’n Kykie op die wêreld van die jaguars
Dit word aand. Geluide van gonsende insekte, singende voëls en skreeuende ape omring ons. Maar luister! Dreigende, hees gromgeluide kan deur die bome gehoor word. Dan is daar onheilspellende stilte. Skarrelende diere en fladderende grondvoëls maak hulle uit die voete. Nou is daar weer ’n klomp diep gromme, net so skrikwekkend soos ’n leeu se gebrul! ’n Gespierde jaguarmannetjie kom te voorskyn.
Dit is sy habitat—rivieroerwoud en moerasse. Van al die groot katte hou die jaguar die meeste van water. Trouens, hy het water nodig om in te speel en kos te vang—dit wil sê, vis. Daar gaan hy na sy visgrond aan die anderkant van die rivier. Hy swem vaardig in ’n amper reguit lyn terwyl hy die heeltyd sy kop, ruggraat en die punt van sy stert bo die water hou. “Jaguars is uitstekende swemmers”, het oerwoudreisiger Heinz Heyde vir my gesê. “Hulle swem so vinnig dat hulle boeggolwe maak. Ek het al gesien hoe hulle oor katarakte swem!”
Wanneer die jaguar die oorkantste bank bereik, klim hy uit en skud hy die water van sy lyf af. Hy hurk op ’n stomp wat oor die rivier hang en staar stip na die wateroppervlak asof hy die dieptes daaronder wil deurdring. Dan, so vinnig soos blits, skep hy met sy skerp kloue sy gevinde prooi uit die water.
“Een maanlignag”, sê mnr. Heyde, “het ek ’n jaguar gesien wat [meterlange] anjoemaras [’n soort vis] met soveel krag geslaan het dat hulle deur die lug getrek en [vyf meter] agter die kat neergeval het. Jaguars is ongelooflik sterk!” Bioloog Pieter Teunissen, wat ook al jaguars in die wildernis gesien het, sê: “Ek het eenkeer uit sleepmerke op ’n strand agtergekom dat ’n jaguar ’n groot aitkantie [leerskilpad] vier meter in die lug geslinger het.”
Die jaguar is nie net sterk nie, hy is ook veelsydig. Hy is ’n jagter wat in drie omgewings bedrewe is: in die water, op land en in die bome. Wanneer hy deur water loop of wanneer hy bome klim, maak sy kloue hom vasvoetig, soos die gespykerde skoene van ’n bergklimmer. Op land trek hy sy kloue terug en beweeg dan asof hy op geluiddempende sokkies loop—wonderlike voete om iets mee te bekruip.
Maar ’n jagter het ook geduld, spoed en tydsberekening nodig. Dit is dus geen wonder nie dat dit twee jaar van moederlike opleiding verg voordat jong jaguars na hulleself kan omsien! Na ses weke sal die jong welpies oral agter hulle moeder aanloop. Hulle bly egter in digte ruigtes versteek terwyl sy gaan jag.
Sy beweeg versigtig met die rivieroewer langs totdat sy ’n groep kapibaras, die wêreld se grootste knaagdiere, gewaar. Sy sluip versigtig nader, staan dan stil, haar oë vasgenael op die prooi. Haar hele liggaam is bewegingloos, dit is net die punt van haar stert wat heen en weer swaai. Maar die kapibaras voel haar teenwoordigheid aan en duik onder die water in. Die jaguar misluk egter selde. Trouens, die kat het soveel sukses dat die kapibara al “die jaguar se daaglikse brood” genoem is.
Ander prooi? Daar is volop. Van klein goudhase tot lywige tapirs. Selfs ystervarke, skilpaaie en die kaaiman is nie veilig nie. Af en toe soek die kat selfs verder as die reënwoud tot in die weiveld. “’n Koei en kalf is net nou die dag deur ’n jaguar aangeval”, sê veearts Ronnie Kranenburg. “Dit het net ’n paar [kilometer] buite die dorp gebeur.” Maar dit is meestal ou jaguars wat deur jonger mededingers verdryf is of diere wat aan ou haelgeweerbeserings ly wat by hierdie aanvalle betrokke is.
Wat van jaguars wat mense aanval? “Nee, dit moet seldsaam wees”, sê die dieredokter. Bioloog Teunissen stem saam. Hy vertel hoe hy een nag al langs die strand geloop het terwyl hy met ’n navorsingsprojek oor die seeskilpad gehelp het. Met sy terugkeer het hy met sy flitslig jaguarspore bo-op sy eie voetspore gesien. ’n Kat het hom gevolg! In plaas van hom aan te val, het die kat verdwyn toe die bioloog omgedraai en teruggeloop het.
“Hulle val wel skilpaaie aan”, sê mnr. Teunissen, “en ek het dus ’n bietjie onrustig gevoel toe ek daardie nag vir skilpadeiers moes grawe. Die geluid van vallende sand klink soos ’n skilpad wat grawe. Al wat ek kon doen”, gaan hy voort, “was om my flitslig nou en dan rond te swaai, in die hoop dat jaguars weet dat skilpaaie nie flitsligte ronddra nie.”
Smokkelbedryf
Maar wat van die mens as bedreiging vir die jaguars? Jaques Berney is ondersekretaris-generaal van die Konvensie van Internasionale Handel in Bedreigde Fauna- en Floraspesies, die organisasie wat beheer probeer uitoefen oor die handel in diere en plante. Hy het vir my gesê dat jaguars in gevaar verkeer om uit te sterf. Dit is dus verbode om met jaguars handel te dryf.
Volgens Focus, die nuusbrief van die Wêreld-Natuurlewefonds (VSA), is wilddiewery egter steeds ’n florerende onderneming. Die rede? ’n Groot aanvraag na pelsjasse wat van die gespikkelde kat gemaak word! Die wilddiewe dwaal snags deur die Amasonewoud, verblind jaguars met die skerp skynsel van kragtige flitsligte, en skiet die verskrikte diere dan in die kop.
Binne ure, berig Focus, is die jaguar se pels op ’n rak om droog te word. Dit word sommer gou oor die grens gesmokkel, in ’n krat met ’n “Koffie”-etiket daarop verpak en na Europa verskeep. Party gesaghebbendes skat dat sowat 6000 jaguars jaarliks op hierdie manier doodgemaak en hulle pelse dan uitgevoer word.
Suriname het egter op die oomblik ’n relatiewe oorvloed van hierdie manjifieke diere. En ons hoop dat dit so sal bly. Anders sal die dag moontlik aanbreek wanneer dié skuwe gespikkelde kat nie meer gesien sal word nie.
[Voetnoot]
a Die jaguar wat hier beskryf word, is die Panthera onca onca.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
H. Armstrong Roberts