Die Westelike Halfrond se “koning van die oerwoud”
WAT is dit? Die jaguar, die grootste kat in die Amerikas. Waar kan jy hom vind? In die oerwoude, moerasse, bosse, woestyne en struikvelde van Sentraal- en Suid-Amerika. Anders as die meeste ander katte is dié een nie net tuis op die grond of in die bome nie, maar ook in die water.
Stel jou voor dat jy langs ’n volgroeide jaguarmannetjie staan. Hy kan sonder sy stert tot twee meter lank wees en kan 120 kilogram of meer weeg. Omdat hy alleenlewend is, kom die jaguar slegs in aanraking met ander van sy spesie om te paar. ’n Mannetjie is op drie- of vierjarige ouderdom geslagsryp, terwyl ’n wyfie haar eerste werpsel op tweejarige ouderdom kan hê. Haar werpsel bestaan gewoonlik uit twee welpies wat drie tot vier maande in die baarmoeder ontwikkel voordat hulle gebore word. Party jaguars het al in aanhouding ouer as 20 jaar geword.
’n Bioloog het oor die geheimsinnigheid van hierdie groot katte wat hulle so goed kan skuilhou, gesê: “Dit is baie moeilik om ’n jaguar te vind! Ek kan reg langs een staan . . . en sal hom moontlik glad nie raaksien nie.” Die kat se geelbruin pels is vol swart rosette met kleiner kolle daarin, wat help om hom te kamoefleer sodat hy ongesiens in die skaduwees kan verdwyn.
’n Alleenlopende, stille jagter
Die jaguar is ’n ervare jagter, wat op omtrent 85 dierespesies jag maak, waaronder tapirs, takbokke en ape. Omdat hy tuis voel in die water, vang die jaguar ook maklik vis en waterskilpaaie. Waarnemers het eenkeer gesien hoe ’n jaguar ’n volgroeide perd vang, hom sowat 80 meter ver oor droë grond sleep en toe deur ’n rivier trek.
Hierdie slim kat sit dikwels stil in ’n boom vir sy prooi en wag. Wanneer ’n trop niksvermoedende pekari’s—vinnige, varkagtige diere—onder die boom deurloop, slaan die jaguar toe. Met een kragtige byt maak hy een dood, waarna hy vinnig weer in die boom spring. Hy wag daar tot die trop weg is en gaan haal dan sy prooi.
Tog sal die jaguar, in teenstelling met van die ander groot katte, nie sommer ’n mens aanval nie, en daar is nog geen opgetekende gevalle dat enige van hulle al mense geëet het nie. Trouens, die mens is ’n veel groter bedreiging vir die jaguar as die jaguar vir die mens.
Waarom daar so min is
Jaguars het eens op ’n tyd van die suidelike deel van die Verenigde State tot naby die punt van Suid-Amerika voorgekom. Vandag word hulle aangetref in ’n gebied wat byna die helfte kleiner is as honderd jaar gelede. Tot die middel-1970’s het jagters elke jaar duisende jaguars vir hulle pels doodgemaak. In 1968 alleen is meer as 13 500 pelse uit die Amerikas uitgevoer. In 2002 was daar na raming minder as 50 000 jaguars oor. Nou is daar moontlik net omtrent 15 000 oor wat nie in dieretuine is nie.
’n Studie wat deur ’n natuurbewaringsvereniging gedoen is, berig dat byna 40 persent van die jaguar se oorspronklike gebied deur ontbossing vernietig is. In Mexiko alleen verdwyn daar na bewering elke minuut ’n deel van hulle habitat so groot soos ’n rugbyveld. Dit dwing die jaguar om vee te jag om aan die lewe te bly.
Bewaringspogings
Sowat 200 lande ondersteun regulasies van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies wat dit onwettig maak om jaguars vir handelsdoeleindes te jag. Nasionale wildparke is geskep om hulle natuurlike habitat te beskerm. In 1986 het die Cockscomb Basin-natuurreservaat in Belize die wêreld se eerste wildpark vir jaguars geword. Daarbenewens het Mexiko meer as 150 000 hektaar tropiese woud in die Calakmul-biosfeerreservaat op die Yucatán-skiereiland opsygesit om die jaguar te beskerm.
Net die tyd sal leer hoe suksesvol sulke mensepogings sal wees om hierdie “koning van die oerwoud” te beskerm. Tog kan ons vertroosting put uit die wete dat ons liefdevolle Skepper binnekort “die verderwers van die aarde [sal] verderf” en dat daar eindelik vrede tussen mens en dier sal wees, soos God dit oorspronklik wou gehad het.—Openbaring 11:18; Jesaja 11:6-9.
[Kaart op bladsy 24, 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Verspreidingsgebied
◻ Oorspronklike gebied
◼ Huidige gebied
NOORD-AMERIKA
SENTRAAL-AMERIKA
SUID-AMERIKA