Van ons lesers
Dierenavorsing Ek het gehuiwer om die nommer oor dierenavorsing (8 Julie 1990) te lees, want ek het geweet dat dit ’n emosionele onderwerp is. Maar julle het dit op ’n taktvolle en gebalanseerde wyse bespreek.
N. V., Verenigde State
Aangesien navorsing my soort werk is, was ek baie gretig om te lees wat die Ontwaak! te sê het. Dit is duidelik dat die Bybel nie dierenavorsing veroordeel nie. Tog regverdig dit nie wreedheid teenoor diere nie. As my werk in die toekoms die gebruik van diere vereis, sal ek versigtig wees om hulle nie onnodig dood te maak of wreed teenoor hulle te wees nie.
O. O., Verenigde State
Julle artikel was teleurstellend. Julle wy vyf paragrawe aan geweld deur aktiviste (wat nie algemeen is nie). Die “gruwelverhale” is egter onder een tussenhofie saamgevat. Hoe kan ’n mens ’n gebalanseerde beskouing behou met die oog op sulke gemene wreedheid? Ja, dierenavorsing het bygedra tot mediese vooruitgang. Maar kan ons dit nie nou stopsit nie?
S. F., Bondsrepubliek Duitsland
Dit het voorgekom of julle artikel ten gunste van dierenavorsing is as dit nie intense lyding behels nie. Van watter waarde is dit wanneer iets bereik word deur die lyding en dood van onskuldige diere?
M. B., Verenigde State
Dierenavorsing is ’n emosionele kwessie, en ons artikels het ’n buitengewoon hewige reaksie van lesers uitgelok. Die Bybel bevat geen omvattende veroordeling van die gebruik van diere tot voordeel van mense nie. Maar begryplikerwyse word baie afgestoot deur enige soort dierelyding, en ons respekteer beslis hulle gevoelens in hierdie opsig.—RED.
Crack-verslawing Ek moes skryf om julle te laat weet dat julle artikels oor crack-verslawing (22 Julie 1990) baie leersaam was. Ek was ’n crack-verslaafde en kon net met die crack-gewoonte breek toe ek begin het om die Bybel te bestudeer en met Jehovah se Getuies om te gaan. Vroeër het ek my huurgeld, motorpaaiementgeld en gesteelde geld gebruik om crack in die hande te kry. Ek het so maer geword dat ek soos ’n geraamte gelyk het. Maar met die ondersteuning en leiding van Jehovah se Getuies het ek daarin geslaag om die probleem op te los.
C. H., Verenigde State
Rolprente Die artikel “Jongmense vra . . . Maak dit saak na watter rolprente ek kyk?” (22 Julie 1990) het my gehelp om te besef watter invloed rolprente op mense het. Ek sal nie meer na rolprente met ’n R-gradering gaan kyk nie.
W. R., Verenigde State
Ek gaan nie dikwels bioskoop toe nie, daarom het ek begin boeke lees oor diere, handwerk en geskiedenis. Daar is baie wonderlike boeke wat goed en opvoedkundig is en wat nie vloektaal gebruik nie.
L. H., Verenigde State
Ek het regtig gehou van julle artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek ’n gepaste rolprent kies?” (8 Augustus 1990). Een ding slaan my nog dronk. Sal dit gepas wees vir ’n Christen om na ’n rolprent te kyk wat ’n gradering van VV-13 het?
R. J., Verenigde State
In die Verenigde State is ’n rolprent met ’n gradering van VV-13 oop vir alle ouderdomme, “maar ouers word sterk aangeraai om kinders onder 13 spesiale riglyne te gee oor die bywoning daarvan” (“World Book Encyclopedia”). ’n Christen sal natuurlik versigtig wees as ’n rolprent so ’n gradering het. Rolprentgraderings weerspieël egter wêreldse standaarde, nie Bybelbeginsels nie, en sulke standaarde is dikwels inkonsekwent. In lande waar ’n rolprent-graderingstelsel bestaan, moet individue dus besluit in watter mate hulle daardeur gelei sal word. Jongmense moet die leiding van hulle ouers volg. As ’n rolprent onheilsaam is, ten spyte van ’n skynbaar gunstige gradering, kan ’n mens die teater verlaat of jou televisiestel afskakel.—RED.