Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 4/1 bl. 3-5
  • Die uitdaging aan ’n regering

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die uitdaging aan ’n regering
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • BEHOEFTES WAT ONS BEVREDIG WIL HÊ
  • DIE ROL VAN ’N REGERING
  • WIE IS OPGEWASSE TEEN DIE TAAK?
  • God se regering—die mensdom se enigste hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Is jy ’n lojale onderdaan van God se regering?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Watter soort wêreld wil jy hê?
    Ontwaak!—1993
  • Deel 1b—Het ons werklik regering nodig?
    Ontwaak!—1990
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 4/1 bl. 3-5

Die uitdaging aan ’n regering

MEER as 200 jaar gelede het ’n volk gemeen dat die regering oor hulle verdrukkend is. Toe hulle hulle onafhanklikheid van daardie regering van Groot-Brittanje verklaar het, het die Amerikaanse staatsman Thomas Jefferson geskryf van “sekere onvervreembare regie”, onder andere “lewe, vryheid en die strewe na geluk”.

Net soos destyds is die uitdaging wat nou aan ’n regering gerig word om hierdie “regte” aan die mense te gee. Min mense geniet vandag waarlik ’n ryk, bevredigende lewe met vryheid en geluk. Watter veranderinge meen jy is nodig om so ’n lewe te kan lei?

Talle het al baie oor hierdie saak nagedink. In hulle boek A Sane and Happy Life: A Family Guide het dokters Abraham en Rose Franzblau geskryf: “Indien ons ’n meningspeiling onder die wêreld se bevolking sou doen en die mensdom sou raadpleeg oor die soort wêreld waarin ons almal graag wil lewe, is dit baie waarskynlik dat ons dit almal oor sekere minimumvereistes eens sal wees.” Wat is hierdie “minimumvereistes” of behoeftes?

BEHOEFTES WAT ONS BEVREDIG WIL HÊ

Die dokters het eerstens ’n “wêreld sonder oorlog” gemeld. Ons kan beslis almal saamstem dat dit nodig is om ’n einde aan oorlog te maak. Hoe tragies is dit tog, daar dit die ekonomie van nasies ondermyn en ons dierbares vermink en dood! Maar is enige regering opgewasse teen die taak om ’n einde aan oorlog te maak?

“Tweedens”, het die dokters geskryf, “dit sal ’n wêreld sonder hongersnood wees, waaruit voedselskaarste en gebrek vir ewig verban is.” O, ons kan dit volkome beaam dat dit nodig is om genoeg voedsel vir almal te voorsien! Hoe wonderlik sal dit tog wees om nooit weer knaende hongerpyne te verduur of ondervoed te wees nie, en om te weet dat elke mens op aarde genoeg het om te eet! Is dit te veel om te hoop dat ’n regering die probleem van voedselskaarstes sal oplos?

“Derdens”, het die dokters voorts gesê, “dit sal ’n wêreld sonder siekte wees, ’n wêreld waar almal die kans sal hê om gesond groot te word en oud te word sonder kwale wat voorkom en genees kan word.” Ons besef ongetwyfeld almal dat goeie gesondheid nodig is om die lewe ten volle te geniet. Wat ’n welkome verligting sal dit tog wees om te lewe in ’n wêreld waar niemand ooit weer siek sal word nie, waar niemand ’n verkoue of enige ander kwaal sal hê nie! Is dit ’n te groot uitdaging vir ’n regering om in hierdie behoefte te voorsien?

Maar as mense ‘lewe, vryheid en geluk’ wil geniet, moet ’n regering in staat wees om in nog ander basiese behoeftes te voorsien. In ’n wêreld waar ons almal graag sal wil lewe, moet daar ‘werk vir persone wees sodat hulle vir hulself en hulle gesinne kan sorg’, het die dokters gesê. Ja, geen werkloosheid nie; maar bevredigende, produktiewe werk vir almal. Kan ’n regering in hierdie behoefte voorsien?

Die dokters het bygevoeg: “Dit sal ’n wêreld wees waarin elkeen vryheid onder die wet geniet, met geregtigheid vir almal.” Daarbenewens “sal elke mens die geleentheid hê om sy vermoëns en talente ten volle te ontwikkel, en sal hy sonder vooroordeel vir sy werk beloon word”. Ons kan gewis almal saamstem dat dit nodig is om vandag se verskriklike ongeregtighede, ongelykhede en vooroordele uit te skakel. Maar kan enige regering dit werklik doen?

Die meeste van ons sal saamstem dat daar nog ander behoeftes is waarin daar voorsien moet word voordat ons die soort wêreld sal hê waarin dit aangenaam sal wees om te lewe. Dit is soos die dokters gesê het: ‘So ’n wêreld sal een wees waarin alle mense genoeg vrye tyd het om die goeie dinge van die lewe te geniet.’ En hulle het afgesluit: ‘Die hoogste waarde sal geheg word aan eienskappe soos integriteit, liefde, onselfsugtigheid en besorgdheid oor ander mense.’

Daar word oor die algemeen vandag nie in hierdie behoeftes voorsien nie. Is dit werklik te veel gevra om dit te verwag? Hoe kan daar in die ware behoeftes van die mensdom voorsien word?

DIE ROL VAN ’N REGERING

Toe Thomas Jefferson die Amerikaanse Verklaring van Onafhanklikheid saamgestel het, het hy gesê: “Om hierdie regte [lewe, vryheid en die strewe na geluk] te verseker, word regerings onder die mens ingestel.” Ja, goeie regering is noodsaaklik as daar in die mensdom se behoeftes voorsien moet word. Die vroeë Amerikaanse politieke leier John C. Calhoun het geskryf: “Die mens is so gemaak dat regering noodsaaklik is vir die voortbestaan van die samelewing, en die samelewing vir sy voortbestaan.”

Maar wat is regering nou eintlik? Dit is al gedefinieer as “gesaghebbende leiding of beheer”. Regerings maak en handhaaf wette om menslike gedrag te reguleer. En ons kan hiervoor dankbaar wees, veral in ons ingewikkelde samelewing. Dink byvoorbeeld wat by ’n besige straathoek sou gebeur indien daar geen leiding was om die verkeer te beheer nie. Dit sou rampspoedig wees.

Dit is egter betreklik maklik om die verkeer te beheer. Dit is baie moeiliker om wette te handhaaf om vrede tussen mense te bewaar, om die kweek en verspreiding van voedsel te beheer sodat almal genoeg het om te eet, om dienste te voorsien wat almal blakend gesond hou, om sinvolle werk vir almal te voorsien, ensovoorts. Om in hierdie behoeftes te voorsien, asook in die talle ander waarin daar voorsien moet word sodat mense waarlik die lewe kan geniet, is ’n meesterlike regering nodig.

WIE IS OPGEWASSE TEEN DIE TAAK?

Die Skepper van die mensdom erken die menslike behoefte aan regering, aan “gesaghebbende leiding of beheer”. Dit is dus nie toevallig dat die Bybel vertel van ’n regering onder God se beheer nie. Trouens, hierdie belofte van heerskappy deur God is die Bybel se hooftema. Jy is dalk verbaas om dit te hoor.

Jy vra moontlik: “Waar praat die Bybel van God se regering?” Gaan haal asseblief ’n eksemplaar van die Bybel en blaai daarin na Jesaja hoofstuk nege, verse vyf en ses. Dit lui:

“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”

God se profeet Jesaja het hier vertel van die geboorte van ’n kind, ’n vors, wat destyds nog tot die toekoms behoort het. Hierdie ‘seun van ’n koning’ sou mettertyd ’n groot heerser, die “Vredevors”, word. Hy sou in beheer wees van ’n waarlik meesterlike regering, een wat vrede sonder einde sou bring. Jy besef moontlik wie hierdie kind is. Toe die engel Gabriel sy geboorte aangekondig het, het hy gesê dat hy Jesus genoem moes word en bygevoeg: “Hy sal koning wees . . . , en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”—Luk. 1:31, 33.

Jesus Christus en sy aardse dissipels se vernaamste werk was om oor hierdie koninkryk van God te preek en dit aan ander te leer. In die Bybel verwys hulle meer as 140 keer na daardie regering. Jy sal onthou dat Jesus sy volgelinge selfs geleer het om te bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Matt. 6:10.

Maar hoe sal die bewind van hierdie Koninkryksregering nou eintlik opgerig word, en hoe sal dit werk? Sal mense dit tot stand bring en daarin regeer? Kan mense ’n regering vorm wat die soort wêreld sal skep waarin ons almal graag wil lewe?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel