Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 11/22 bl. 25-27
  • Sal ’n naskoolse werk my help om groot te word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal ’n naskoolse werk my help om groot te word?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Werk—die voordele
  • Hoeveel leer ’n mens werklik?
  • “Ontydige welgesteldheid”
  • Moet ek ’n naskoolse werk kry?
    Ontwaak!—1990
  • Moet ek werk terwyl ek op skool is?
    Ontwaak!—1991
  • Wat kan ek doen om geld te verdien?
    Ontwaak!—1998
  • Hoe kan ek my vir die arbeidswêreld voorberei?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 11/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

Sal ’n naskoolse werk my help om groot te word?

TWEE uit drie—dit is hoeveel tieners in die Verenigde State tans werk. En hulle bestee 16 tot 20 uur per week daaraan!a

Waarom stroom rekordgetalle jongmense na betrekkings? Sestienjarige Brian verduidelik: “In my geval moet ek [werk]. My ma en pa is geskei, en ek moet my ma help waar ek kan.” Baie gesinne het eweneens ekonomiese hulp nodig. En selfs al dra ’n jongmens nie regstreeks by tot huishoudelike uitgawes nie, sal dit die ekonomiese druk op sy ouers ’n bietjie verlig al betaal hy net vir sy eie klere of ander persoonlike artikels.

Baie jongmense werk weliswaar om hulle smaak vir duur klere, skoene of kitskos te bevredig. Maar vir sommige jongmense beteken ’n werk hoofsaaklik ’n groot tree op die pad na volwassenheid. Negentienjarige Suzanne het in die tydskrif Seventeen geskryf: “Ek werk omdat ek daarvan hou om selfonderhoudend te wees. Ek hoef nie van my ouers afhanklik te wees om vir alles te betaal nie. . . . Ouers kan hulle kinders geld gee, maar hulle kan hulle nie daardie gevoel van bevrediging gee wat jy kry as jy self iets verdien nie.” En miskien dink jy ook so—dat dit ’n goeie ondervinding sal wees om ’n werk te hê, dat dit jou sal help om gouer groot te word. Maar sal dit werklik help?

Werk—die voordele

Die Bybel veroordeel luiheid. “Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie”, sê Spreuke 13:4. “Maar die siel van die vlytiges word versadig.” As jy dus werklik iets nodig het wat meer kos as wat jou ouers wil, of kan, betaal, kan die idee om hard te werk sodat jy dit self kan koop meriete hê.

Baie sê boonop dat ’n werk ’n jongmens kan help om die werklikhede van die lewe te leer. Ellen Greenberger en Laurence Steinberg het uitgebreide navorsing oor werkende jongmense gedoen, en hulle bevindinge het groot publisiteit gekry. Hulle het gevind dat dit sulke jongmense “leer hoe om sake te doen, hoe om met geld te werk en hoe om pryse te bereken”. ’n Betrekking gee ’n jongmens nie alleen die geleentheid om saam met volwassenes te werk nie maar laat hom ook besef watter druk daar op volwassenes is en watter verantwoordelikhede hulle dra. Hy moet dalk leer hoe om onder ’n baas te werk wat “onredelik” of humeurig is of hoe om ontstoke klante—en werkmaats—vriendelik te behandel (1 Petrus 2:18, NAV). “Ek was die jongste outjie by die werk”, sê Anthony, “en almal het op my gepik. Maar ek het geleer hoe om met mense te werk.”

Werk kan ’n jeugdige ook vaardighede en werkgewoontes, soos stiptheid, leer wat later in sy lewe nuttig sal wees. (Vergelyk Spreuke 22:29.) “Ek het verantwoordelikheid geleer”, sê ’n jongman genaamd Eric. “Deur saam met my oom te werk, het ek geleer hoe om werk van hoë gehalte te doen”, voeg Duane by. “Netheid was vir hom belangrik, en as alles nie perfek was nie, het ons dit oorgedoen.” Olga, wat sekretariële werk gedoen het toe sy op skool was, voeg by: “Ek het goeie werkondervinding opgedoen. En omdat ek baie oor die telefoon moes praat, het dit my goeie taalgebruik geleer.”

’n Betrekking kan jou ook leer om trots te voel op dit wat jy bereik het. Wyse koning Salomo het gesê: “In die geval van ’n mens is daar niks beters [as] dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk nie. Ook dit het ek gesien, ja ek, dat dit uit die hand van die ware God is.”—Prediker 2:24, NW.

Hoeveel leer ’n mens werklik?

Talle glo nietemin dat hedendaagse betrekkings nie veel doen om ’n jongmens te help grootword nie. In die verlede het werkende jongmense ’n ambag of ten minste ’n paar nuttige vaardighede geleer. Maar vandag werk baie jongmense (veral in die Verenigde State) in kitskosrestaurante of ander diensbedrywe waar hulle net frikkadelbroodjies in kartonnetjies pak of verkope op kasregisters registreer. Talle bevraagteken die langtermynwaarde van sulke werk. Greenberger en Steinberg sê: “Die gemiddelde jongmens bestee minder as 10 persent van sy of haar tyd by die werk—ongeveer net vyf minute uit elke uur—aan aktiwiteite soos lees, skryf en rekenkunde. . . . Die meeste betrekkings het min taakverskeidenheid, is blote roetinewerk en die onafgebroke herhaling van bra oninteressante sleurwerk.”

’n Artikel in The Wall Street Journal sê: ‘Baie van vandag se werkende tieners leer niks nuttigers as om net gereeld werk toe te kom nie. Die tegnologie het hulle so te sê in outomate verander. Betaalpuntaftasters en moderne kasregisters tel bedrae op en werk uit hoeveel kleingeld hulle moet uitkeer. By kitskosplekke skakel outomatiese kooktydreëlaars die laaste moontlikheid uit dat ’n tiener ’n paar kookkunsies sal leer.’ Sulke betrekkings verskaf sonder enige twyfel nodige en waardevolle dienste. Hulle doen egter min om ’n jongmens vir die volwasse arbeidsmark toe te rus.

Maar wat van die ondervinding om saam met volwassenes te werk? Greenberger en Steinberg sê: “Ouderdomsgroepe word al hoe meer geskei by plekke waar jongmense in diens geneem word. Pleks van saam met volwassenes te werk, . . . is dit waarskynliker dat vandag se jongmense saam met ander adolessente sal werk.” The Wall Street Journal noem sulke werkplekke “adolessente ghetto’s”.

“Ontydige welgesteldheid”

Baie jongmense in die Verenigde State verdien meer as R520 per maand by hulle werk. Sal dit nie ’n waardevolle ondervinding wees om met soveel geld te werk nie? Beskou ’n opname wat onder werkende hoërskoolleerlinge in meer as duisend verskillende skole gedoen is. Daar is gevind dat driekwart van hulle niks tot die gesin se finansies bygedra het nie! Byna 60 persent van hulle het niks gespaar nie! Omdat die meeste nie huur, versekering of vir kos hoef te betaal nie, het hulle hul inkomste as sakgeld gebruik—om dit te bestee soos hulle lus gevoel het.

Jerald G. Bachman van die Instituut vir Maatskaplike Navorsing sê dat wanneer “tieners heelwat geld tot hulle beskikking het”, dit “ontydige welgesteldheid”, of rykdom, is. Waarom? Bachman verduidelik: “Baie hoërskoolleerlinge het begrotings vir luukseartikels wat hulle dalk nie vyf jaar later sal kan bekostig nie, wanneer hulle inkomste nie-luukseartikels soos kos en huur sal moet dek.” Ja, pleks van ’n jongmens finansiële verantwoordelikheid te leer, kan dit hom presies die teenoorgestelde leer as hy te veel geld het. Dit kan ’n onrealistiese smaak vir luukshede skep en die oorgang tot die werklikheid van die grootmenswêreld selfs meer traumaties maak.

Die Bybel toon buitendien dat dit tevergeefs is om vir rykdom te sloof. Dit sê: “Vermoei jou nie om ryk te word nie, . . . Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!”—Spreuke 23:4, 5.

Of ’n werk ’n waardevolle leerondervinding gaan wees, sal afhang van die soort werk, die soort mense saam met wie of vir wie jy werk en hoe jy jou op die werk toelê. Die beweegrede waarom jy werk en hoe jy die geld gebruik wat jy verdien, sal ook ’n groot verskil maak of dit jou baat of skaad om te werk.

Maar as jou eintlike beweegrede is om groot te word, moet jy kyk tot watter gevolgtrekking Greenberger en Steinberg gekom het: ‘Daar is aktiwiteite wat voordeliger kan wees as om te werk. Hierdie aktiwiteite sluit onder andere in om na skoolure te lees en te studeer en om die verantwoordelikhede van onbetaalde vrywilligerwerk of gemeenskapsdiens op jou te neem.’ Nina verrig byvoorbeeld na skoolure ’n uiters waardevolle gemeenskapsdiens as voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies. Sy sê: “Ek het saam met my voorligtingonderwyser ’n kort skooldag uitgewerk sodat ek ongeveer twaalfuur klaar is. Maandag tot Woensdag neem ek deel aan die openbare predikingswerk. Ek geniet dit. Ek geniet dit regtig baie!” Laat jou rooster en persoonlike omstandighede jou toe om dit ook te doen? As jy so “godvrugtige toegewydheid” aankweek, sal dit ongetwyfeld baie nuttiger wees as om enige ander werk te doen!—1 Timotheüs 4:8, NW.

Maar sommige jongmense wil of moet dalk om finansiële redes werk. Toekomstige artikels sal wys watter voordele en nadele dit inhou.

[Voetnoot]

a Die toenemende aantal werkende leerlinge is al ’n “kenmerkend Amerikaanse verskynsel” genoem (When Teenagers Work deur Ellen Greenberger en Laurence Steinberg). In ander lande word daar groter akademiese laste op jongmense geplaas, en werk is dikwels skaars. Maar talle jongmense in lande waar daar wel werkgeleenthede bestaan, sal hierdie artikel ongetwyfeld interessant vind. ’n Toekomstige artikel sal die situasie in ontwikkelende lande bespreek.

[Prent op bladsy 26]

’n Werk kan ’n jongmens leer hoe om volwasse teenoor werkgewers en werkmaats op te tree

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel