Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 12/22 bl. 25-27
  • Hoe kan ek my vir die arbeidswêreld voorberei?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek my vir die arbeidswêreld voorberei?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gebalanseerde siening van werk
  • Kies die regte vakke
  • Wanneer vakkeuses min is
  • Opofferings is nodig
  • Waarom moet ek hard leer op skool?
    Ontwaak!—1992
  • Kry die meeste voordeel uit die skool
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • Moet ek werk terwyl ek op skool is?
    Ontwaak!—1991
  • Ouers—Watter toekoms wil julle vir julle kinders hê?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 12/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek my vir die arbeidswêreld voorberei?

“EK VOEL terselfdertyd bang en opgewonde!” Dit is wat 16-jarige Maureen gesê het toe sy gevra is hoe sy daaroor voel om eendag die arbeidswêreld te betree. Dit is net natuurlik om ten minste ’n bietjie senuweeagtig te voel wanneer jy daaraan dink om die arbeidsmark te betree—selfs as jy na die uitdaging uitsien. Jong René het net voor hy die skool verlaat het, gesê: “Na 12 jaar se las van skoolwerk gaan werk vir my ’n plesier wees.”

Wat jou gevoelens ook al is, jy sal waarskynlik eendag ’n betrekking in die arbeidsmark beklee. Hoe kan jy jou vir daardie dag voorberei? Skoolbywoning gee jou die geleentheid om goeie gewoontes, soos stiptheid, aan te kweek. Jongmense wat nog op skool is, kan ook ondervinding opdoen deur deeltydse werk te doen. Maar as jy jou goed vir die arbeidswêreld wil voorberei, is dit veral belangrik dat jy ernstig nadink oor die vakke wat jy op skool kies.

’n Gebalanseerde siening van werk

Jy moet in die eerste plek vasstel wat jy van ’n werk verwag. Party jongmense stel net belang in die grootte van hulle salaris. Dit is waar dat ‘geld ’n beskutting is’ en belangrik in die lewe is (Prediker 7:12). Maar die Bybel is reg wanneer dit sê dat ‘’n mens se lewe nie afhanklik is van die oorvloed van sy besittings nie’ (Lukas 12:15, NAV). In die boek Yes—I Can!, deur Barkai, Barkai en Yeo, gee die skrywers hierdie raad: ‘Moenie in die slagyster trap om net baie geld te wil verdien nie.’ Hulle voeg by: “Werksbevrediging is net so belangrik vir jou toekomstige geluk.” Sewentienjarige Paulo het dus getoon dat hy gebalanseerd is toe hy gesê het: “Ek sal net graag genoeg wil verdien sodat ek ’n ordentlike bestaan kan maak terwyl ek my werk geniet.”

Maar as jy ’n Christen is, is daar ook ander oorwegings. Selfs die aangenaamste werk wat die grootste uitdaging bied, sal nie in jou geestelike behoefte voorsien nie. “Die hoofsaak van alles wat gehoor is”, is op stuk van sake: “Vrees God en hou sy gebooie” (Prediker 12:13). Aangesien God Christene beveel om ‘dissipels te maak’, berei baie jong Getuies van Jehovah hulle voor vir ’n loopbaan as pionier, of voltydse evangelis (Mattheüs 28:19). ’n Suid-Afrikaanse meisie genaamd Shulamite het dit gedoen. En sy sê dat dit haar “groot bevrediging verskaf om te help om in mense se geestelike behoefte te voorsien”.

Miskien is dit ook jou begeerte om die voltydse bediening te betree. Jy sal nietemin heel waarskynlik moet werk om jouself te onderhou. Jy sal dalk eendag selfs ’n gesin moet onderhou. Daarenteen laat jou omstandighede jou miskien nie toe om ’n pionier te wees nie, en jy moet dalk ’n voltydse werk soek. Sal jy in albei gevalle nie liewers ’n werk wil hê wat jou sal toelaat om ’n groot aandeel aan God se diens te hê nie? Baie sal afhang van watter vakke jy op skool kies.

Kies die regte vakke

In party lande kan ’n jongmens kies tussen akademiese, bedryfs-, tegniese en vakopleiding. Dit is dikwels verstandig om die werk wat plaaslik beskikbaar is in aanmerking te neem. Jy kan terselfdertyd jou aanleg en belangstellings bepaal. Hoe? Deur ’n lys te maak van al die dinge waarin jy belangstel of waarin jy goed vaar. Is dit wiskunde? Rekenaarwetenskap? Motorherstelwerk? Sluit jou stokperdjies en ander alledaagse belangstellings in. Dit sal jou ten minste ’n idee gee van watter soort werk jou dalk die beste sal pas en watter soort vakke jou in daardie rigting sal help. As jy met jou ouers of ander volwassenes praat, kan dit jou ook help om jou vermoëns en voorkeure realisties te bepaal.—Vergelyk Spreuke 15:22.

Is jy byvoorbeeld ’n gesellige mens? Dan moet jy miskien dink aan vakke waarmee jy ’n werk in verkope of op ander gebiede kan kry waar noue omgang met mense vereis word. As jy daarenteen ’n talent het om met jou hande te werk, kan jy dalk daaraan dink om ’n vakkursus te volg. Baie voltydse evangeliste onderhou hulself in elk geval met die vaardighede wat hulle op hoërskool geleer het. Party het al deeltydse werk gekry in bouwerk, toestelherstelwerk, timmermanswerk, huisvlyt, woordverwerking of sekretariële werk.

Damaris, ’n jong vrou van Colombia, Suid-Amerika, het tik en boekhou geneem en vir haar was dit lonend. Sy het ’n halfdagwerk as sekretaresse gekry wat haar in haar evangelisasieloopbaan onderhou het. Party Christene het in hulle behoeftes voorsien deur skoonmaakwerk, tuinwerk, ensovoorts te doen.

Wanneer vakkeuses min is

Maar nie alle skole bied voldoende werkopleiding nie; party slaag nie eers daarin om hulle leerlinge basiese lees- en skryfvaardighede te leer nie. Op party plekke is verdere onderwys dalk noodsaaklik vir feitlik enige soort werk. Jy kan in sulke omstandighede uitvind of daar plaaslik enige programme is wat opleiding by die werk self verskaf of wat vakleerlingskappe beskikbaar stel. ’n Kort skoolkursus wat ’n bemarkbare werkvaardigheid leer, is nog ’n keuse. Interessant genoeg, party het sulke opleiding onderneem benewens hulle werk as voltydse evangeliste.

Jongmense in ontwikkelende lande vind dalk dat vakkeuses en skoolkeuses geweldig beperk is. Katiti, ’n jong man van ’n plattelandse dorpie in Suider-Afrika, moes noodgedwonge Latyn, wiskunde en natuurkunde neem, hoewel sulke vakke beperkte waarde in die plaaslike arbeidsmark het. Katiti het dit nietemin reggekry om werk te kry. Hoe so? Deur sy vaardighede by plaaslike behoeftes aan te pas. Toe Katiti die skool verlaat, het hy homself onderhou deur groente te kweek en te verkoop, wolserpe en -musse te brei en te verkoop en selfs deur patente medisyne in die plattelandse gebiede te versprei. Omdat die skool hom met die nodige kommunikasievaardighede toegerus het, kon hy hierdie interessante verskeidenheid beroepe op ’n bekwame wyse beoefen.

Die boek Choosing Your Career and Your Higher Education sê dat die vermoë “om te kommunikeer, te verstaan en verstaan te word geweldig belangrik is” in die werksplek. Die meeste gebiede, of dit nou tegniese, handels- of akademiese gebiede is, vereis kommunikasievaardighede. Al bied jou skool nie spesifieke werkopleiding nie, kan jy jou dus daarop toelê om vaardig te word in jou skryf-, praat- en luistervermoë. Die indruk wat jy op ’n voornemende werkgewer maak, sal grootliks afhang van jou vermoë om te kommunikeer; dit kan heel moontlik die beslissende faktor wees wat jou die werk wat jy wil hê, laat kry. Baie jongmense onder Jehovah se Getuies het hulle kommunikasievaardighede verbeter deur aan die Teokratiese Bedieningskool in die Christengemeente deel te neem.

Opofferings is nodig

Die boek Your Child at School sê: “Ons is nie almal eenders gemaak nie.” Party jongmense is meganies aangelê, terwyl ander akademiese talente het. Ander het weer talente en vermoëns op die gebied van musiek, kuns of atletiek. Dit is een ding om jouself as ’n reklametekenaar of ’n musiekonderwyser te onderhou, maar as jy rykdom of roem op sulke gebiede nastreef, kan dit geestelike gevare vir ’n Christen inhou. Sal dit verstandig wees om jare daaraan te bestee om die opleiding te bekom en die noodsaaklike vaardighede te vervolmaak om in hierdie loopbane sukses te behaal, aangesien hierdie loopbane dalk jou tyd vir Christelike bedrywighede, soos vergaderingbywoning en deelname aan die predikingswerk, sal beperk?—1 Korinthiërs 7:29.

’n Jong Getuie genaamd Philip het probeer om ’n belowende tennisloopbaan na te streef. “Uiteindelik”, erken Philip, “moes ek kies tussen die Christelike geloof en tennis. Daar was net nie genoeg tyd om my volle aandag aan albei belange te gee nie. Ek het besluit om tennis te laat vaar, en hoewel dit moeilik was, was ek nog nooit spyt daaroor nie.”

Die apostel Paulus het ’n soortgelyke besluit geneem. Hoewel hy in die wet onderrig is, het hy besluit om die Christenbediening te betree en homself te onderhou deur tente te maak (Handelinge 18:3; 22:3). Maar Paulus was nie spyt oor sy keuse nie. Hy het gesê: “Wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. . . . Ek [het] alles prysgegee . . . en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.”—Filippense 3:7, 8.

Jy sal miskien ook soortgelyke keuses moet doen. Jy sal dalk besluit om jou geestelike vermoëns pleks van jou akademiese, musikale of kunsvaardighede te ontwikkel. Dit beteken dalk dat jy ’n ambag of ’n soort werk leer wat deur die meeste mense as oninteressant beskou word. ’n Jongmens kan soms ’n ambag leer deur saam met sy ouers te werk, miskien timmermanswerk, loodgieterswerk of ’n ander soort ambag.

Wat jy ook al in hierdie opsig besluit, dink aan jou toekoms. Kies jou vakke verstandig, versigtig. Jy sal met God se hulp volkome voorbereid wees vir die arbeidswêreld!

[Prent op bladsy 26]

Baie jongmense onderhou hulself met die vaardighede wat hulle op skool geleer het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel