Jongmense vra . . .
Moet ek werk terwyl ek op skool is?
SKOOLDAE is besige dae vir die meeste jongmense. Klasonderrig neem ’n groot gedeelte van elke weekdag in beslag. In die aand doen hulle huiswerk en studeer hulle. En tussenin is daar veelvuldige huishoudelike take wat dringend aandag moet kry.a
In Westerse lande kan jongmense van skoolgaande leeftyd gewoonlik uitsien na die naweek as ’n tyd vir pret en ontspanning. Maar in baie dele van die wêreld beteken naweke allesbehalwe ontspanning. In landelike Afrika moet jongmense hulle ouers dikwels oor naweke op die plaas help en probeer vergoed vir die tyd wat hulle gedurende die skoolweek nie kan help nie. En onder Jehovah se Getuies het jongmense die bykomende verantwoordelikheid om aan die predikingswerk van huis tot huis deel te neem en Christelike vergaderinge by te woon.—Hebreërs 10:23-25.
Daarom lyk dit miskien onwaarskynlik dat jongmense in Afrika hulle ook met ’n sekulêre werk sal wil belas. Maar baie sulke jongmense werk wel en op verskillende maniere: hulle bewerk hulle eie plase en verkoop die opbrengs, weef materiaal op weefstoele of maak mandjies wat hulle op die mark verkoop. Nog ander vang vis, verkoop koerante en pluk of verkoop vrugte.
Maar waarom werk hierdie jongmense? Beteken dit noodwendig dat jy dit ook moet doen?
Waarom hulle werk
Party jongmense is feitlik verplig om te werk as gevolg van omstandighede buite hulle beheer, soos die afsterwe van ’n ouer. (Dit kan ’n jongmens sonder iemand laat wat vir sy skoling kan betaal.) Aan die ander kant begin party jongmense werk om in ’n mate onafhanklik van hulle ouers te wees.
Beskou die voorbeeld van Kofi, ’n jong man in Ghana. Terwyl hy op tegniese skool was, het hy elke dag na skool twee uur lank plaaswerk gedoen.b Kofi verduidelik: “My ouers het vir my gesorg terwyl ek op laerskool was. Maar ek wou nie langer van hulle afhanklik wees vir alles wat ek nodig het nie. Daarom het ek begin werk. Ek het baie gelukkiger gevoel omdat ek my eie skryfbehoeftes kon koop en vir my skoolvervoer kon betaal.”
Kofi se broer Moses het ook ’n werk gehad. Terwyl Moses op hoërskool was, het hy privaatlesse vir jong skoolkinders gegee. Maar terwyl Kofi sy inkomste gepas gebruik het om in sy eie behoeftes te voorsien, het Moses van sy geld gebruik vir die onderhouding van die gesin. Waarom? Aangesien hy uit ’n gesin van agt kinders kom, het hy geredeneer: “Die feit dat ek deeltyds gewerk het, het my ouers in ’n mate gehelp om in die behoeftes van my ander broers en susters te voorsien.” Hy erken ook dat dit hom ’n gevoel van bevrediging gegee het om dinge vir homself te kan koop.
As ’n mens jou ouers finansieel help wanneer dit regtig nodig is, kan dit ’n manier wees om hulle die eer wat hulle toekom, te bewys (Efesiërs 6:1, 2). Terselfdertyd is dit egter nie noodwendig verkeerd as ’n mens werk om jou eie sakgeld te hê nie.
Wanneer ’n jongmens werk, kan dit ook baie daartoe bydra dat hy ’n verantwoordelikheidsbesef ontwikkel. Dit kan ’n jongmens help om vaardighede aan te leer wat later gebruik kan word om ’n gesin te onderhou. Jesus Christus het blykbaar die timmermansambag geleer deur saam met sy pleegvader te werk toe hy jonk was (Mattheüs 13:55; Markus 6:3). Maar ‘die oorgeblewe tyd is kort’ vir hierdie wêreld, en ’n verstandige jongmens maak seker dat sy of haar tyd nuttig gebruik word (1 Korinthiërs 7:29, NW; Efesiërs 5:16). Voordat jy dus begin werk, moet jy al die betrokke faktore oorweeg—jou beweegredes inkluis.
Bereken die koste
’n Paar vrae waaroor jy kan nadink is: Het my ouers werklik my finansiële hulp nodig of wil hulle dit selfs hê? Of is hulle bereid om met minder klaar te kom sodat ek my op my skoolwerk en geestelike ontwikkeling kan toelê? Het ek werklik ekstra geld nodig, of swig ek voor “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe”?—1 Johannes 2:16.
Die wyse man Salomo het gesê: “Ek het ook geleer waarom mense so hard werk om sukses te behaal: dit is omdat hulle jaloers is op die dinge wat hulle naaste het. Maar dit is vergeefs. Dit is ’n gejaag na wind . . . Dit is beter om net ’n bietjie te hê, saam met gemoedsrus, as om die heeltyd met albei hande besig te wees en die wind te probeer vang.”—Prediker 4:4-6, Today’s English Version.
Nog ’n faktor wat oorweeg moet word, is die uitwerking wat ’n betrekking op jou skoolwerk kan hê. Kofi, wat vroeër gemeld is, vertel: “Gedurende my eerste jaar in die tegniese skool toe ek nie gewerk het nie, was my akademiese prestasie uitstekend. Toe ek in die tweede jaar begin werk het, het my punte versleg. Ek het dit nog steeds reggekry om bogemiddelde punte te behaal, maar dit was baie vermoeiend.” Dit is interessant dat ’n navorsingstudie wat in die Verenigde State gedoen is, bevind het dat “’n betrekking tot ’n afname in skoolprestasie lei en jongmense se betrokkenheid by die skool verminder”.
Onthou jy Kofi se broer Moses wat privaatlesse gegee het? Hy erken: “As ’n mens nie versigtig is nie, kan jy meer leerlinge aanvaar as wat jy in die beperkte tyd wat beskikbaar is, kan onderrig.” Mawuli, nog ’n man in Afrika, het deeltyds as ’n visser gewerk. Hy sê: “Die versoeking was groot wanneer daar ’n groot vangs by die strand was. Ek het lus gevoel om die boeke te los om meer geld te gaan verdien. Baie seuns in die stat het dit gedoen en het die skool verlaat.”
Skool tesame met ’n betrekking kan ’n jongmens se kragte so uitput dat dit hom geestelik benadeel. Dit kan vir hom moeilik word om Christelike vergaderinge by te woon of om te konsentreer wanneer hy daar is. Persoonlike studie van die Bybel en Bybelse publikasies kan verwaarloos word.
Hoe om jou balans te behou
Nadat julle al die faktore oorweeg het, besluit jy en jou ouers nietemin dalk dat dit voordelig sal wees as jy die een of ander werk het. Wat kan jou in so ’n situasie help?
Selfdissipline is onontbeerlik. Die apostel Paulus het van sy eie inspanning gepraat toe hy gesê het: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar” (1 Korinthiërs 9:27). Dit sal selfdissipline verg om die geld wat jy verdien te spaar—nie te mors nie. Dit sal ook selfdissipline van jou verg om die tyd wat oor is behoorlik te gebruik. Natuurlik het ontspanning en genoegsame rus ook hulle plek en kan dit tot produktiewe werk bydra. Maar wees versigtig dat stokperdjies en ontspanning nie jou huiswerk en selfs geestelike belange verdring nie.
Jy sal dus ’n praktiese rooster vir studietye moet opstel—en daarby moet bly. Dit kan byvoorbeeld die beste wees om so gou moontlik nadat jy van die werk af huis toe kom met jou huiswerk te begin en nie te wag tot lank na aandete wanneer jy dalk te vaak voel nie. Ander verkies om vroeg bed toe te gaan en heel eerste in die oggend na hulle studies om te sien. Wat ook al die geval is, maak jou studietye so produktief moontlik. Moenie musiek speel of toelaat dat enigiets jou aandag aftrek nie. Jou huiswerk sal ook dalk makliker wees as jy aandagtig in die klas luister en aantekeninge van hoofpunte en aanvullende besonderhede maak.—Vergelyk Lukas 8:18.
Ons geestelike behoeftes is egter van die allergrootste belang (Mattheüs 5:3, NW). Om daarin te voorsien, moet jy ook tyd opsysit vir persoonlike Bybelstudie, Christelike vergaderinge en deelname aan die openbare bediening. Om te werk én skool te gaan is weliswaar veeleisend. Maar as jy albei moet doen, moet geestelike belange voorkeur geniet. Bid voortdurend tot Jehovah God om jou te help om jou geestelike balans te behou. As jy besluit om te werk terwyl jy op skool is, kan hy jou versterk om die druk van die situasie te verduur.—Jesaja 40:29-31.
[Voetnote]
a Hierdie artikel handel hoofsaaklik oor die situasie van jongmense in ontwikkelende lande. Die wenke wat hier uiteengesit word, is nietemin op Bybelbeginsels gebaseer en sal dus vir jongmense oor die hele wêreld nuttig wees.
b In sommige lande kan ’n jongmens kies of hy na ’n hoërskool (waar ’n verskeidenheid vakke aangebied word) of na ’n tegniese skool wil gaan wanneer hy sy laerskoolopleiding voltooi het.
[Prent op bladsy 21]
Party jongmense in Afrika het naskoolse werk. Maar wat is die voordele en nadele daarvan?