Jongmense vra . . .
Moet ek ’n naskoolse werk kry?
“Ontwaak!”: Hoekom het jy ’n naskoolse werk gekry?
Eric: Ek het by my ouers gewoon en wou hulle geldelik help.
Olga: Onafhanklikheid. Ek wou my eie geld hê.
Michelé: Ek het reeds ’n toelae gekry, maar ek wou werkservaring hê.
Duane: Ek het nie vir geld gewerk nie. Ek het gewerk om my oom te help wat ’n onderneming gehad het en verfwerk, messelwerk, ensovoorts gedoen het.
Anthony: Ek het gewerk, want ek wou klere koop.
“Ontwaak!”: Het jou ma nie vir jou klere gekoop nie?
Anthony: Nie die soort klere wat ek wou hê nie.
OORWEEG jy dit om ’n naskoolse werk te kry? Miskien wil jy net graag ’n bietjie meer sakgeld hê, en ’n werk lyk na die vinnigste manier om dit te kry.
’n Werk kan sy voordele hê.a Dit kan ’n jongmens verantwoordelikheid leer. Jy kan waardevolle ondervinding opdoen en nuttige vaardighede aanleer. Nietemin is nie alle aspekte van werk voordelig nie, en voordat jy ’n werk kry, moet jy die koste sorgvuldig bereken.—Vergelyk Lukas 14:28; 1 Korinthiërs 10:23.
Wat sal ek met die geld doen?
Baie jongmense werk omdat hulle ouers geldelike bystand nodig het. Hoërskoolonderwyser David L. Manning sê egter dat “dit lyk of genotsugtige eiebelange die hoofmotief vir deeltydse werk is”. ’n Groot deel van tieners se verdienstes word in werklikheid nie gespaar of aan gesinsuitgawes bestee nie, maar aan luukseartikels uitgegee, wat wissel van hoëtroustelle en konsertkaartjies tot duur seilskoene. Op die lange duur word die geld wat verdien word dikwels verkwis.
“Wat het ek met my geld gedoen?” was die reaksie van jong Michelé toe ’n Ontwaak!-verslaggewer ’n groep jongmense gevra het wat hulle met hulle verdienstes gedoen het. “Ek weet nie”, het sy erken. “Ek het niks gespaar nie. Ek dink ek het dit aan uitstappies bestee. Rolprente—ek het elke naweek gegaan. En skoene. Ek is versot op skoene. Ek het al tot [R650] vir ’n paar betaal.” Jong Olga het ’n soortgelyke antwoord gegee: “Ek dink ek het al my geld uitgegee. Hoe meer jy verdien, hoe meer gee jy uit. Maar ek het nie die vaagste benul wat daarvan geword het nie.”
“Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?” het Salomo gevra (Prediker 1:3). En sonder ’n duidelike rede om te werk, sonder ’n definitiewe plan met betrekking tot hoe jy die geld wat jy verdien, gaan gebruik—of spaar—kan jou harde werk eweneens nutteloos, vergeefs, wees.b ‘Maar watter kwaad kan dit doen om dit net te bestee aan dinge wat ek wil hê?’ vra jy dalk.
Dit is een ding om te werk vir dinge wat ’n mens werklik nodig het. Maar dit is ’n strik om lank en hard te swoeg vir dinge wat ’n mens net wil hê. Dit kan ’n ongesonde begeerte na materiële dinge aanwakker. (Vergelyk 1 Timotheüs 6:8, 9.) Dit kan ’n egosentriese, ek-eerste-gees voed wat strydig is met die Christelike gees van mededeelsaamheid (Handelinge 20:35). Sou dit dus nie die beste wees om voordat jy ’n werk kry, vas te stel of jy dit werklik nodig het nie?
Skool en werk
Die uitwerking wat ’n naskoolse werk op jou skoolwerk kan hê, is nog iets om in aanmerking te neem. “Niemand kan twee here dien nie”, het Jesus gesê (Mattheüs 6:24). Hierdie beginsel geld vir baie skoolkinders wat vind dat hulle vasgevang is in ’n konflik tussen die skool en die werk.
Studies toon dat die kanse heelwat groter is dat werkende jongmense van die skool sal wegbly as dié wat nie werk nie. En wanneer hulle wel daar is, let hulle dikwels nie op nie. “Ek het teen twaalfuur uit die skool gekom en het dan van eenuur tot vyfuur sekretariële werk gedoen”, verduidelik jong Olga. Die gevolg? “Ek was moeg. Skool en werk put jou uit.” Dit is dan geen wonder dat baie skoolkinders se punte daal na hulle begin werk nie. Party druip selfs.
“Ek moes die somerkursus bywoon”, onthou Anthony, wat gedruip het toe hy na skool by ’n fabriek gewerk het. Maar Anthony het dwarsdeur die somer aangehou werk. Die gevolg? “Ek het die somerkursus ook gedruip en moes ’n standerd herhaal.” Party slim leerlinge kan weliswaar steeds goeie punte behaal. Michelé sê: “Ek het net na my onderwyseres geluister, onthou wat sy gesê het en geslaag. Dit was nooit vir my nodig om te leer nie.” Maar daar is ’n hemelsbreë verskil tussen om net-net deur te kom op skool en om werklik vlytig te leer.—Vergelyk 1 Timotheüs 4:15.
As jy dit dus oorweeg om ’n werk te kry, vra jou af: ‘Sal ek redelike aandag aan my huiswerk kan skenk? Sal ek genoeg rus en slaap kan kry?’ (Prediker 4:6). Dit sal grootliks van die aard van die werk en die werksure afhang. Maar is dit werklik die prys werd as ’n werk jou skoolopvoeding strem?
Werk en jou gesin
Die uitwerking wat ’n naskoolse werk op jou verhouding met gesinslede kan hê, is ook van belang. “Ons eie studies toon . . . dat adolessente wat werk wel minder tyd aan gesinsbedrywighede bestee as hulle portuurs wat nie werk nie”, sê navorsers Laurence Steinberg en Ellen Greenberger. Byvoorbeeld, “baie werkende jongmense sê dat hulle minder dikwels aandete saam met hulle gesin eet (sodoende loop hulle een van die min geleenthede van die dag mis waartydens ouers en kinders kan ‘tred hou’ met mekaar se bedrywighede)”.
Etenstye was ’n belangrike deel van gesinslewe in Bybeltye en dit is steeds die geval onder God se volk van vandag. (Vergelyk Spreuke 15:17.) Baie gesinne onder Jehovah se Getuies gebruik die etenstyd in die oggend of die aand as ’n geleentheid om geestelike sake te bespreek. Sal ’n naskoolse werk jou verhinder om daaraan deel te neem?
Werkende jongmense kan ook heeltemal onafhanklik van hulle ouers begin voel. Sommige redeneer selfs dat aangesien hulle hul eie geld het, hulle minder onderworpe aan hulle ouers se gesag is. Maar ’n salaristjek verskoon jou nie van jou skriftuurlike verpligting om ‘na die tug van jou vader te luister’ of die ‘onderwysing van jou moeder’ te gehoorsaam nie (Spreuke 1:8). Jou ouers het die volste reg om byvoorbeeld te bepaal hoeveel van jou swaar verdiende geld aan gesinsuitgawes bestee moet word. Per slot van rekening, byna al hulle geld word daaraan bestee.
As jy besluit om te werk, kan jy gerus jou rypheid en jou belangstelling in die gesin se welstand toon deur jou ouers te vra hoeveel jy tot die gesinsbegroting kan bydra.
Jou werk en jou geestelikheid
Die heel belangrikste oorweging is die uitwerking wat ’n naskoolse werk op jou geestelikheid kan hê. Steinberg en Greenberger berig dat blootstelling aan die werkplek dikwels vorme van ‘afwykende gedrag’ in jeugdiges tot gevolg het, soos om by die werk te steel of in die skool te kul. Party jongmense swig selfs voor portuurdwang en gee vriende ongemagtigde afslag—of steel selfs vir hulle. Die werksdruk (en die feit dat kontant beskikbaar is) lei daartoe dat baie jongmense alkohol en dwelms begin misbruik.
Jy sal weliswaar nooit eens daaraan dink om sulke dinge te doen nie, omdat jy Christelike beginsels het. Maar as ’n jongmens ’n werk het, kan dit hom in groot mate aan “slegte gesprekke” blootstel (1 Korinthiërs 15:33). Sal jy sulke druk kan hanteer? “Wandel [jy] in wysheid teenoor die wat buite is” deur slegte omgang te vermy wanneer jy by die skool is? (Kolossense 4:5). Is jy werklik gereed vir die groter druk van die werkplek as jy ’n sekere mate van swakheid in hierdie opsig getoon het?
’n Veeleisende werkprogram kan dit ook vir jou moeilik maak om die Christelike roetine van vergaderinge, persoonlike Bybelstudie en deelname aan die Christelike bediening vol te hou. “Ek het weggebly van vergaderinge omdat ek moeg was na ’n dag van skool en werk”, sê Michelé.
Dit is dus ’n ernstige besluit om ’n naskoolse werk te kry. Al die betrokke faktore moet sorgvuldig oorweeg word. Bespreek die saak met jou ouers of ’n ryp Christen. Probeer hard om jou balans te behou as dit werklik nodig is om ’n werk te kry. Werk ’n rooster uit wat jou in staat stel om genoeg aandag aan jou skoolwerk en jou geestelike ontwikkeling te gee. As dit nie moontlik is nie, oorweeg ander maniere om geld te verdien. Miskien is daar groot take wat jy by die huis kan doen waarvoor jou ouers bereid sal wees om jou te betaal. Party jongmense begin klein ondernemings, soos om gras te sny of kinders op te pas, en dit stel hulle in staat om geld te verdien wanneer dit hulle pas.
Maar wat van jongmense in armer lande wat nie anders kan as om te werk nie? ’n Toekomstige artikel sal hulle situasie bespreek.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Sal ’n naskoolse werk my help om groot te word?” in ons vorige nommer.
b Sien Ontwaak! se nommers van 22 Desember 1988 en 22 Januarie 1989 vir wenke oor hoe om met geld te werk.
[Lokteks op bladsy 16]
“Dit lyk of genotsugtige eiebelange die hoofmotief vir deeltydse werk is”
[Prent op bladsy 15]
Werk jy om vir nodige uitgawes te betaal of om ’n liefde vir materiële dinge te bevredig?