Wanneer die kanaries vrek
KANARIES is gevoeliger vir giftige gasse as mense. Om dié rede het mynwerkers in die verlede ’n kanarie in ’n kou in die myn in gedra as ’n manier om die teenwoordigheid van giftige gasse op te spoor. Wanneer die kanaries gevrek het, het dit die mynwerkers gewaarsku en kon hulle die gevaar vryspring totdat die myn behoorlik geventileer is. Met hierdie agtergrond in gedagte kan ’n mens die opmerkings van dr. David Suzuki, ’n beroemde wetenskaplike in Kanada, beter verstaan.
As gevolg van sy besorgdheid oor die skynbaar dreigende dood van ons planeet Aarde het hy die volgende illustrasie gebruik: “Wanneer ’n steenkoolmynwerker ’n kanarie in die steenkoolmyn ingevat het en die kanarie omgekap het, het die mynwerker nie gesê: ‘O, daardie voël het nou net gevrek, maar ek is nie ’n voël nie.’ Die kanarie het gevrek omdat dit dieselfde lug ingeasem het.”
Toe het hy bygevoeg: “Wanneer jy sien dat 22 wit dolfyne in die St. Lawrence-seeweg vrek en dat hulle so vol giftige chemikalieë is dat jy handskoene en ’n masker moet dra om aan hulle te raak, wanneer mense vir ons sê dat die esdoringwoud in Quebec binne tien jaar dood sal wees, wanneer mense vir ons sê dat twee spesies per uur uitsterf en 10 000 robbe in die Noordsee gevrek het sonder dat hulle die rede daarvoor weet . . . dan is al hierdie dinge beslis kanaries, en as ons dink dat ons nie in dieselfde omgewing as daardie organismes is nie, is ons van lotjie getik.”
Dr. Suzuki betreur die feit dat politici min of geen aandag aan hierdie “kanaries” gee en nie die erns van die situasie sal besef totdat kinders in groot getalle begin sterf nie. Hy vra: “Gaan ons dus toelaat dat ons kinders ons kanaries word?”
Hoewel ware Christene besorg is, raak hulle nie wanhopig nie. Jehovah, die Skepper van die aarde, wat “dit nie geskape [het] om woes te wees nie, maar dit geformeer [het] om bewoon te word”, sal kortsigtige, hebsugtige mense nie toelaat om aan te hou om ons omgewing te verwoes nie. In sy Woord, die Bybel, belowe hy “om die verderwers van die aarde te verderf”.—Jesaja 45:18; Openbaring 11:18.