Watter vertroosting is daar vir die slagoffers?
VIR diegene wat voor die skielike verlies van hulle geliefdes in alkoholverwante ongelukke te staan kom, is daar “geen tyd . . . om ‘tot siens’, . . . of ‘ek is lief vir jou’ te sê nie”, sê Janice Lord, skrywer van Survivor Grief Following a Drunk-Driving Crash.
Soos ons uit die voorgaande gesien het, het oorlewendes baie om te verwerk: skok, afgryse, woede en wanhoop. Die dood van geliefdes op so ’n manier skep ’n gevoel van permanente verlies. Die oorlewendes kan dink dat die pyn wat hulle moes deurmaak nooit werklik ongedaan gemaak kan word nie.
Omdat baie owerhede besef watter pyn so ’n verlies veroorsaak, probeer hulle wette of toestande tot stand bring wat die skokkend hoë getal ongelukke jaarliks kan verminder. Een beampte het byvoorbeeld die aandag gevestig op karakterswakhede by diegene wat skuldig is aan drink-en-bestuur en het voorgestel dat aanmeldingsentrums vir hulle opgerig word waar hulle deur opvoeding en voorligting oor werk en dwelms ‘versterk kan word en die innerlike krag kan kry’ om hulle swakhede te bowe te kom.
Wat is werklik nodig?
Hoe wenslik dit ook al mag wees, geen mens of menslike bemiddeling kan die pyn uitwis wat die slagoffers ondergaan het nie, en geen mens kan die dooies terugbring nie. Wat nodig is om al die skade ongedaan te maak, is ver bo die mens se vermoë om te voorsien. Wat werklik nodig is, is ’n totaal ander wêreldstelsel, nie een wat gevestig is op die hedendaagse selfsugtige en vernietigende ‘sensasie ten alle koste’-benadering wat al so baie lewens geëis het nie.
Bestaan daar hoegenaamd ’n betroubare grondslag vir die vooruitsig op so ’n beter wêreld waar sulke tragedies iets van die verlede sal wees? Ja, daar is. Trouens, ons het ’n vaste hoop dat daar ’n nuwe wêreld hier op aarde sal wees waar hierdie tragedies sal verdwyn, ’n wêreld waarin selfs die slagoffers van ongelukke weer lewendig gemaak sal word. Wat ’n onbeskryflike vreugde wanneer hulle weer met hulle geliefdes verenig word! Dit sal ’n wêreld wees waar die treurige herinneringe van vorige tragedies mettertyd vir ewig uitgewis sal word.
Daardie hoop op ’n nuwe wêreld word gevind in God se geïnspireerde Woord, die Bybel, wat sê: “[God] sal die dood vir ewig vernietig, en die HERE sal die trane van alle aangesigte afvee” (Jesaja 25:8). Dit sal die opwekking van dooies uit die graf insluit. Soos die apostel Paulus geskryf het: “[Ek het] ’n hoop op God . . . dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Jesus en die apostels het dit bewys deur dooies op te wek.—Lukas 7:11-16; 8:40-42, 49-56; Johannes 11:1, 14, 38-45; Handelinge 9:36-42; 20:7-12.
Die lewe op aarde in ’n nuwe wêreld, met inbegrip van lewe vir dooies wat uit die graf opgewek is, sal pragtig bekroon word deur menslike volmaaktheid. God se genesende krag sal die verstande en liggame van almal wat dan lewe heeltemal genees: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.” “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”—Jesaja 33:24; 35:5, 6; sien ook Mattheüs 15:30, 31.
Die Bybel beskryf die toekomstige toestand van die mensdom op aarde deur te sê dat God “al die trane van hulle oë [sal] afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Die Voorsiener van die wonderlike voordele en verblydende toestande wat voorlê, sê: “Aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat ek skep.”—Jesaja 65:17, 18.
Maar op wie se gesag sal al hierdie dinge plaasvind? Op die gesag en mag van die grootse Hoopgewer, die Skepper van die heelal, Jehovah God. Hy waarborg in sy Woord dat so ’n nuwe stelsel waarin “geregtigheid woon” binnekort hierdie huidige selfsugtige en gewelddadige stelsel van dinge sal vervang, ’n stelsel wat reeds diep in sy “laaste dae” is.—2 Petrus 3:13; 2 Timotheüs 3:1-5, 13; Spreuke 2:21, 22.
Vertroosting uit God se Woord
Jehovah se Getuies is, net soos ander mense, nie immuun teen die tragedies van ons tyd nie, en hulle verwag ook nie om in hierdie gevaarlike wêreld goddelike beskerming teen die dood, hetsy per toeval of op ’n ander manier, te geniet nie. Hulle weet dat dit nie nou die wil van God is nie. Prediker 9:11 sê: “Tyd en lotgeval tref hulle almal.” Nogtans vestig die Getuies lank reeds die aandag op God se Woord, aangesien sy beloftes blywende vertroosting bied vir almal wat hulle aanvaar.
Een van Jehovah se Getuies is diep getref toe ’n dronkbestuurder vir haar swaer se dood verantwoordelik was en veroorsaak het dat sy vrou (haar suster) as gevolg van ’n ernstige hoofbesering verstandelik gestrem is, sodat sy nou voortdurende sorg nodig het. Hulle was ook Getuies van Jehovah. Sy vertel:
“Amper ’n jaar lank was ek dikwels in trane, en ek was kwaad. Ek was kwaad vir die jong man wat hierdie tragedie veroorsaak het, kwaad vir sy ouers omdat hulle nie beter toesig oor hom gehou het nie. Soms was daardie woede selfs tot God en die engele gerig omdat hulle dit nie gekeer het nie. Wat ’n onnodige verlies van twee pragtige mense wat hom gedien het!
“Dis waar, ek het geweet dat God nie regstreeks verantwoordelik was en nie wou hê dat sulke dinge moes gebeur nie. Maar ek het altyd gedink dat hy alles rig wat ons doen, en dat hy ons van sulke kwaad beskerm. Nou het ek besef dat ek ’n gebalanseerder beskouing hiervan moes kry, en ek het na antwoorde begin soek.
“Dit het lank geduur voordat ek die pyn kon verwerk en toe oor die saak kon redeneer. Ek het soos Asaf gevoel wat in Psalm 73 gesê het dat dit lyk asof die goddelose die begunstigdes is. Maar in daardie selfde psalm wys God se Woord ook dat dit nie so is nie, dat God nie die goddelose begunstig nie, en dat hulle op sy vasgestelde tyd vernietig sal word.
“Ek het tot die besef gekom dat my denke, nie God s’n nie, verkeerd was. Ek het tekste verkeerd toegepas. God waarborg nie nou vryheid van ongelukke, siekte of die dood nie, maar belowe sulke seëninge vir die toekoms, vir sy nuwe wêreld. Nadat ek begryp het wat God se Woord werklik sê, naamlik dat God ons nou in geestelike sin beskerm, nie fisies nie, het my woede geleidelik afgeneem. Ek kon my nou ook toespits op die werklike bron van sulke onheil, Satan die Duiwel, wat ’n mensemoordenaar en ’n leuenaar was van die tyd dat hy teen God in opstand gekom het. Die Bybel verklaar dat Satan die god is van hierdie wêreld wat so vol lyding is.—Johannes 8:44; 2 Korinthiërs 4:4.
“Toe ek eers beter verstaan het wat die werklike rede is waarom daar lyding is, waarom God dit toelaat en hoe hy dit uit die weg gaan ruim, het dit duidelik geword dat God nie ons teenstander is nie maar ons redding!
“Dit was ook ’n groot vertroosting om te weet dat Jehovah diegene wat hom dien deur middel van sy heilige gees bystaan. Die Bybel verseker ons dat die heilige gees ons die ‘krag wat die normale te bowe gaan’, sal gee. Hierdeur gee hy ons die krag om die ondraaglike te verdra. En hy vertroos ons ook met die hoop dat ons ons geliefdes in die opstanding sal sien. So kan ons oor teenspoed triomfeer.”—2 Korinthiërs 4:7, NW.
’n Goeie toekoms
Deur die jare heen het baie mense, waaronder Jehovah se Getuies, allerhande tragedies deurgemaak. Dit bevestig die waarheid van God se Woord, naamlik dat tyd en lotgeval almal tref (Prediker 9:11). Maar die ervaringe van God se knegte bevestig ook die waarheid van God se Woord dat Jehovah sy volk in tye van nood vertroos en ondersteun, en waarborg ook ’n goeie toekoms in sy nuwe wêreld waar sulke onheil iets van die verlede sal wees.
Dit is inderdaad vertroostend om te weet dat opregte liefde vir ons medemens en respek vir die kosbare gawe van lewe in God se regverdige nuwe wêreld sal heers. Hierdie edel eienskappe sal die selfsug en die uitbuiting van menslike swakhede vir eiegewin, waarvan die wêreld nou deurtrek is, vervang. Die sorge, spanning en angs van die huidige wêreld wat daartoe lei dat baie mense hulle tot die oormatige gebruik van alkohol of ander dwelms wend, sal tot die verlede behoort.
Jehovah se Getuies maak nou reeds ’n wêreldwye broederskap uit wat saamgebind is deur die verenigende krag van liefde (Johannes 13:34, 35). Diegene wat deel is van hierdie broederskap voorsien ’n sterk ondersteuningstelsel waardeur persone wat verliese gely het, bygestaan word. Hulle put vreugde daaruit om enigiemand wat vertroosting nodig het by te staan net soos hulle self ook gehelp is.—2 Korinthiërs 1:3, 4.
[Prent op bladsy 13]
Die Bybel beloof dat daar ’n opstanding van die dode gaan wees