Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 3/1 bl. 4-7
  • Waarom vra hulle vergifnis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom vra hulle vergifnis?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ekumenisme en sedelike reputasie
  • Nie almal stem saam nie
  • Goddelike oordeel
  • Die kerke bieg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Dilemma vir die Katolieke Kerk
    Ontwaak!—1991
  • Pogings om te verenig
    Ontwaak!—1991
  • Is Christelike eenheid moontlik?
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 3/1 bl. 4-7

Waarom vra hulle vergifnis?

DIE idee dat die kerke oor hulle foute berou moet toon en hulle moet hervorm, is nie nuut nie. Religioni e miti (Godsdienste en mites), ’n godsdienswoordeboek, sê dat die veronderstelde integriteit van die vroeë kerk gedurende die Middeleeue mense se belangstelling gewek en talle op hervorming laat aandring het.

In 1523, nadat Martin Luther sy bande met Rome verbreek het, het pous Hadrianus VI die breuk probeer heel deur hierdie boodskap aan die Ryksdag van Neurenberg te stuur: “Ons weet goed dat dinge wat verafsku behoort te word al jare lank om die Heilige Stoel plaasvind . . . Ons sal met alle ywer eers die Romeinse Kurie probeer hervorm, wat moontlik die oorsprong van al hierdie euwels is.” Maar daardie erkenning kon nie die kloof oorbrug of verdorwenheid in die pouslike Kurie teëwerk nie.

In onlangser tye is die kerke gekritiseer vir hulle stilswye met betrekking tot die Nazi-slagting. Hulle is ook daarvan beskuldig dat hulle nie hulle lede afgeraai het om aan oorloë deel te neem nie. In 1941, terwyl die Tweede Wêreldoorlog gewoed het, het ’n priester met die naam Primo Mazzolari gevra: “Waarom het Rome hom nie heftig verset teen die verswakking van Katolisisme soos hy altyd gedoen het en nog steeds gewoond is om in die geval van minder gevaarlike leerstellings te doen nie?” Leerstellings wat minder gevaarlik is as wat? Die priester het gepraat van nasionalisme wat oorlog aanstook en wat destyds besig was om die beskawing te verwoes.

Feit is egter dat skulderkenning deur godsdienste tot heel onlangs nog die uitsondering was en nie die reël nie. In reaksie op sommige wat die Katolieke Kerk aangespoor het om ‘herskep te word’, het Gregorius XVI in 1832 gesê: “Dit is natuurlik belaglik en lasterlik om ’n sekere ‘herstelling en herskepping’ vir [die kerk se] veiligheid en groei aan te beveel, asof dit as gebrekkig beskou kan word.” Wat van gebreke wat te opvallend was om te ontken? Verskillende metodes is gebruik om dit goed te praat. Party teoloë hou byvoorbeeld vol dat die kerk heilig sowel as sondig is. Die instelling self is na bewering heilig—deur God teen dwaling bewaar. Maar die lede daarvan is sondig. Wanneer gruweldade dus in die naam van die kerk gepleeg word, moet die instelling as sodanig nie aanspreeklik gehou word nie, maar wel individue in die kerk. Klink dit logies? Nie vir die Rooms-Katolieke teoloog Hans Küng nie, wat geskryf het: “Daar is geen ideale Kerk wat bo die mensewêreld verhef is nie.” Hy het verduidelik: “Daar bestaan geen Kerk wat nie sondes het om te bely nie.”

Ekumenisme en sedelike reputasie

Jy wonder dalk wat daartoe gelei het dat die kerke nou vergifnis vra. Protestante en lede van die Ortodokse Kerk het oorspronklik aanspreeklikheid aanvaar vir “vroeëre verdeeldhede” onder verskillende kerkgroepe. Hulle het dit gedoen by die “Geloof en orde”- ekumeniese konferensie wat in 1927 in Lausanne, Switserland, gehou is. Die Rooms-Katolieke Kerk het later hulle voorbeeld gevolg. Veral sedert Vatikaan IIa het hooggeplaaste biskoppe, waaronder pouse, al hoe meer vergifnis gevra vir verdeeldhede in die Christendom. Met watter doel? Hulle wil blykbaar meer eenheid in die Christendom hê. Die Katolieke geskiedkundige Nicolino Sarale het gesê dat daar agter Johannes-Paulus II se “‘mea culpas’-projek ’n plan is, naamlik ekumenisme”.

Maar dit behels meer as ekumenisme. Vandag is die Christendom se skandelike geskiedenis algemeen bekend. “Die Katoliek kan nie net al hierdie geskiedenis ignoreer nie”, sê die teoloog Hans Urs von Balthasar. “Die Kerk waaraan hy behoort, het dinge gedoen of toegelaat wat ons beslis nie vandag kan goedkeur nie.” Daarom het die Pous ’n kommissie aangestel om “lig te werp op die kerk se donker bladsye sodat . . . vergifnis gevra kan word”. Nog ’n rede vir die kerk se bereidwilligheid om hom aan selfkritiek te onderwerp, is dus blykbaar ’n begeerte om sy sedelike reputasie te herwin.

Waar die geskiedkundige Alberto Melloni kommentaar lewer oor die kerk se versoeke om vergifnis, skryf hy in ’n soortgelyke trant: “In werklikheid word daar soms gevra dat hulle van beskuldigings van aanspreeklikheid kwytgeskeld word.” Ja, dit lyk asof die Katolieke Kerk die las van vorige sondes probeer afskud sodat sy geloofwaardigheid in die openbaar herwin kan word. Maar daar moet in alle eerlikheid gesê word dat hulle blykbaar meer daarin belangstel om met die wêreld vrede te maak as met God.

Hierdie optrede herinner ons aan Saul, die eerste koning van Israel (1 Samuel 15:1-12). Hy het ’n ernstige oortreding begaan, en toe dit aan die kaak gestel is, het hy hom eers teenoor Samuel, ’n getroue profeet van God, probeer regverdig—sy sonde probeer goedpraat (1 Samuel 15:13-21). Eindelik moes die koning aan Samuel erken: “Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE . . . oortree het” (1 Samuel 15:24, 25). Ja, hy het skuld erken. Maar sy volgende woorde aan Samuel toon wat vir hom die belangrikste was: “Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel” (1 Samuel 15:30). Saul het klaarblyklik meer in sy posisie in Israel belanggestel as in versoening met God. Hierdie gesindheid het nie daartoe gelei dat God Saul vergewe het nie. Dink jy dat ’n soortgelyke gesindheid daartoe sal lei dat God die kerke vergewe?

Nie almal stem saam nie

Nie almal stem saam dat die kerke in die openbaar vergifnis moet vra nie. Etlike Rooms-Katolieke voel byvoorbeeld ongemaklik wanneer hulle pous vergifnis vra vir slawehandel of wanneer hy “ketters” soos Hus en Calvyn in hulle eer herstel. Volgens Vatikaanse bronne het kardinale wat in Junie 1994 ’n konsistorie bygewoon het die dokument gekritiseer wat aan die kardinale gestuur is om ’n “gewetensondersoek” in verband met die geskiedenis van die afgelope millennium van Katolisisme voor te stel. Toe die Pous nietemin die kern van daardie voorstel in ’n pouslike sendbrief wou insluit, het die Italiaanse kardinaal Giacomo Biffi ’n herderlike brief uitgestuur waarin hy bevestig het: “Die Kerk het geen sonde nie.” Hy het nogtans toegegee: “As ons vergifnis vir kerkdwalinge van vorige eeue vra . . . , kom ons dalk nie so onaangenaam voor nie.”

“Die belydenis van sonde is een van die mees omstrede onderwerpe in die Katolieke Kerk”, sê die Vatikaanse kommentator Luigi Accattoli. “As die Pous die oortredings van die sendelinge erken, is daar sendelinge wat in alle opregtheid gebelg daaroor is.” ’n Rooms-Katolieke joernalis het ook geskryf: “As die Pous werklik so ’n swak dunk van die Kerk se geskiedenis het, is dit moeilik om te verstaan hoe hy nou hierdie einste Kerk kan aanprys as die voorstander van ‘menseregte’, die ‘moeder en onderrigter’, die enigste een wat die mensdom na ’n waarlik rooskleurige derde millennium kan lei.”

Die Bybel waarsku teen ’n skyn van berou wat deur niks anders gemotiveer word as die verleentheid om op ’n misstap betrap te word nie. Daardie soort berou lei selde tot ’n langtermynverandering in die een wat berou toon. (Vergelyk 2 Korintiërs 7:8-11.) Berou wat in God se oë waarde het, gaan gepaard met ‘vrugte wat by berou pas’—dit wil sê bewys van die opregtheid van die berou.—Lukas 3:8.

Die Bybel sê dat iemand wat berou toon en sy sonde bely die verkeerde dade moet laat staan, dit nie meer moet doen nie (Spreuke 28:13). Het dit gebeur? Wel, wat het ná al die belydenisse van sondes deur die Rooms-Katolieke Kerk en ander kerke in onlangse burgerlike konflikte in Sentraal-Afrika en Oos-Europa gebeur waarby groot bevolkings “Christene” betrokke was? Het die kerke as ’n krag ter bevordering van vrede opgetree? Het al hulle leiers die gruweldade wat hulle lede gepleeg het eendragtig veroordeel? Nee. Party geestelikes het selfs aan die slagting deelgeneem!

Goddelike oordeel

Toe kardinaal Biffi van die Pous se herhaalde mea culpas gepraat het, het hy, ironies genoeg, gevra: “Sal dit nie vir ons almal beter wees om vir die universele oordeel te wag wat sondes in die geskiedenis betref nie?” Wel, die oordeel van die hele mensdom is op hande. Jehovah God ken al die donker bladsye van godsdiensgeskiedenis goed. Binnekort sal hy van die skuldiges rekenskap eis (Openbaring 18:4-8). Is dit moontlik om intussen ’n vorm van aanbidding te vind wat nie besmet is met die bloedskuld, die moorddadige onverdraagsaamheid en die ander misdade waarvoor die Christendom se kerke verskoning vra nie? Ja, dit is.

Hoe kan ons dit doen? Deur die reël toe te pas wat Jesus Christus gemeld het: “Aan hulle vrugte sal julle hulle herken.” Die geskiedenisverslag, wat party godsdienste graag sou wou hê mense moet vergeet, help ons nie net om diegene te identifiseer wat Jesus “valse profete” genoem het nie, maar ook dié wat “goeie vrugte” voortbring (Matteus 7:15-20). Wie is dit? Ons nooi jou om self uit te vind deur die Bybel saam met Jehovah se Getuies te ondersoek. Stel vas wie vandag werklik God se Woord probeer volg en nie ’n invloedryke posisie in die wêreld probeer handhaaf nie.—Handelinge 17:11.

[Voetnote]

a Die 21ste ekumeniese konsilie wat van 1962-65 in vier sessies in Rome vergader het.

[Prent op bladsy 5]

Die kerke vra verskoning vir gruweldade soos dié

[Erkenning]

The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel