Die houtkerwers van Kavango
Deur Ontwaak!-medewerker in Namibië
WAT het gebeur? Ek sit verskrik regop. Iets het my wakker gemaak. Ek tuur angstig die Afrika-nag in. Al wat ek sien, is die sterre wat helder deur die takke van die kameeldoringboom skitter.
Toe dring dit tot my deur—luister! Die stilte!
Die tromme het opgehou. Dwarsdeur die nag was die aanhoudende ge-doem-doem-de-dam-dam ’n agtergrond vir die ander geluide van die Afrika-bos, maar nou is dit stil. Aanvanklik is dit onheilspellend. Daarna word die gewone naggeluide weer hoorbaar. Die gekriek van krieke en die gezoem van muskiete, die gewoer, gepiep, gegons en gebrom van die duisende insekte is ’n musikale mosaïek wat die tropiese nag vul. Ek is nou wawyd wakker. Ek lê en dink aan hierdie fassinerende tromme en hoe ons gekyk het hoe hulle gekerf word.
Ek en my vrou het in ons woonwa op die oewer van die Okavangorivier geslaap. Ons het die gemeente van Jehovah se Getuies in Rundu besoek, ’n handelspos in die Kavango-provinsie in Noordoos-Namibië aan die Angolese grens. Terwyl ons deur die bos gereis het, is ons aandag getrek deur die opelugwerkwinkels, waar houtkerwers al fluitende besig was om boomstompe te kerf en te kap, te saag en te skuur.
Die snywerk het onder meer maskers ingesluit wat gebruik word vir seremoniële danse sowel as vir “uithangborde” buite krale waar daar siek mense is. Hierdie maskers dien om besoekers te waarsku en bose geeste weg te hou. Hoewel baie mense die maskers fassinerend vind, hou Christene in Kavango hulle nie in hulle huise aan nie weens hulle verband met bose geeste. Daarom is dit goed om te sien dat hierdie maskers nie meer die vernaamste kenmerk van die snywerk is nie maar dat verskillende geometriese ontwerpe nou vir versiering gebruik word.
Die hout wat gebruik word, is djatihout. Dit is jammer dat hierdie pragtige hout al hoe skaarser word in Kavango. Hopelik sal meer aandag aan die aanplant van nuwe bome geskenk word, want dit duur 50 jaar voordat hulle volgroeid is. Die hout het ’n mooi draad, met ligte en donker patrone, wat treffend in die snywerk gebruik word. ’n Geskikte boom word uitgesoek en dan afgekap of by die grond afgebrand. Daarna word dit na die werkwinkelhut gesleep, waar dit in ronde stompe of planke gesaag word na gelang van die kunsvoorwerp wat gemaak gaan word.
’n Saagmeule in die bos?
Terwyl ek gekyk het hoe die kerwers in een van die hutte werk, het ek ’n paar van hierdie reguit gesaagde planke in ’n hoek gesien. Omdat daar geen saagmeule of elektrisiteit in die bos is nie, was ek nuuskierig oor hoe hulle gesaag is. Ek het Joakim gevra terwyl hy besig was om aan ’n trom te kerf.
“Wel, jy sien, Tatekulu [Oudste]”, het hy verduidelik, “dit is eintlik heel maklik. Ons sleep die boom oor die gat. Jonas klim in die gat in, en ek staan bo, bo-op die boom. Jonas trek die saag af in die gat, dan trek ek dit op. Ons hou albei aan trek. Ons saag die boom gou klaar, en dan het ons die planke.”
“Maar”, het ek gesê, “dit moet julle seker lank neem, en dan moet julle baie moeg wees.”
“Nee, Tatekulu, nie regtig nie. Die son kom op en ons werk. Die son gaan onder en ons rus. Môre sal die son weer opkom. Die volgende dag ook, en die volgende. Daar is baie dae, baie tyd. Tyd om te werk en te rus.”
Taxi’s van die Okavango
Taxi’s in die hartjie van die Afrika-bos? Ja, maar dit is nie die taxi’s van die stad New York of die riksjas van Jangon nie. Die mense van die Okavangorivier doen ook ander sneewerk. Die taxi’s van die Okavango is die mawato, of mekoro soos hulle verder stroom af genoem word. Dit is uitgeholde kano’s, wat uit soliede boomstompe gekap is.
Jy sien, die Okavangorivier vorm die noordelike grens tussen Kavango en Angola en bied die maklikste vervoer—stroom op, stroom af of oor die rivier. Hetsy hulle stroom op na Ovambo, stroom af na Botswana of aan die oorkant na Angola wil gaan, die mawato, of watertaxi’s, kan ondanks mensgemaakte grense op hierdie waterhoofweg vaar.
Maar daar is twee inwoners van die rivier wat passasiers van ’n wato (enkelvoud) met diep respek moet erken. Ten spyte van mense wat hulle natuurlike habitat binnedring, word die krokodil en die seekoei steeds daar aangetref—en gevrees! Toe ’n wato eenkeer naby Rundu omgeslaan het, was een ongelukkige insittende te stadig en het hy nie die oewer gehaal nie. Hy is deur ’n krokodil doodgemaak!
’n Waarskuwende snork van “die koning van die rivier”, die seekoei, selfs ver weg, maak dat die veerman in sy watertaxi na die oewer laat spaander totdat hy seker is dat dit veilig is om die rivier oor te steek. Hy weet dat die gevreesde kake van die seekoei maklik ’n wato kan verbrysel.
Maar die taxi’s word nie net op water gebruik nie. As ’n wato, of mokoro, ouer word, en groter en gevaarliker lekplekke kry, word dit aan rivierdiens onttrek en op land as ’n slee of sleepwa gebruik. Ons het menige ou kano gesien, vol hout of goedere van ’n nabygeleë winkel gelaai, wat agter osse of donkies vasgemaak is en stadig oor die sagte sand van die Kavango gly.
Hierdie Okavango-taxi’s, wat nou toegerus is met betroubare eendonkiekragaandrywing, kan goedere en lewensmiddele oor terrein vervoer waar moderne veelperdekragvoertuie in die dik sand sal vassit. Oudmodies? Miskien. Langdradig? Moontlik. Stadig? Ja, wat party mense as stadig beskou. Maar Afrika is die tydlose land! Soos Joakim die houtkerwer gesê het: ‘Môre sal die son weer opkom. Daar is baie dae.’
Hierdie mense is die houtkerwers van Kavango. Wat ’n vreugde is dit tog om hulle te vertel van die boodskap van vrede wat deur God se Koninkryk gaan kom! (Mattheüs 24:14). In baie van die stamme is bygelowigheid algemeen, maar sade van Bybelwaarheid het wel wortel geskiet.
Drie jaar gelede was daar 23 gedoopte Getuies in die Rundu-gemeente. Hulle het in ’n klein Koninkryksaaltjie met houtmure en ’n lae sinkdak vergader. “Daar was plek vir hoogstens 40 mense”, sê Christo, ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies, “maar 56 het na die openbare toespraak kom luister. Hierdie is ’n tropiese streek in Afrika, en dit word baie warm en bedompig. My hemp was nat van die sweet terwyl ek die toespraak gehou het. In die beknopte Koninkryksaaltjie was dit te ongemaklik om ’n baadjie te dra.”
Ten spyte van hierdie onaangename toestande het die aantal belangstellendes wat die vergaderinge bygewoon het, bly toeneem. Planne om ’n groter en geskikter saal te bou, het dus ’n dringende saak geword. ’n Plaaslike Getuie het goedgunstiglik grond vir hierdie doel geskenk.
Getuies uit ander dele van Namibië en Suid-Afrika het op die oproep gereageer en het op hulle eie onkoste na hierdie afgeleë gebied gekom om die saal te help bou. Plaaslike mense het ook in die projek begin belangstel. Hoewel hulle nie self Getuies was nie, het jong Ambiri en Willem byvoorbeeld goedgunstiglik hulle hulp aangebied. Albei het kort daarna die Bybel begin studeer en vergaderinge begin bywoon. Nou is hulle ook gedoopte Getuies.
Nog ’n belangstellende wat met die bouwerk gehelp het, was Pedro, ’n vlugteling uit Angola. Pedro was ’n stoere Katoliek en het by sy werkplek met Getuies in ’n gesprek oor godsdiens betrokke geraak. Maar agterna het hy gedink: ‘Hoe is dit moontlik dat Jehovah se Getuies die Bybel so goed ken?’ Hy het toe ’n plan van aksie uitgewerk. Hy sou die Getuies vra om ’n Bybelstudie met hom te hou. Dan, sodra hy genoeg kennis het, sou hy die studie stopsit en die Bybel gebruik om te bewys dat die Getuies verkeerd is. Het sy plan geslaag? “Na die derde studie”, sê Pedro, “het ek huis toe gegaan en vir my ma gesê: ‘Ma, van vandag af is ek nie meer ’n Katoliek nie.’” Hoewel sy gesin hom teengestaan het, het Pedro vinnig vooruitgang gemaak en weldra uit die Katolieke Kerk bedank. Hy is in Desember 1989 by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Windhoek, Namibië, gedoop.
Ander belangstellendes het ook gehelp om die Koninkryksaal te bou. “Ek onthou iets wat gebeur het terwyl ons besig was om die fondament te lê”, sê Christo, die reisende opsiener. “Omtrent 40 van ons was besig met die werk. Ek het een persoon gesien wat ’n bietjie teruggetrokke gelyk het. Ek het my aan hom gaan voorstel en hom gevra: ‘Wie studeer die Bybel met jou?’ Jong Mateus het geantwoord: ‘Jy moet met hierdie mense praat, want hulle wil nie die Bybel met my studeer nie. Ek het hulle al baiekeer gevra om my te help, maar hulle het nog niks gedoen nie.’ Die rede hiervoor was dat die plaaslike Getuies alreeds soveel Bybelstudies gehou het dat hulle Mateus op die waglys geplaas het. Maar ek kon reëlings tref dat ’n Bybelstudie met hom gehou word, en vandag is Mateus ’n gedoopte Getuie.”
In Julie 1989 het die Rundu-gemeente hulle nuwe Koninkryksaal toegewy. Vandat hulle die saal begin gebruik het, is 10 nuwelinge gedoop, wat die getal gedoopte Getuies op 33 bring. Baie ander strewe daarna om gedoop te word, en gedurende die laaste besoek van die reisende opsiener het 118 die openbare toespraak bygewoon.
Ons hoop jy het hierdie kort toer na Kavango geniet—met sy merkwaardige rivier, pragtige bosse, bekwame houtkerwers en houttaxi’s—waar die boodskap van Jehovah se Koninkryk horende ore en ontvanklike harte vind.
[Prente op bladsy 16, 17]
Van links, regs om:
▪ Verkondigers voor ou Koninkryksaal
▪ Nuwe Koninkryksaal in Rundu
▪ ’n Krokodil en ’n seekoei in die Okavangorivier
▪ Verskillende maskers en sneewerk