Okavango—Afrika se woestynparadys
Deur Ontwaak!-medewerker in Suid-Afrika
DIE ligkring van die gaslampie was maar ’n skrale troos terwyl die trop olifante stilletjies in die donkerte om ons beweeg het. Hulle diep sugte en die geritsel van die takke het hulle teenwoordigheid verraai. Terwyl dit al hoe donkerder geword het op hierdie stil Afrikanag, het ons geweet dat meer as een paar oë ons dophou.
Die woestyn
Ons motor het vasgeval in die Okavango-delta—’n unieke waterryke wêreld wat net so skielik eindig as wat dit op die eindelose sand van die Kalahari-woestyn in noordelike Botswana begin. Hoewel die delta so groot soos Noord-Ierland is, raak dit weg in die 260 000 vierkante kilometer ongebaande, ongerepte Kalahari. Ná ons die grens van Suid-Afrika oorgesteek het, het ons met groot moeite teen ’n gemiddelde snelheid van 20 kilometer per uur deur 600 kilometer van doringveld, grasveld en soutpanne gery. Net ’n glinsterende lugspieëling het bedrieglik op die horison gedans.
Ons het op die vierde dag ’n bemoedigende verskynsel gesien. Die lug het begin om ’n waterblou helderheid aan te neem. Daar voor iewers was water. Baie water! ’n Moeras wat soos die vingers van ’n reusagtige hand uitstrek om ’n verskroeide woestyn in ’n grasgroen tuin te omskep. Die Okavango-rivier wat in die hooglande van Sentraal-Angola ontspring, kronkel deur 1600 kilometer van Afrika op soek na ’n oseaan. Dit is egter tevergeefs, want die rivier sterf op die verlate uitgestrektheid van die Kalahari. Maar voordat dit heeltemal doodloop, gee die ou rivier geboorte aan ’n unieke ekosisteem.
Die delta
Die water stroom wanordelik oor die sand en vorm ineengestrengelde waterlope, sekelvormige mere asook waterweë wat deur papirus omsoom word. Bome en plante trek ons aandag met ’n weelde van vorms en kleure. Ivoorpalm, wildevy, ebbehout en worsbome omsoom die moeras. Hoë buffelsgras, waterlelies en purperrooi blomme wat op die grond geval het, versag die lig van ’n wintersoggend. Maar hierdie is nog steeds Afrika, en weldra voel ons die bloedige hitte van die dag. ’n Welkome verligting word in die lappieswerk van hoë mopaniwoude gevind. Hierdie einste bome maak dit moontlik om deur hierdie wildernis te reis, want die swaaiende, krakende brûe wat van mopanistompe gemaak word, is al wat ons met die buitewêreld verbind.
Deltabewoners
Die groot verskeidenheid deltabewoners lok ons verder. Dit lyk asof daar ná die dorre woestyn ’n lighartige gees in die lug is terwyl al die diere rondspeel en luilekker in die modder rol met geen gedagte aan môre nie. Dertig seekoeie, spekvet van die lekker lewe, staar deur waterige ogies na ons. Hulle kort, diep snorke waarsku ons om nie in hulle Epikuriese lewenstyl in te meng nie. ’n Trop van meer as honderd olifante het so pas soveel stof opgeskop dat die dansende ligstrale speletjies met ons oë speel.
Daar is verbasend baie wild in die Okavango-delta. Twintigduisend buffels, in troppe van tot 200, wei tevrede al langs die grasrand. Die stilte word soms deur die roofdiere versteur—leeus, luiperds, hiënas en wildehonde. Die rusversteuring is gewoonlik kortstondig, en vroeg in die oggend verraai net ’n wentelende kolom aasvoëls die nag se slagting.
Groot termietkolonies stoot die grond van die delta in hope op wat al hoe groter word. Wanneer die water van die Okavango opstoot, word hierdie termiethope vrugbare eilande. Baie soorte antilope vind ’n hawe van vreedsame veiligheid op hierdie verspreide eilande van die moeras—tsessebe, wildebees, koedoe, basterwaterbok, bastergemsbok en die skaars waterkoedoe. Hierdie skaam antiloop skuil in die riete en waag dit selde in die oop veld. Enige teken van gevaar en hy gaan in die water in, met net sy neus wat vir lug uitsteek.
Water—lewegewende water! Die Okavango-delta is alles behalwe ’n lou moeras. Ontdekkingsreisiger en sendeling-dokter David Livingstone, wat in 1849 op hierdie gebied afgekom het, het gesê: “Ons het by ’n groot stroom uitgekom . . . Ek het gevra waarvandaan dit kom. ‘O, van ’n land vol riviere . . .’ Ons het gevind dat die water so helder, koud en sag was . . . dat die idee van smeltende sneeu in ons gedagte opgekom het!” Tilapia en tiervis is volop en dien as voedsel vir die bewoners van hierdie delta in Afrika.
Dit het min verander deur die jare, en dit lyk asof die tsetsevlieg en die muskiet daarin geslaag het om te keer dat die hand van die mens hierdie natuurparadys verwoes. Die Rivierboesmans was eens ware meesters van die Okavango. Die baYei-mense het later by hulle aangesluit. Jy is miskien vandag nog gelukkig genoeg om teen sononder te sien hoe bedrewe hulle hul mekoro (kano’s) met ’n paal voortdryf. Daar is ’n ou spreekwoord onder hulle: “Hy wat sy paal te diep stoot, bly daarmee saam agter”! As jy weer kyk, het hulle in die geheime kanale verdwyn wat deur die riete gesny is.
Die Okavango is ook ’n voëlliefhebber se paradys. Honderde spesies woon ten minste ’n gedeelte van die jaar in die delta. Snags kan ’n skerp kermgeluid jou na die skaars visuil lei, wat in die nag visvang. Gedurende die dag smelt die deurdringende geroep van die visarend saam met die ligsinnige gekwetter van die neushoringvoëls. Daar is dwergganse, reusereiers, heilige ibisse en die fyn uitgevatte langtone. Die verskeidenheid is eindeloos. Dit lyk asof die vroom maraboe-ooievare in hulle begrafnisondernemerspakke afkerig van hulle hoë uitkykpunte op die ligsinnige gebeure neerkyk.
Die ondergaande Afrikason verander die water in vloeibare vuur, en dit bring nog ’n dag in hierdie woestynparadys saggies tot ’n end. Die ritmiese musiek van ’n kalimba (handklavier uit Afrika) sweef op die windjie oor die water. Zebras, kameelperde en olifante kom van die grasvelde om hulle dors sy aan sy te les.
Hoe lank sal dit hou?
Stof en sweet maak stroompies modder wat teen ons liggame afloop terwyl ons sukkel om die as van ons Land-Rover te vervang. Sand so fyn soos talkpoeier het die wiele tot by die vellings ingesuig. Dit was toe dat die as gebreek het. Die nuwe as het met ’n tevrede klik in posisie ingeskuif.
Die dringendheid van die taak het veroorsaak dat ons nie deur die olifante om ons verontrus is nie, en hulle het ook nie bang gelyk nie. Dit het ons laat dink aan die tyd wanneer mens en dier weer in volmaakte harmonie sal saamleef (Genesis 2:19; Jesaja 11:6-9). Ons was net spyt dat ons binnekort die lang, stowwerige trek huis toe sou moes begin.
Maar soos met ander pragtige plekke op aarde is daar groeiende kommer oor die uitwerking wat die mens en sy moderne jagmetodes daarop het. “Elke jaar”, skryf Creina Bond in die boek Okavango—Sea of Land, Land of Water, “word 8 000 diere in die delta deur 1 300 stam- en 200 ontspanningsjagters doodgemaak.” Daarbenewens droom ander mense daarvan om die Okavango se water vir menslike gebruik aan te wend.
Wat die mens ook al doen, ons is seker dat die Skepper van hierdie wonder sy doel sal vervul om die hele aarde in ’n paradys te omskep. Dan sal sy aantrekking nog groter wees, want “die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; en die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water.”—Jesaja 35:1, 7.
[Kaart/Prente op bladsy 24, 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
ANGOLA
ZAMBIË
ZIMBABWE
NAMIBIË
BOTSWANA
SUID-AFRIKA
ATLANTIESE OSEAAN
INDIESE OSEAAN