Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 8/8 bl. 21-24
  • Die betekenis agter die masker

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die betekenis agter die masker
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die betekenis van die masker in Afrika
  • Die masker in aksie
  • Die betekenis van die masker vir die versamelaar
  • Die betekenis van die masker vir Christene
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1996
  • Bestaan die Duiwel werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Veilige verkenning van die wêreld onder die golwe
    Ontwaak!—1995
  • Die dansende duiwels van Yare
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 8/8 bl. 21-24

Die betekenis agter die masker

DIE BOSBEWONER GAAN MET ’N BYL IN SY HAND NA ’N BOOM IN ’N WOUD IN SENTRAAL-AFRIKA. SY TAAK IS GODSDIENSTIG VAN AARD, ’N TAAK WAT TALLOSE KERE DEUR DIE MILLENNIUMS HEEN IN AFRIKA UITGEVOER IS.

DIE bosbewoner glo dat daar ’n gees in die boom woon wat diepe eerbied verdien. Om homself teen die toorn van daardie gees te beskerm, het die bosbewoner ’n waarsêer geraadpleeg voordat hy die woud ingegaan het. Hy het toe ’n reinigingseremonie ondergaan en ’n offerande aan die gees van die boom gebring.

Hy kap die boom een keer met sy byl. Hy plaas sy lippe teen die kapmerk en suig dan van die sap op om verwantskap met die boom te verkry. Nadat die boom gevel is, los hy dit ’n paar dae lank op die grond om die gees genoeg tyd te gee om elders ’n tuiste te vind. Hy glo dat die boom ’n krag van sy eie het, al het die gees die boom verlaat. Die boom se krag is so sterk dat diegene wat die hout daarvan hanteer, vir hulle eie beskerming, voorgeskrewe tradisionele rituele sorgvuldig moet nakom.

In die vaardige hande van die beeldsnyer word die hout ’n masker. Daar word geglo dat die hout al hoe meer krag kry namate die masker vorm aanneem. Die beeldsnyer kan nie enige vorm maak waarvan hy hou nie; hy moet by die tradisionele vorme van sy etniese groep bly. As hy dit nie doen nie, loop hy die risiko om deur sy gemeenskap verwyt te word en hom die toorn van die masker se gees op die hals te haal.

Wanneer die masker voltooi is, voer die toordokter ’n inseëningseremonie uit waartydens hy magiese bestanddele aan die masker smeer. Daar word geglo dat die masker nou groot bonatuurlike krag het en die woonplek van die gees word waaraan dit gewy is. Die masker is nou gereed om in godsdiensseremonies gebruik te word.

Die betekenis van die masker in Afrika

Maskers word in baie dele van Afrika in aanbidding gebruik. Die boek Masks—Their Meaning and Function sê: “Die masker kan twee funksies hê: dit kan as ’n fetisj gebruik word, soos in die geval van die miniatuurmasker; of dit kan gedra word, in welke geval die doel daarvan is om voorouers, geeste of ander bonatuurlike wesens op te roep.”

Die geleerde Geoffrey Parrinder gee ’n breedvoeriger verduideliking in sy boek Religion in Africa en sê: “[Houtmaskers uit Afrika] is godsdienstig van aard, hetsy dit naturalisties, formeel of abstrak is. Dit stel die dooies of aanwesige geeste in hulle rituele voor, of ‘geheime organisasies’ wat met die dooies verband hou of dien om toordery te onderdruk. Hetsy uitdrukkingloos of skrikwekkend, misvormd of abstrak, die maskers lewer kragtige bewys van die vrees wat die dooies inboesem sowel as van die oortuiging dat die dood nie die einde is nie. Dit word gemaak om deur mense gedra te word wat die dooies voorstel terwyl hulle liggame gewoonlik onder die maskers met mantels bedek word, en daar moenie na hulle verwys word as mense nie maar as geeste.”

Behalwe dat maskers tydens begrafnisritusse en vir beskerming teen toordery gebruik word, speel maskers ’n belangrike rol tydens inwydingseremonies, feeste, regterlike sake, vrugbaarheidsritusse en “kommunikasie met die dooies”. Soms word maskers selfs in die vierings en seremonies van die Christendom gebruik. In Sierra Leone dans gemaskerde “duiwels” byvoorbeeld tot by die binnehof van ’n kerk as hoflikheidsbetuiging by huwelike. In al hierdie gebruike het die masker dieselfde basiese betekenis. Volgens die boek African Masks is hulle “bewaarplekke van goddelike krag, hetsy hulle bedoel is om ’n ernstige of ’n ligsinnige en vermaaklike funksie te vervul”.

Onder die meer as 1000 etniese groepe in Afrika is daar sowat 100 groepe wat maskers maak. Die maskers van die verskillende groepe verskil grootliks in vorm van mekaar, en hulle verskil volgens die doel wat hulle dien. Maar ondanks hierdie verskeidenheid is daar vasgestelde patrone wat deur volke oor groot dele van Afrika verstaan word. Maskers wat byvoorbeeld voorouergeeste uitbeeld, het gewoonlik ’n rustige voorkoms, terwyl maskers wat niemenslike geeste voorstel dikwels ’n eienaardige voorkoms het. ’n Hoë gewelfde voorkop beeld wysheid en diepe geestelikheid uit. Uitpeuloë of ’n star gesigsuitdrukking dui op ’n toestand van duiwelbesetenheid. Wit pigmentasie dui op die geeste van die dooies en ’n ‘onaardse’ hoedanigheid. Maskers wat gehoringde diere uitbeeld, veral die Afrikaanse buffel en wildsbokke, hou verband met geestebesweringseremonies, geesverhuising en toordery.

Die masker in aksie

In Afrika word maskers nie bloot teen die muur gehang nie; hulle word in rituele en danse gebruik. Hulle kan die draer se gesig of sy hele kop bedek. Die res van die persoon se liggaam word met lang mantels of repies raffiapalm of houtagtige plantvesel getooi.

Daar word geglo dat die draer direkte kontak met die gees van die masker het. The New Encyclopædia Britannica beskryf wat gebeur: “Wanneer die masker opgesit word, ondergaan die draer soms ’n psigiese verandering, en soos in ’n beswyming neem hy die karakter van die gees aan wat deur die masker uitgebeeld word. Gewoonlik word die draer egter op vaardige wyse ’n ‘deelgenoot’ van die karakter wat hy voorstel . . . Maar dit lyk asof die draer dikwels sielkundig heeltemal geheg raak aan die karakter wat hy help skep. Hy verloor sy eie identiteit en word soos ’n robot, sonder sy eie wil, wat ondergeskik geword het aan die gees van die masker.”

Vir goedgekeurde toeskouers—feitlik altyd slegs mans—is die masker nie bloot ’n voorstelling van ’n bonatuurlike persoon nie. Hulle glo dat ’n lewende bonatuurlike persoon in die masker beliggaam word. Daarom is die masker self heilig, en enige verbreking van die reëls word swaar deur die gemeenskap gestraf, soms met die dood. Vir sy beskerming moet die draer, soos die bosbewoner en die beeldsnyer, goedgekeurde prosedures volg.

Die betekenis van die masker vir die versamelaar

Maskers uit Afrika is veral gedurende die afgelope 100 jaar met groot entoesiasme regoor die wêreld versamel. Die masker beteken iets heeltemal anders vir die versamelaar as wat dit vir diegene beteken wat tradisionele godsdiens in Afrika beoefen.

Versamelaars beskou die masker nie as ’n heilige, godsdienstige voorwerp nie, maar sien dit as ’n kunswerk wat Afrikakultuur weerspieël. Hulle evalueer die masker nie volgens sy funksie in die gemeenskap nie, maar oordeel dit volgens sy eenvoudigheid, lewenskragtigheid en emosionele diepte. Versamelaars vra: Tot watter mate het die beeldsnyer ’n gevoel vir die hout self en vir die draad en strukturele patroon daarvan? Hoe kreatief en vindingryk is die beeldsnyer terwyl hy tog die styl volg wat deur kulturele tradisie voorgeskryf word?

Die versamelaar sien natuurlik nie die rol wat godsdiens in die gehalte van die werk speel oor die hoof nie. Daar is gewoonlik, as gevolg van verskille in die beeldsnyer se motivering, ’n groot verskil tussen maskers wat in aanbidding gebruik word en die replikas wat vir die toeristebedryf gebeeldsny word. Die boek Masks of Black Africa sê: “Die beeldsnyer . . . is geïnspireer deur sy diep oortuiging, sy ontsag vir sy taak om vorm te gee aan ’n oppermagtige, geestelike wese en om, in hierdie hoedanigheid, sy spesiale sosiale verantwoordelikheid na te kom. Sodra hierdie godsdienstige gevoel . . . vir hom van minder belang geword het, het sy werk, ondanks die ooglopende tegniese prestasies daarvan, leweloos en van minderwaardige kunsgehalte geword.”

Diegene wat maskers vir museums versamel, skenk gewoonlik meer aandag as kunsversamelaars aan die rol wat ’n masker in die gemeenskap gespeel het waaruit dit vandaan kom. Maar sulke spesifieke inligting ontbreek dikwels vanweë die manier waarop die meeste maskers deur die jare heen verkry is. Party is as aandenkings bymekaargemaak, ander was deel van die buit van militêre ekspedisies en nog ander is in groot getalle vir die kommersiële mark versamel. As gevolg hiervan is die oorspronklike betekenis en gebruik van individuele maskers dikwels onbekend.

Die betekenis van die masker vir Christene

Maskers het dus een betekenis vir diegene wat tradisionele godsdiens beoefen en ’n ander betekenis vir diegene wat hulle as kuns- en kulturele werke versamel. Vir Christene beteken hulle iets anders.

Die Bybel sê uitdruklik dat daar geen bonatuurlike krag inherent aan die masker of die boom waarvan dit kom, is nie. Die profeet Jesaja beskryf die sinneloosheid van iemand wat deel van ’n boom se hout gebruik om sy kos gaar te maak en homself warm te maak en dan dit wat oorbly in ’n god uitkerf op wie hy vir hulp vertrou (Jesaja 44:9-20). Dieselfde beginsel geld vir maskers wat in aanbidding gebruik word.

Christene erken nietemin dat daar “bose geesmagte in die hemelse plekke” is (Efesiërs 6:12). Onder Satan se invloed mislei hulle mense deur middel van valse godsdiens.—Openbaring 12:9.

Christene besef ook dat die demone tasbare voorwerpe gebruik om met mense te kommunikeer. Daarom hou knegte van God niks wat met spiritistiese godsdiens te doen het nie, hetsy dit ’n gelukbringertjie, ’n amulet, ’n magiese ring of ’n masker is. Wat dit betref, volg hulle die voorbeeld van die vroeë Christene in Efese. Die Bybel sê aangaande hulle: “Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand. En hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke werd was.”—Handelinge 19:19.

Diegene wat Jehovah wil dien, gebruik of hou nie maskers of enigiets anders wat met valse godsdiens verband hou nie. ’n Tipiese kommentaar is dié van Pius, ’n Christen- ouer man in Nigerië: “Maskers weerspieël die godsdiensdenke van diegene wat dit gebruik. Maskers het name en word vereer of gevrees na gelang van die god wat daardeur verteenwoordig word. Ek sal nooit ’n masker in my huis vertoon nie omdat dit Jehovah sal mishaag en ook omdat besoekers dalk sal aanneem dat ek saamstem met die godsdiensoortuiging wat daardeur verteenwoordig word.”

Ware Christene weet dat God se nadruklike wet aan Israel was: “Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.”—Exodus 20:4, 5, NAV.

[Venster op bladsy 23]

Maskers in baie kulture

Wat beteken die woord “masker” vir jou? In party kulture is die term ’n uitdrukking wat op die vermomming van iets dui. As jy in sport belangstel, dink jy moontlik aan ’n masker as iets om die gesig teen besering te beskerm, soos in bofbal of skermkuns. Jy dink moontlik aan die gasmasker, die chirurgiese masker of die partytjiemasker.

Vandag heg baie volke egter ’n godsdienstige betekenis aan maskers. The New Encyclopædia Britannica sê: “Maskers wat welwillende en skadelike heilige kragte in godsdiensdanse voorstel—veral in Boeddhistekloosters in Nepal, Tibet en Japan en in die meeste primitiewe gemeenskappe—maak [’n] kategorie van heilige voorstellingsvoorwerpe uit. Hulle word gewoonlik aanbid net soos beelde aanbid word.”

Maskers wat in aanbidding gebruik word, word in alle kulture aangetref en dateer uit die vroegste tye. Dit het waarskynlik ’n belangrike rol in ons voorouers se godsdiens- en sosiale lewe gespeel. Die boek Masks—Their Meaning and Function sê: “Aanvanklik is daar aan elke masker betekenis geheg, en die masker self of die draer daarvan het op geheimsinnige wyse die een of ander krag of gees voorgestel.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel