Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 7/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wêreldwye toename in Vigs
  • Godsdiens in Amerika
  • “’n Gewelddadiger Italië”
  • Beskerming van Afrika se reuse
  • Sataniese kultusse in Hongarye
  • Die Groot Koraalrif —nie so oud nie
  • Plastiekwoude
  • Vaarwel bruinbere?
  • Vreedsame naasbestaan
  • Kerk sit kollektiewe Misse stop
  • ‘Deurry’-kantoor
  • Wie besluit?
  • ’n Besoek aan die Groot Barrièrerif
    Ontwaak!—1991
  • Die Belize-barrièrerif—’n Wêrelderfenisgebied
    Ontwaak!—2007
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1999
  • Is daar plek vir mens sowel as dier?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 7/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Wêreldwye toename in Vigs

Die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) berig dat daar gedurende die eerste kwartaal van hierdie jaar volgens ’n wêreldwye opname 345-533 gevalle van die dodelike siekte Vigs in 162 lande was. Dit verteenwoordig ’n toename van 9,8 persent vergeleke met die vorige kwartaal. Aangesien dit niks ongewoons is dat nasies ’n laer Vigs-syfer rapporteer nie, meen die WGO dat die werklike getal vir die eerste drie maande vanjaar sowat 1,3 miljoen is.

Godsdiens in Amerika

’n Meningspeiling oor kerkverband in die Verenigde State het aan die lig gebring dat 86,5 persent van die bevolking, of 214 miljoen mense, beweer dat hulle Christene is. ’n Merkwaardige 90 persent het gesê dat hulle godsdienstig is, wat nogal verbasend hoog is vir ’n hipertegnologiese en welvarende nasie. “Indien so ’n opname gemaak is in Wes-Europa, van waar baie Amerikaners se voorouers gekom het, sou jy minstens ’n derde minder, of nog minder, vir elke aanduider kry”, het dr. Martin Marty, ’n godsdiensgeleerde aan die Universiteit van Chicago, gesê. Die Rooms-Katolieke geloof het die grootste getal aanhangers, 26 persent van alle Amerikaners, gevolg deur onderskeidelik Baptiste, Metodiste en Lutherane. Die grootste nie-Christelike geloof is die Joodse geloof, wat 1,8 persent van die bevolking beslaan; Moslems maak ’n half persent van die bevolking uit.

“’n Gewelddadiger Italië”

Italië se misdaadgegewens vir 1990 is nou ingewin, en volgens die Italiaanse koerant Corriere della Sera “spreek [dit] baie duidelik. En dit is rede tot kommer.” Misdaad het met 21,8 persent toegeneem vergeleke met die vorige jaar. Maar volgens syfers wat deur die Italiaanse instituut vir statistiek, ISTAT, voorsien is, is 2 501 640 misdade gedurende 1990 aan die regsowerhede gerapporteer. Daar is dus elke dag gemiddeld 6 854 misdade gepleeg, terwyl roof teen ’n skrikwekkende tempo toeneem. Daar is nie veel hoop op verbetering nie, aangesien 24 817 minderjariges volgens verslae in 1990 misdade gepleeg het, wat ’n vermeerdering van 17,9 persent is vergeleke met 1989. Dit is ’n “gewelddadiger Italië” wat die negentigerjare tegemoetgaan, sê die koerant La Repubblica.

Beskerming van Afrika se reuse

Volgens ’n Suid-Afrikaanse koerant The Star het ’n span Duitse kenners onlangs aangekondig dat Afrika se olifantbevolking vir die eerste keer in ’n dekade toegeneem het. Die span skat dat daar tans 609 000 olifante in Afrika is. Dit is minder as die helfte van die getal wat daar in 1979 was, maar die span meen dat die dalende tendensie uiteindelik gestuit is. Hulle skryf dit toe aan die algemene verbod op ivoor, wat tot dalende ivoorpryse en die ineenstorting van die ivoorhandel gelei het. Intussen word dringende pogings aangewend om die Afrika-renoster te beskerm. Bewaringsgesindes in Namibië sny nou renosters se horings af sodat wilddiewe nie ’n rede sal hê om die diere dood te maak nie. Maar volgens The Star voorspel Ted Reilly, ’n bewaringsgesinde van Swaziland, dat dié wanhopige maatreël nie sal slaag nie. Hy het al gesien dat wilddiewe selfs jong renosters vir hulle horinkies doodmaak.

Sataniese kultusse in Hongarye

Satanaanbidding het so algemeen onder die jongmense in Hongarye geword dat die nasie stomgeslaan is. “Ondersoeke na ritualistiese moorde deur tieners het honderde gevalle aan die lig gebring van jongmense wat in die versoeking gekom het om met satanisme te eksperimenteer nadat hulle tydskrifte gelees het wat onlangs oor die swart kunste verskyn het”, berig The European, ’n Londense weekblad. Een van hierdie ritualistiese moorde was dié deur ’n 17-jarige seun wat sy 13-jarige suster doodgesteek het, en daarna het hy haar in stukke gesny en haar organe in die kamer rondgestrooi. Dit is geen wonder dat Bela Csepe, verteenwoordiger van die Christen-Demokratiese Volksparty, versoek het dat advertensies van gruwellektuur, -films en -video’s verbied word nie.

Die Groot Koraalrif —nie so oud nie

Die wêreld se grootste koraalformasie—die Groot Koraalrif—is dalk nie so oud as wat vroeër gemeen is nie. Daar word bereken dat die uitgebreide stelsel koraalriwwe, wat sowat 2 000 kilometer ver langs die noordoostelike kus van Australië strek, ongeveer 20 miljoen jaar oud is. Geoloë wat die rif bestudeer, het egter onlangs deur die koraalformasies geboor. Hulle bevindinge het wetenskaplikes die rif se ouderdom weer laat ondersoek, en hulle meen nou dat dit maar tussen 500 duisend en eenmiljoen jaar oud kan wees. Terre Sauvage, ’n Franse tydskrif, sê die ontdekking sal waarskynlik ’n opskudding in die wetenskaplike gemeenskap veroorsaak omdat dit lyk asof dit in stryd is met die tradisionele evolusieteorie wat sê dat verskillende lewensvorme geleidelik oor miljoene jare verskyn het. Die getuienis van die rif dui blykbaar daarop dat lewe ontstaan het in wat Terre Sauvage beskryf het as “’n reusagtige genetiese ontploffing”.

Plastiekwoude

“As ons kunsmatige woude sou plant, sal die woestyne binne tien jaar bewerk kan word”, beweer die uitvinder Antonio Ibáñez Alba. In weerwil daarvan dat dit vergesog klink, is die idee goed ontvang deur verskeie lande in Noord-Afrika, berig Madrid se koerant Diario 16. Die idee is dat miljoene plastiekbome die woud se natuurlike rol moet dupliseer, naamlik om die vog in die naglug op te vang en die vogtigheid dan bedags vry te stel. Hierdie kunsmatige bome kan in teorie genoeg reën oor ’n tydperk van tien jaar veroorsaak om natuurlike bome die kans te gee om die taak oor te neem. Hoe lyk die poliuretaanbome? “Aangesien die natuur se ontwerpe die beste is, lyk hulle soos palmbome, die ideale vorm om dou op te vang en verdamping te vergemaklik”, verduidelik hulle ontwerper. Wat is hulle vernaamste voordele? Hulle het geen besproeiing nodig nie, en dit is onwaarskynlik dat hulle vir brandhout afgekap sal word.

Vaarwel bruinbere?

Die Paryse koerant Le Figaro sê dat Frankryk binnekort sy laaste bruinbeerbevolking kan verloor. Europa se bruinbeer, wie se habitat eens van die Britse Eilande tot in Spanje gestrek het, het feitlik heeltemal uit Wes-Europa verdwyn. Hierdie bere is sedert 1962 amptelik ’n beskermde spesie in Frankryk. Maar omgewingsdeskundiges vrees dat wilddiefstal, vergiftiging en die feit dat die beer sy natuurlike habitat in die Pireneë-gebergte tussen Frankryk en Spanje verloor het die getal oorblywende bere tot omtrent tien verminder het—te min om die spesie te laat voortbestaan. Omgewingsdeskundige Georges Érome betreur die feit dat pogings om die bere te red oënskynlik misluk het en sê: “Dit toon ons algehele onbevoegdheid om die omgewing te beheer. Ons besef egter vandag dat die omgewing lewe op sigself is.”

Vreedsame naasbestaan

Die kraaie het ’n stryd tussen hulle en die mens gewen—ten minste in die stad Ota in Japan. Jare lank reeds gebruik kraaie stukkies afvalstaal- en afvalkoperdraad om neste op elektriese hoëspanningsmaste te bou. Dit het die kraaie min geskeel of hulle metaalneste kragonderbrekings kan veroorsaak. Aangesien Tokio se Elektrisiteitsvoorsieningsmaatskappy moeg daarvoor is om gedurig hierdie neste te verwyder, het hulle uiteindelik besluit om die kraaie eerder met hulle nesbouery te help. Tokio se Asahi Evening News berig dat honderde mandjieagtige neste gedurende die eerste jaar van die elektrisiteitsmaatskappy se nuwe beleid op so ’n manier aan maste vasgemaak is dat dit elektriese probleme voorkom. Die kraaie lyk gelukkig met die nuwe mandjies. Nou leef die kraaie en die elektrisiteitsmaatskappy in Ota ten einde laaste saam in vreedsame naasbestaan.

Kerk sit kollektiewe Misse stop

Met die dekreet wat op 22 Februarie 1991 deur die Kongregasie vir die Klerus uitgevaardig is en wat in die Vatikaanse koerant L’Osservatore Romano gepubliseer is, het die Vatikaan probeer om die sogenaamde “verhandeling van akkumulatiewe Misse” stop te sit. Wat is “kollektiewe” of “akkumulatiewe Misse”? Die Katolieke Kerk laat ’n priester toe om donasies, hetsy van geld, produkte of handelsware, te aanvaar om ’n Mis vir ’n spesifieke “intensie” of voorneme, soos ’n requiem, te vier. Volgens ’n taamlik onlangse gebruik aanvaar party priesters egter, sonder die medewete van die skenkers, ook donasies van ander gelowiges, maar vier net een “kollektiewe” of “akkumulatiewe” Mis vir al die “intensies” wat versoek is. Volgens die dekreet sal die gebruik voortaan nie meer toegelaat word nie, tensy die skenkers hulle uitdruklike toestemming daarvoor gee. Hierdie besluit is geneem omdat, soos die dekreet verduidelik, “selfs die geringste blyk van winsbejag of simonie ’n skandaal tot gevolg sal hê”.

‘Deurry’-kantoor

Besoekers aan Osakastad, Japan, is verbaas om ’n snelweg te sien wat reg in ’n silindervormige gebou inloop en aan die ander kant uitkom. “Die padstruktuur sal nie aan die gebou raak nie, met die gevolg dat geen vibrasie gevoel behoort te word nie. Ons sal ook ’n muur oor die hoofweg bou om geraas te voorkom en om kantoorwerkers teen uitlaatgas te beskerm”, het ’n amptenaar van die Hansjin- publieke snelwegmaatskappy volgens die Mainichi Daily News gesê. Die vernaamste rede vir hierdie konstruksie is dat grond in die gebied 206 250 rand per vierkante meter kos, met die gevolg dat die Hansjin-maatskappy ’n aansienlike bedrag van bykans 33 000 000 rand bespaar deur die verhoogde snelweg deur die vyfde tot sewende verdieping van die 16 verdieping hoë gebou te laat gaan. Dit is die eerste van drie hoofweë-via-geboue wat in Osaka opgerig moet word en wat teen aanstaande jaar in gebruik geneem sal word.

Wie besluit?

Adverteerders weet al lank hoe om kinders te lok en sodoende die ouers te kry om te koop. Le Figaro Magazine sê ’n opname deur die Franse Kinderinstituut het aan die lig gebring dat “’n kind se opinie deurslaggewend in die volgende kategorieë is: voedsel (70%), beplanning van ’n vakansie (51%), higiëne en skoonheidsmiddels (43%), huishoudelike toestelle (40%), TV-hoëtrou (33%) en motors (30%)”. Maar ’n bestuurder van ’n groot reklameburo het hierdie eenvoudige wenk gegee: “Volwassenes behoort nie hulle kinders toe te laat om hulle te regeer nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel