Mexiko se verlede beïnvloed vandag sy godsdiens
Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko
’N BESOEK aan die enorme Nasionale Museum van Antropologie in die stad Mexiko onthul hoe die Katolieke godsdiens wat vandag deur baie mense in Mexiko beoefen word deur die stamgelowe van vorige eeue beïnvloed is.
Geskiedenisstudente is bekend met die manier waarop Hernando Cortes en medeveroweraars Katolisisme in die sestiende eeu in Mexiko bekend gestel het. Teen daardie tyd was daar reeds gevestigde kulture met hulle eie godsdiensoortuigings, soos die interessante uitstallings in die Nasionale Museum toon.
Mexi was die Mexika-stam se eerste god, en dit is dus maklik om te sien waar die land en sy hoofstad, die stad Mexiko, hulle naam vandaan gekry het. Hierdie vroeë Indiane het die stad Mexiko in ongeveer 1325 op ’n onvrugbare eiland in die middel van die Texcoco-meer opgerig. Verskeie stamme Indiane het die oorspronklike bevolking uitgemaak. Daar was onder andere Olmeke, Chichimec-indiane, Asteke en Majas. Elke stam het sy eie kunswerke gehad en die ruïnes van party van hulle vroeë geboue, tempels en stede kan nog gesien word.
’n Godsdiensvermenging
Besoekers aan die museum, wat in die pragtige Chapultepec-park geleë is, is gewoonlik verbaas om te hoor in watter mate die eertydse en die hedendaagse oortuigings van Mexiko se mense vermeng is. Daarbenewens vind baie mense die ooreenkoms tussen vroeë stamoortuigings en dié wat deur die Katolieke veroweraars bekend gestel is interessant.
In die Asteke-saal beeld verskeie kaarte die stigting van Mexiko uit. Uit die uitstallings is dit duidelik dat die Asteke taamlik godsdienstig was. Hier kan baie beeldhouwerke gesien word van gode en godinne wat deur die Asteke vereer is. Een groot beeldhouwerk, wat op hierdie bladsy weergegee word, is van die godin Coatlicue, wat as die moeder van die gode sowel as die mense beskou is. Let daarop dat sy, pleks van ’n mensekop, twee slangkoppe het wat na mekaar kyk. Haar rok bestaan uit inmekaargevlegte slange. Dit lyk of van hierdie simbole die lewe en die dood voorstel.
Met die koms van die veroweraars het baie Indiane na dig begroeide gebiede of na die woude gevlug. Deur hulle so af te sonder, het party Indiaangroepe baie van hulle primitiewe godsdiensidees tot vandag toe behou. “Byvoorbeeld”, het een van die gidse by die museum verduidelik, “die Huichol glo dat die son, die hert en die mielie ’n triade uitmaak, soortgelyk aan die Katolieke Drie-eenheidsleer.” Sy het bygevoeg: “Die Indiane van die staat Chiapas aanbid nou nog antieke voor-Spaanse gode soos die reëngod, die aardgod en die windgod, en hulle het vir elkeen ’n ander seremonie.”
Jy wonder dalk waarom soveel mense in Mexiko vandag beweer dat hulle Christene is terwyl hulle ook ander vorme van aanbidding beoefen. In verband hiermee merk ’n inskripsie in die saal “Inleiding tot die Etnografie” op: “Godsdiens kleur elke aspek van die Indiaanse lewenswyse. . . . Die belangrikste kenmerk van die Indiaan se godsdiens is die mengsel van Katolieke gebruike met heidense gebruike, wat oorblyfsels van voor-Spaanse oortuigings en maniere van aanbidding is. Die Huichol, Lacandon en Otomi het die meeste voor-Spaanse trekke in hulle godsdiens behou; [die Huichol] aanbid gode wat die son, water en vuur voorstel, en hulle word in grotte gehou. Die Lacandon aanbid steeds antieke afgode wat in die Maja-tempels gevind word.” Ja, die vermenging van Katolisisme met antieke heidense godsdienste is algemeen in Mexiko.
Dit word verder toegelig deur uitstallings in die Noordoos-saal. Hierdie uitstallings vertel van die oortuigings van die Yaqui, Seri en Tarahumara. ’n Inskripsie in hierdie saal lui: “Die Yaqui is vandag ’n baie godsdienstige nasie en hulle opvattings is Christelik, alhoewel dit verander en aangepas is. Hulle glo dat Christus ’n Yaqui was wat na die aarde toe gekom het om hulle van die vloed te red, om hulle hul gebied te gee, om hulle agt dorpe te stig en om vir hulle die Comunila (groep gesaghebbendes) te gee. . . . Hulle duld nie Protestantse proselitisme nie en laat ook nie die teenwoordigheid van ’n Katolieke priester toe nie.”
Die inskripsie het nietemin voorts gesê: “Saam met die ingewikkelde oortuigings en magiese seremonies en oorblyfsels van die voor-Spaanse godsdiens, aanvaar hulle ook die Katolieke godsdiens. Hulle glo in ’n Christelike god en identifiseer hom dikwels as die son.”
Wat besoekers in die Tarahumara-gedeelte sien, bevestig die vermenging van antieke en moderne godsdiensoortuigings nog verder. ’n Venstertjie met houtkruise kan daar gesien word; ’n inskripsie onderaan sê: “Die Tarahumara-godsdiens is die produk van ’n mengsel van Christelike en heidense oortuigings. Eersgenoemde is in die 17de eeu deur Franciskaanse sendelinge bekend gestel. Hulle glo in Tata Rioshi (God die Vader), in Christus Jesus, in Everuame (die Groot Moeder, of die Maagd Maria) en in ander heiliges wat sekere dorpies se beskermheiliges is. Hulle word almal as gode beskou. Die kruis is van besondere belang, omdat hulle dit in verband bring met die son en die maan sowel as die aanbidding van grondvrugbaarheid.”
In die Seri-gedeelte verduidelik ’n ander inskripsie: “Die godsdiens wat die Seri beoefen, is ’n mengsel van antieke oortuigings met Christelike invloede.”
Daar is nog baie om te sien wat die godsdienstige oortuigings van die vroeë Indiaanse inwoners na vore bring. Byvoorbeeld, in die Mesoamerika-saal is pragtige muurkuns wat die vyf kulture uit die streke van die Stille Oseaan, die Golfkus, die Majas, die Altiplano en die Mixtek-indiane voorstel. Die inwoners word uitgebeeld waar hulle mielies, die jaguar, die ratelslang en die arend aanbid—wat almal as gode beskou is.
Na ’n besoek aan die pragtige Nasionale Museum van Antropologie besef ’n mens in watter mate die antieke rites en oortuigings van die land se vroeë Indiaanse inwoners met dié van die Katolieke veroweraars vermeng het. Soos die uitstallings toon, word baie mense in Mexiko vandag nog deur stamgelowe van vorige eeue beïnvloed.