Van ons lesers
Flirtasie Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek die pyn van ’n flirtasie vermy?” (8 Desember 1991). As gevolg van ’n flirtasie het ek onlangs die pyn en gevoel dat ek misbruik is, ondervind toe die jong man aan wie ek verloof was ons verhouding skielik en sonder rede beëindig het. Ek het later uitgevind dat hy ’n reputasie as ’n flirt het en ander voor my seergemaak het. Ek besef nou dat ek ook gedeeltelik die skuld van hierdie pynlike situasie dra omdat ek te gou te emosioneel betrokke geraak het. Ek wens net dat hierdie inligting maande gelede beskikbaar was.
G. T., Verenigde State
’n Jong man het vir my gesê dat hy net ’n vriendin wil hê, en ek het daartoe ingestem. Maar hy het aangehou om my te bel en om my uit te neem. Toe hy my later vra of ek dit sou oorweeg om met hom te trou, was ek in die wolke! Maar ’n jaar later sê hy vir my dat hy nooit werklik wou trou nie. Hy sê ek moes nie so emosioneel oor dinge geraak het nie, aangesien hy my aan die begin gesê het dat hy nie gereed vir die huwelik is nie. Om homself te beskerm, sê hy nou dat hy nog met my wil trou—maar in die nuwe wêreld. Ek voel nog baie seergemaak, maar die artikel help my om die situasie te verwerk.
S. Y., Verenigde State
Gesinne kom na aan mekaar Ek is een van daardie pa’s wat nog nooit in sy kinders belanggestel het nie. Ek het nie besef watter gevolge dit op die duur kan hê nie. Toe ek julle artikels oor “Gesinne—Kom na aan mekaar voor dit te laat is” (22 September 1991) gelees het, het dit my geweldig aangegryp! Ek belowe om te verander en my bes te doen om liefdevoller teenoor my kinders te wees.
J. B. M., Gaboen
Die artikels het gesê dat ’n mens op ’n baba se gehuil moet reageer. Beteken dit dat ons elke keer as hy huil daarop moet reageer? Sal dit nie in daardie geval die baba leer om sy ouers te manipuleer en uiteindelik tot sy nadeel strek nie?
S. H., Verenigde State
Ons het nie ’n vaste reël neergelê nie, maar het moeders oor die algemeen aangemoedig om op hulle baba se behoeftes te reageer. En hoewel daar geldige redes is om besorg te wees dat ’n mens ouer babas en klein kindertjies kan bederf, meen die meeste dokters dat ’n mens baie jong babas nie sommer sal bederf as jy op hulle gehuil reageer nie.—Sien die artikel “Jannie, bly tog stil!” in die “Ontwaak!” van 8 Januarie 1983.—RED.
Bedrog in die wetenskap Ek het veral in die artikel “Kullery in die wetenskap” (22 November 1991) belanggestel. Ek is verbonde aan een van die institute wat in die artikel gemeld word en dit is skokkend om te weet dat sulke dinge in die wetenskaplike gemeenskap, wat allerweë vertrou word, kan gebeur. Sulke dinge gebeur wanneer mededinging en die druk om bo uit te kom belangriker as eerlikheid is. Ek bewonder dr. O’Toole se moed en eerlikheid—wat haar haar werk gekos het! Die gesindheid is blykbaar: ‘Wie het dr. O’Toole gedink is sy om dr. Imanishi-Kari tereg te wys?’ Onbevooroordeeldheid is veronderstel om ’n kenmerk van wetenskaplikes te wees, maar partykeer is die teendeel waar.
O. O., Verenigde State
Wol Ek wil julle bedank vir die artikel “Die wonder van wol” (22 September 1991). Ek leer nou om ’n kleremaker te wees en ons het iets oor wol geleer. Ek het my skooltaak op hierdie artikel gebaseer. Ek was ’n bietjie bang om dit te doen, aangesien my skoolmaats my bespot omdat ek een van Jehovah se Getuies is. Ons hoof het selfs ’n toespraak gehou om die kinders teen Jehovah se Getuies te waarsku! Maar my onderwyser het die artikel met belangstelling gelees en vir ’n persoonlike eksemplaar van die Ontwaak! gevra.
P. A., Tsjeggo-Slowakye