Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 1/22 bl. 24-27
  • ’n Kykie in die goue era van die Inkas

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Kykie in die goue era van die Inkas
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle oorsprong—’n raaisel
  • Die lewe in ’n Ayllu in die Inka-ryk
  • Die glorie van Cuzco
  • Die ondergang van die Inka-ryk
  • Hoe die Inkas hulle Goue Ryk verloor het
    Ontwaak!—1998
  • Cuzco—eertydse hoofstad van die Inkas
    Ontwaak!—1997
  • Die boodskap móét deurkom
    Ontwaak!—2006
  • Peru se buitengewone grafte—Wat dit ons kan leer
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 1/22 bl. 24-27

’n Kykie in die goue era van die Inkas

Deur Ontwaak!-medewerker in Peru

Dit is die tyd van die wintersonstilstand—tyd vir die groot sonfees. Terwyl die wolklose winterlug oor Cuzco helderder word, stroom die aanbidders agter die massiewe ringmuur in wat om die Sontempel gebou is.

Almal se oë is nou op die hoëpriester gerig terwyl hy ’n offerlama slag, die kloppende hart uithaal en deur waarsêery probeer vasstel wat die nuwe jaar inhou. ’n Blinkgevryfde silwer spieël glinster in sy hand terwyl hy die son se strale op ’n stukkie katoen rig. Uiteindelik trek daar ’n rokie en die heilige vuur brand weer eens. Die negedaagse fees het begin.

DIE Inkas en hulle beskawing wek al lank verwondering onder ontdekkingsreisigers, geskiedskrywers en lesers van die geskiedenis. Die Inkas se legendariese rykdom in goud en silwer wat deur die Spaanse veroweraars geplunder is, het die hele Europese ekonomiese stelsel verander. Ingenieurswonders, soos die geheimsinnige Macchu Picchu-vesting, die Sacsahuaman-vesting van Cuzco en die vernuftig ontwerpte besproeiingstelsel, getuig van die Inkas se tegnologiese briljantheid. Sommige beweer selfs dat daar geen diefstal, luiheid of verdorwenheid onder die Inkas was nie. Hoe dit ook al sy, dit is eenvoudig ongelooflik dat een regering beheer kon uitoefen oor ’n hele aantal stamme, waarvan baie in die hoekies en gaatjies van sommige van die hoogste en bedrieglikste berge in die wêreld versteek was.

Hulle oorsprong—’n raaisel

Maar wie was die Inkas nou eintlik? Waar het hulle vandaan gekom? Wat het die ineenstorting van hulle magtige ryk teweeggebring?

Niemand weet werklik waar die Inkas vandaan gekom het nie. Sommige het al daarop gewys dat daar ooreenkomste tussen hulle en die eertydse Egiptenaars is. Die Inka-vors is, soos Farao, as die seun van die songod vereer en het ook met sy suster getrou om die “koninklike bloed” te bewaar. Sommige van hulle godsdiensgebruike was identies, en die Inka-bote wat vroeër oor en weer oor die Titicaca-meer gevaar het, het baie soos die Egiptiese rietbote gelyk. Maar ten spyte van hulle ooreenkomste, is daar ’n aantal groot verskille tussen die Inkas en die Egiptenaars. Daarom word dit sterk betwyfel dat die Inkas ’n Egiptiese oorsprong gehad het.

Een Inka-legende beweer interessant genoeg dat die oorspronklike Inkas vloedoorlewendes was. Die boek Sociografia del Inkario sê: “Al die tradisies van die mense op die Andes-altiplano vertel van ’n vloed wat die hele aarde oordek het.” Volgens een Inka-legende het alle lewende wesens omgekom. Maar ’n ander weergawe vertel van sommige mense “wat gered is deur in ’n holte op ’n baie hoë bergpiek te skuil en dat hulle die aarde weer met mense gevul het”.

Die ooreenkoms met die Bybel se Vloedverslag is opvallend. Die Inkas se voorouers moes nietemin die een of ander tyd ná die verwarring van tale by Babel na Suid-Amerika gegaan het.—Genesis 11:1-9.

Maar watter soort mense was die eertydse Inkas? Hoe het hulle gelewe? Om dit te beantwoord, kom ons gaan terug in die tyd na die goue era van die Inkas.

Die lewe in ’n Ayllu in die Inka-ryk

Dit is die jaar 1500. Ons kyk uit oor ’n gelykte onder in ’n vallei wat besaai is met kliphuisies. Dit is ’n dorpie van ’n Inka-ayllu, dit wil sê, ’n familiegroep wat saam woon en werk. Die hele Inka-ryk is in ayllus verdeel, en daar word oor elkeen van hulle toesig gehou deur ’n hoofman wat ’n curaca genoem word. Gesinne woon in grasdakhuise wat van klip en modder gebou is. Daar bestaan feitlik geen tafels, stoele of enige ander stoflike geriewe nie. Hulle sit eenvoudig op die vloer om hulle twee karige daaglikse maaltye van ontwaterde aartappels, mielies, quinoa en gedroogde lamavleis te eet. Die hele gesin slaap snags op die vloer.

’n Geheimsinnige vrees vir die bose bestaan op feitlik elke gebied van die Inka-lewe. Ons nader ’n groep mense wat vergader is om ’n fondament wat so pas vir ’n rousteenvertrek gelê is. ’n Man plaas ’n gedroogde lamafetus plegtig in ’n ingeboude nissie. Dit is om die Pacha-Mama, of Moeder Aarde, te paai en die huis teen die bose te beskerm. Ander fetisje, wat uit sierade van diere, skulpe en vere bestaan, sal in die laste van die mure gesit of in die grasdak ingeweef word.

Die Inkas is bang dat die bose hulle sal oorval selfs wanneer hulle slaap. Hulle dink dat eienaardige drome avonture is wat die siel beleef wanneer dit die liggaam gedurende die nag verlaat. Hulle sal die volgende oggend moontlik ’n towenaar raadpleeg om sulke drome uit te lê.

Die Inkas se verwagte lewensduur is kort, maar hulle glo aan reïnkarnasie. Vingernael- en haarknipsels, asook tande, word getrou gebêre ingeval die gees wat terugkom hulle sal nodig kry. Intussen sal die persoon, as hy ’n goeie mens was, na ’n wagplek genaamd Hanan Pacha gaan; as hy nie so ’n goeie mens was nie, sal hy na Hurin Pacha gaan en as hy sleg was, sal hy na Ucu Pacha gaan om in ellende te ly—dit is soortgelyk aan die Christendom se beskouing van die hemel, die hel en die vaevuur.

Die glorie van Cuzco

Ons nader vervolgens die uitgestrekte Sacsahuaman-vesting wat beskerming aan Cuzco, die kern van die Inka-ryk, verleen. Massiewe uitgekapte steenblokke, waarvan sommige meer as honderd ton weeg, is deur duisende Inka-werkers van verafgeleë steengroewe oor berge en klowe hierheen gesleep. Hierdie steenblokke vorm ’n reeks van drie ontsaglike mure. Enigiemand wat die vesting wil binneval, sal vanweë die sigsagontwerp van die mure hulle rug aan die Inka-boogskutters en -lansiers blootstel.

Maar op die oomblik is die plein van die Sontempel stampvol mense en almal begroet die aankoms van ’n triomfantlike optog. ’n Groep sprakelose en verskrikte plattelanders word as gevangenes daar ingelei. Hulle staar verwonderd na die groot grasdaktempelgeboue wat met glinsterende goud versier is.

In die tempel se binnehof maak die Inka-boekhouers ’n deeglike opname van die aantal gevangenes, diere en ander buit van hierdie jongste verowering. Wanneer die hoofmanne hulle vreedsaam oorgee, word hulle, asook hulle seuns, na die Amautas, beroepsleermeesters, geneem. Daar sal hulle die Inka-taal, die reëls van die Inka-godsdiens en die wet leer. Later sal hulle teruggestuur word om hulle familiegroep van vroeër te bestuur—hierdie keer as ’n Inka-gesant. Hulle kinders moet egter in Cuzco agterbly om verdere onderrig te ontvang. Dit verseker dat die hoofmanne nie teen hulle veroweraars in opstand sal kom wanneer hulle vrygelaat word nie.

’n Naburige stam het aan die begin van die vyftiende eeu amper ’n einde aan die Inkas gemaak. Die bejaarde Inka-vors Viracocha was genoodsaak om uit Cuzco te vlug. Maar sy seun Pachacuti het die troepe versamel en die invallers uitgedryf. Aangevuur deur hierdie oorwinning het hy ander stamme verower en sodoende hierdie ryk gevorm wat uit verskeie volke bestaan.

Die ryk se welvaart hang egter nie geheel en al van oorlogsbuit af nie. Die geheim van die Inkas se rykdom is die mita. Mita, of beurt, is ’n arbeidsprogram wat deur die Inka-vors aan almal opgelê is. Aangesien dit ’n gesin slegs ongeveer 60 of 70 dae per jaar neem om die grond vir hulle eie behoeftes te bewerk, word die res van die tyd aan die mita gewy. Elkeen kry derhalwe sy beurt om die landerye wat aan die tempel behoort te bewerk, om brûe, paaie, tempels en terrasse te bou of om goud of silwer uit die myne te haal. Miljoene werkers verseker dat die ryk bedrywig bly, terwyl die Inka-vors en sy adellikes deur middel van hoofmanne oor duisend, honderd en tien van Cuzco af oor al die werk toesig hou.

Die Inka-wet help om hierdie reëling te handhaaf. Veroordeelde misdadigers kan tot die dood veroordeel word deur vir wilde diere gegooi te word. Dit is nie verbasend dat die misdaadsyfer baie laag is nie. Maar daar is selfs doeltreffender maniere om opstand af te weer. Die Inka-vors hou elke nege dae ’n fees waartydens gratis chicha, ’n alkoholiese drankie, uitgedeel word.

Die ondergang van die Inka-ryk

Die Inka-ryk het jare lank op hierdie manier voortbestaan totdat ontwikkelings binne en buite sy ryk finale ondergang meegebring het. Toe die Inka-vors Huayna Capac gesterf het, het sy seun, Huáscar, hom opgevolg. Maar ’n buite-egtelike seun van Huayna Capac met die naam Atahuallpa het in opstand gekom en ’n burgeroorlog aangehits. Duisende Inkas het omgekom. Ontevredenheid en haat het hierdie eens vreedsame ryk nou verdeel. Atahuallpa het die troon bestyg.

Atahuallpa het hom nie veel daaroor bekommer toe ’n klein groepie mans wat in yster geklee was deur die berge na bo begin klim het nie. Min het hy geweet dat hulle aan die spits gestaan het van ’n grootskaalse internasionale verowering, en hy het ook nie besef dat hierdie besoekers met hulle ligte velle sy volk met dodelike plae sou besmet wat deur die Inka-ryk sou versprei nie.

Nadat Atahuallpa se waarsêers hom van oorwinning verseker het, het hy na Cajamarca (wat vandag in Noord-Peru geleë is) gereis om ’n groep van die Spaanse invallers te ontmoet. Hoewel hy deur duisende van sy volgelinge omring was, was hy heeltemal ongewapen. ’n Katolieke priester het toe vorentoe gestap en hom ’n godsdiensboek aangebied. Die idee was om hom tot Katolisisme te bekeer. Die Inka-vors het egter die boek op die grond neergegooi. Spaanse kanonne het gebulder en 6000 Inkas het gesterf.

Atahuallpa is nie doodgemaak nie sodat hy kon sê waar al die goud was. Hy het aangebied om ’n groot kamer met goue voorwerpe te vul in ruil vir sy vryheid. Sy vrygewige aanbod is aanvaar en Atahuallpa het sy woord gehou. Die Spanjaarde het nie. Atahuallpa is verwurg en dit was die einde van die goue era van die Inka-ryk.

Met die verloop van die eeue is die lewe van die Inkas ietwat geromantiseer. Maar ’n mens moet onthou dat die Inkas, ten spyte van al die groot dinge wat hulle bereik het, deur sonaanbidding en bygeloof gevange gehou is. Vandag nog, onder sommige bewoners van die Andes, word die lewe van die Inkas se afstammelinge deur godsdienstradisies, wat net effens deur Katolisisme gewysig is, ’n eenvoudige lewenstyl en bygeloof oorheers.

Maar dit is interessant dat baie van hulle sulke bygelowige vrees laat staan het. Die Skepper was vir die eertydse Inkas ’n godheid wat ver van hulle af was, en wat van tweederangse huacas (voorwerpe van aanbidding) en gode afhanklik was. Maar sommige van hulle afstammelinge het van die ware God, Jehovah, wat baie naby is aan almal wat hom soek, te wete gekom.—Handelinge 17:27.

[Venster op bladsy 27]

Sommige feite oor die Inka-ryk

*Wat beteken die woord “Inka”?

“Inka” was hoofsaaklik van toepassing op die koning, of vors, wat Capa Inka genoem is, wat “Enigste Vors” beteken. Die woord “Inka” was ook van toepassing op alle manlike nakomelinge van koninklike afkoms. Vandag kan die woord op almal van toepassing wees wat honderde jare gelede in die Inka-ryk gewoon het.

*Hoeveel mense het in die Inka-ryk gewoon?

Daar word gesê dat 6000 000 mense in die ryk gewoon het toe die ryk op sy grootste was, hoewel minstens een bron sê dat daar 12 000 000 mense was. Dit gee ’n mens ’n idee van hoe groot die ryk werklik was, veral as ’n mens in ag neem dat die aarde se bevolking destyds baie kleiner was as wat dit vandag is.

*Hoe het die Inkas gekommunikeer?

Hoofsaaklik deur middel van die gesproke woord, aangesien die Inkas nie gelees of geskryf het nie. Quechua is ’n gesproke maar ongeskrewe taal, hoewel daar reeds baie hedendaagse pogings was om ’n geskrewe vorm wat op ander tale gegrond is te skep. Kort amptelike boodskappe is gestuur deur middel van quipus, lang toutjies waarin knope aangebring is om inligting weer te gee.

[Prent op bladsy 25]

Inka-sonaanbidding is by Macchu Picchu, Peru, beoefen

[Prente op bladsy 26]

Sacsahuaman-vesting van Cuzco

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel