Hoe die Inkas hulle Goue Ryk verloor het
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN PERU
Sonsopkoms. Ligstrale wat die oggendlug ingeskiet het, het die sneeubedekte Andesgebergte ’n sagte pienk getint. Indiane wat vroeg uit die vere was, het die warmte geniet wat die koue van die nag op ’n hoogte van 4300 meter verdryf het. Die son se strale het geleidelik verder beweeg en op die sontempel geval wat in die hartjie was van die Inkaryk se hoofstad, Cuzco (wat “middelpunt van die wêreld” beteken). Goue mure het die son se strale weerkaats. Llamas, vikoenjas en kondors van suiwer goud het in die Inkaa se tuin voor die tempel geskitter. Verbygangers het soentjies die lug in geblaas in aanbidding van hulle god, die son. Hoe dankbaar was hulle tog om te lewe en geseën te word deur die son, aan wie hulle hulle bestaan te danke het, soos hulle geglo het!
TUSSEN die 14de en 16de eeu het ’n groot goue ryk oor die weskus van Suid-Amerika geheers. Die Inkas, wat deur briljante argitekte en tegnici regeer is, was ’n volk wat georganiseer was om hulleself op maatskaplike gebied op te hef. Die fabelagtige Inkaryk het sy grense oor ’n gebied van ongeveer 5000 kilometer uitgebrei, wat van die suidelike deel van die hedendaagse Colombia tot heel onder in Argentinië gestrek het. Trouens, “die Inkas het gedink dat hulle byna die hele wêreld beheer” (National Geographic). Hulle het geglo dat daar anderkant die grense van hulle ryk niks was wat die moeite werd was om te verower nie. Tog het die res van die wêreld nie eens geweet dat hierdie ryk bestaan nie.
Wie was die Inkas? Wat was hulle herkoms?
Wie was daar voor die Inkas?
Argeologiese vondste toon dat die Inkas nie die oorspronklike bewoners van die vasteland was nie. Ander goed ontwikkelde kulture het hulle met honderde tot duisende jare voorafgegaan. Hulle is deur argeoloë as die Lambayeque-, die Chavin-, die Mochica-, die Chimú- en die Tiahuanaco-kultuur geklassifiseer.
Daardie vroeë groepe het verskillende diere aanbid—jaguars, poemas en selfs visse. Die verering van berggode was algemeen onder hulle. Hulle erdewerk het getoon dat party stamme seksaanbidding beoefen het. Naby die Titicacameer, bo teen die grens tussen Peru en Bolivia, het ’n stam ’n tempel gebou waarin daar falliese simbole was wat tydens vrugbaarheidsrites aanbid is om ’n goeie oes van die Pacha-Mama, wat “moederaarde” beteken, te verseker.
Die mite en die werklikheid
Dit was omstreeks 1200 dat die Inkas hulle verskyning gemaak het. Volgens die kroniekskrywer Garcilaso de la Vega, die seun van ’n Inkaprinses en ’n Spaanse ridder en grondeienaar, bestaan die mite dat die oorspronklike Inka, Manco Capac, deur sy vader, die songod, saam met sy suster/bruid afgestuur is na die Titicacameer om al die volke te verenig in die aanbidding van die son. Hierdie legende word vandag nog in party skole aan kinders vertel.
Maar wat die mite ook al is, die Inkas is vermoedelik afkomstig van een van die stamme van die Titicacameer, die Tiahuanacos. Die groeiende ryk het mettertyd talle van die goed georganiseerde werke van die verowerde stamme oorgeneem en kanale en terrasse wat reeds gebou was, uitgebrei en vervolmaak. Die Inkas het uitgeblink in die bou van reusagtige geboue. Daar is talle menings oor hoe hulle argitekte die vesting en tempel van Sacsahuamán kon bou wat die stad Cuzco van ’n hoë plato af domineer. Ontsaglike 100-ton-monoliete is opmekaargestapel. Geen messelklei is gebruik om hulle opmekaar te hou nie. Aardbewings het nie juis ’n invloed gehad op die steenwerk—stene wat volmaak inmekaarpas—in die mure van die antieke stad Cuzco nie.
Die glansryke sontempel
In die koninklike stad Cuzco het die Inkas ’n priesterdom georganiseer vir die aanbidding van die son in ’n blink kliptempel. Die binneste mure is met suiwer goud en silwer versier. Tesame met die priesterdom is daar ook spesiale kloosters gestig, soos die herboude klooster by die sontempel van Pachácamac net buite Lima. Maagde met uitsonderlike skoonheid is selfs van agtjarige ouderdom af opgelei om ‘maagde van die son’ te wees. Argeologiese getuienis dui daarop dat die Inkas ook mense geoffer het. Hulle het kinders aan die apu’s, of berggode, geoffer. Party verysde kinderliggaampies is op die Andiese pieke gevind.
Hoewel die Inkas en vroeëre stamme nie kon skryf nie, het hulle ’n stelsel van boekhou ontwikkel deur gebruik te maak van wat hulle die quipu genoem het. Dit was “’n apparaat wat uit ’n hoofdraad bestaan het waaraan kleiner gekleurde toutjies met knope daarin gehang het en wat deur die eertydse Peruane gebruik is” as ’n geheueverfrisser vir toegewese inventaris- en boekhouers.—Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary.
Hoe is eenheid in die ryk gehandhaaf?
Streng wette en beplande strategie het die een sentrale regering stewig gevestig. ’n Aanvanklike vereiste was dat almal Quechua, die taal van die Inkas, moes aanleer. “Quechua”, sê die boek El Quechua al Alcance de Todos (Quechua binne elkeen se bereik), word beskou as “die uitgebreidste, afwisselendste sowel as die elegantste van al die dialekte in Suid-Amerika”. Dit word steeds deur ongeveer vyfmiljoen mense in die berge van Peru gepraat en deur miljoene ander in vyf lande wat eens deel van die ryk was. ’n Groep suidoos van die Titicacameer praat nog steeds Aymara, ’n taal wat ontstaan het uit die Quechua wat voor die Inkatyd gepraat is.
Die gebruik van Quechua het ’n verenigende uitwerking op die byna 100 verowerde stamme gehad en was ’n hulpmiddel vir die dorpie se curaca (meester) wat elke groep regeer het. Daar is aan elke gesin grond toegewys om te bewerk. Ná die verowering het die Inka die plaaslike stamdanse en -feeste laat voortgaan en toneelopvoerings en spele gereël om die onderworpe volke tevrede te hou.
Die mita-belasting
In die hele ryk het daar geen geldeenheid bestaan nie, wat beteken het dat goud as sodanig geen waarde vir mense gehad het nie. Die aantrekkingskrag van goud was dat dit die son weerkaats het. Die enigste belasting wat opgelê is, die mita (Quechua, “’n beurt”), was die vereiste dat onderdane beurte moes maak om dwangarbeid op die Inkas se talle pad- en bouprojekte te verrig. Duisende Indiaanse werkers is dus volgens die wet gewerf.
Deur die mita-werkers te gebruik, het die Inka-meesterbouers ’n netwerk van paaie gebou wat meer as 24 000 kilometer lank was! Van Cuzco af het die Inkas ’n stelsel van klippaaie gebou wat die mees afgeleë dele van die ryk met mekaar verbind het. Opgeleide aflosboodskappers, wat chasqui’s genoem is, het hierdie paaie gebruik. Hulle is in hutte wat omtrent een tot drie kilometer uit mekaar was, gevind. Wanneer ’n chasqui met ’n boodskap aangekom het, het die volgende chasqui langs hom begin hardloop, soos in ’n afloswedloop. Deur hierdie stelsel te gebruik, het hulle afstande van 240 kilometer per dag gedek. Die heersende Inka het baie gou berigte uit alle dele van sy ryk ontvang.
Langs die paaie het die Inka groot pakhuise opgerig. Dit is vol kos en klere gehou vir gebruik deur die Inka se leërs terwyl hulle op veroweringstogte was. Die Inka het oorlog sover moontlik vermy. Deur van strategie gebruik te maak, het hy gesante gestuur om stamme te nooi om hulle aan sy heerskappy te onderwerp op voorwaarde dat hulle sonaanbidding sal aanneem. As hulle ingewillig het, is hulle toegelaat om in hulle eie stam te bly onder leiding van opgeleide Inka-instrukteurs. As hulle geweier het, het hulle slagoffers van genadelose onderwerping geword. Die skedels van die lyke van die vyand is gebruik as drinkbekers om chicha, ’n sterk drank wat van graan gemaak word, te drink.
Dit was onder die heerskappy van die negende Inka, Pachacuti (van 1438 af), sy seun Topo Inka Yupanqui en die veroweraar-staatsman Huayana Capac dat die ryk se grense vinnig uitgebrei en die verste noord tot suid gestrek het. Maar dit sou nie vir altyd duur nie.
Invallers uit die noorde
Omstreeks 1530 het die Spaanse veroweraar Francisco Pizarro en sy soldate van Panama af gekom, gelok deur berigte van goud in hierdie onbekende land wat toe weens burgeroorlog verdeeld was. Prins Huáscar, die wettige troonopvolger, is verslaan en gevange geneem deur sy halfbroer Atahuallpa wat na die hoofstad op pad was.
Ná ’n moeilike opmars na die binnelandse stad Kajamarka, is Pizarro en sy manne deur die troonrower Atahuallpa verwelkom. Die Spanjaarde het nietemin deur verraad daarin geslaag om hom van sy draagstoel af te pluk en hom gevange te hou terwyl hulle terselftertyd duisende van sy oorblufte en ongewapende troepe uitgemoor het.
Atahuallpa het egter die burgeroorlog laat voortgaan, selfs al is hy gevange gehou. Hy het boodskappers na Cuzco gestuur om sy halfbroer Inka Huáscar sowel as honderde van die koninklike familie te vermoor. Hy het dus onwetend Pizarro se veroweringsplan vereenvoudig.
Toe Atahuallpa sien hoe gulsig die Spanjaarde na goud en silwer is, het hy belowe om ’n groot kamer met goue en silwer beeldjies te vul as ’n losprys vir sy vrylating. Maar dit was tevergeefs. Verraad het weer eens ingetree! Nadat die beloofde losprys opgehoop is, is Atahuallpa, die 13de Inka wat deur die monnike as ’n afgodedienaar beskou is, eers as ’n Katoliek gedoop en toe verwurg.
Die begin van die einde
Atahuallpa se gevangeneming en moord was ’n verpletterende slag vir die Inkaryk. Maar die Indiaanse bevolking het die invallers teëgestaan, en die ryk se doodsnikke het nog 40 jaar aangehou.
Toe versterkings opgedaag het, was Pizarro en al sy soldate gretig om na Cuzco te gaan sodat hulle op nog Inkagoud beslag kon lê. In hierdie soektog het die Spanjaarde glad nie geskroom om van wrede martelingsmetodes gebruik te maak om die Indiane te dwing om geheime van skatte te verklap of om enige teenstanders te intimideer en te onderdruk nie.
Vergesel van Huáscar se broer, prins Manco II, wat die volgende Inka sou wees (Manco Inka Yupanqui), het Pizarro na Cuzco opgeruk en dit van sy ontsaglike goudskatte beroof. Die meeste van die goue beelde is gesmelt en in stawe gegiet vir Spanje. Dit is dus geen wonder dat Engelse seerowers gretig was om Spaanse galjoene te buit wat die ryk skatte van Peru af vervoer het nie! Swaar belaai met skatte het Pizarro na die kus vertrek waar hy in 1535 die stad Lima gestig het as die middelpunt van sy regering.
Manco Inka Yupanqui, wat toe ten volle besef het hoe gierig en verraderlik die veroweraars was, het ’n opstand georganiseer. Ander het ook teen die Spanjaarde gerebelleer, maar die Indiane moes uiteindelik terugtrek na afgeleë gebiede om so goed moontlik weerstand te bied. Een van hierdie veilige plekke was moontlik die heilige stad Machu Picchu wat weggesteek is in die berge.
Die laaste Inka
Tupac Amarú, ’n seun van Manco Inka Yupanqui, het die laaste Inka geword (1572). Spaanse goewerneurs het Peru nou regeer. Goewerneur Toledo se doelwit was om die Inkas uit te roei. Hy het die Vilcabambagebied met ’n groot leër binnegegaan. Tupac Amarú is in die oerwoud gevange geneem. Hy en sy swanger vrou is na Cuzco geneem vir teregstelling. ’n Cañari-Indiaan het Tupac Amarú tereggestel. Die duisende Indiane wat op die stadsplein bymekaargekom het, het hoorbaar van smart gekreun toe hulle Inka met een hou onthoof is. Sy kapteins is doodgemartel of gehang. Op hierdie wrede manier is die heerskappy van die Inkas plotseling beëindig.
Die aangestelde goewerneurs, saam met talle Katolieke monnike en priesters, het gaandeweg hulle invloed, goed en sleg, oor die Indiane uitgebrei wat lank as blote slawe beskou is. Talle is gedwing om in goud- of silwermyne te werk, waarvan een ’n berg met ryk silwererts was wat in Potosí, Bolivia, geleë is. Om die onmenslike toestande te oorleef, het die mishandelde Indiane kokablare gebruik weens die verdowende uitwerking daarvan. Peru en Bolivia het eers vroeg in die 19de eeu onafhanklikheid van Spanje verkry.
Hedendaagse afstammelinge van die Inkas
Wat is die situasie van die afstammelinge van die Inkas in hierdie moderne eeu? Net soos talle ander hedendaagse stede, wemel die Peruaanse hoofstad Lima van miljoene inwoners. Maar in die provinsies lyk dit soms asof die tyd ’n honderd jaar gelede gaan stilstaan het. Talle afgesonderde dorpies word nog steeds deur Katolieke priesters beheer. Die Katolieke kerk op die dorpsplein het die grootste aantrekkingskrag vir die Indiaanse boer. Die talle beelde van pragtig geklede heiliges, die veelkleurige ligte, die goue altaar, die brandende kerse, die geheimsinnige seremonies wat sing-sing deur die priester opgesê word en veral die danse en feeste— dit alles bevredig sy behoefte aan afleiding. Maar sulke aanskoulike afleidings het glad nie die plek van eertydse godsdiensoortuigings ingeneem nie. En die gebruik van kokablare, wat na hulle mening geheimsinnige kragte het, beïnvloed steeds die lewe van baie mense.
Met hulle onblusbare gees het hierdie afstammelinge van die Inkas—waarvan talle nou van gemengde bloed is—daarin geslaag om hulle kleurvolle danse en kenmerkende huaino-musiek te bewaar. Selfs al is hulle aanvanklik terughoudend teenoor vreemdelinge, kom hulle natuurlike gasvryheid na vore. Vir diegene wat hierdie afstammelinge van die Inkaryk persoonlik ken—wat hulle daaglikse stryd om oorlewing sien, wat bystand verleen en werklik omgee—is hulle verhaal inderdaad hartverskeurend!
Opvoeding bring veranderinge mee
Tydens ’n onderhoud met Ontwaak! het Valentin Arizaca, ’n afstammeling van Aymarasprekende Indiane van die dorpie Socca langs die Titicacameer, vertel: “Voordat ek een van Jehovah se Getuies geword het, was ek net in naam ’n Katoliek. Ek en ’n paar van my vriende het talle heidense gebruike beoefen. Ek het ook kokablare gekou, maar nou het ek al daardie dinge laat vaar.”
Petronila Mamani, 89 jaar oud, wat die talle bygelowe nog goed onthou wat haar voortdurend laat vrees het dat sy die apu’s sou mishaag, het gesê: “Ek het gereeld offerandes geneem om die berggode te paai en my bestaan te verseker. Ek wou hulle beslis nie mishaag en my aan die gevaar van gevolglike plae blootstel nie. Ek het nou op my oudag geleer om ’n ander beskouing van sake te hê. Danksy die Bybel en Jehovah se Getuies is ek ontslae van sulke gedagtes.”
Jehovah se Getuies leer talle Quechua- en Aymarasprekende Indiane om te lees. Op hulle beurt leer hulle ander van die Bybel. Op hierdie manier word duisende Inka- en Spaanse Indiane opgevoed en verbeter hulle sodoende hulle lewe. Hulle leer ook van God se belofte in die Bybel van ’n nuwe wêreld van geregtigheid, vrede en regverdigheid wat binnekort oor die hele aarde opgerig gaan word.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.
[Voetnote]
a Die woord “Inka” kan verwys na die opperheerser van die Inkaryk en kan ook na die boorlinge verwys.
[Kaarte op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die Goue Ryk van die Inkas
SUID-AMERIKA
Cuzco
Potosí
INKARYK
KARIBIESE SEE
STILLE OSEAAN
COLOMBIA
ECUADOR
ANDES
PERU
Kajamarka
Lima
Pachácamac
Vilcabamba
Machu Picchu
Cuzco
Titicacameer
BOLIVIA
CHILI
ARGENTINIË
[Prent op bladsy 16]
Bo: Die oorspronklike sontempel dien as die fondament van hierdie Katolieke kerk in Cuzco
[Prent op bladsy 16]
Links: Pre-Inka falliese beeld in ’n tempel in Chucuito
[Prent op bladsy 16]
Regs: Die bloed van Inkaofferandes het van hierdie klipsnywerk afgeloop
[Prent op bladsy 17]
Regs: Besproeide terrasse in Machu Picchu, naby Cuzco
[Prent op bladsy 17]
Onder: Uitsig deur ’n antieke deuropening in Machu Picchu
[Prent op bladsy 17]
Regs onder: 100-ton-blokke van die vestingtempel van Sacsahuamán