Hormone—die liggaam se wonderlike boodskappers
JY STAP oor ’n straat. “Pasop!” skreeu iemand. Jy draai jou kop en sien dat ’n vragmotor deur ’n rooi verkeerslig gery het en met ’n gedreun op jou afpyl.
Jou liggaam maak jou oombliklik gereed vir noodaksie. Jou brein stuur ’n dringende boodskap na jou byniere, wat daarop reageer deur adrenalien en noradrenalien in jou bloedstroom af te skei. Hierdie hormone stuit die bloedtoevoer na dele van die liggaam waarvan die funksies nie onmiddellik benodig word om aan hierdie gevaarlike situasie te ontsnap nie, en hulle stuur die bloed vinnig na jou brein, hart en spiere om hulle te versterk.
Adrenalien en noradrenalien laat jou hart sterk en vinnig klop. Hulle maak die lugweë van jou longe wyer; jy haal vinniger asem. Hulle verhoog jou bloedsuikerkonsentrasie om die maksimum energie te voorsien. Hormone het gehelp om jou in ’n oogwink toe te rus om dade van krag en uithouvermoë uit te voer wat ver bo jou normale vermoë is.
Die vragmotor dreun al hoe nader, die grond bewe. Daar is nie ’n oomblik te verspil nie! Jy gee ’n reusesprong na die veiligheid van die sypaadjie. Jy hyg na jou asem, jou hart bons, jou maag draai, jou hande bewe—maar jy lewe!
In sulke situasies help hormone om lewens te red. Maar hulle doen baie meer as dit. Hulle help ons om te groei en tot gesonde manne en vroue te ontwikkel. Hulle maak dit vir ons moontlik om geslagtelik te ontwikkel en voort te plant. As ons koud of warm kry of honger of dors of bloeiend of siek is, help hulle ons. En hulle is 24 uur per dag aan die werk!
Maar hoe word al hierdie werk in ons liggame georganiseer? Om ons te help om dit te verstaan, kan ons gerus kyk wat hormone is en hoe hulle funksioneer.
Inwendige kommunikasie
Hormone is chemiese stowwe wat deur ons endokriene kliere geproduseer word. Die woord “endokrien”, wat “direk afskei in” beteken, is ’n goeie beskrywing vir hierdie kliere, aangesien hulle hormone direk in die bloedstroom afskei. Terwyl die hart die bloed deur die liggaam pomp, beweeg die hormone vinnig na verskillende bestemmings, waar hulle hulle werk verrig.
Goeie kommunikasie is nodig tussen ons baie liggaamsdele om te verseker dat die hormone hulle funksies vervul. Ons het almal ingewikkelde kommunikasiestelsels—die endokriene stelsel en die senuweestelsel—wat inligting oordra om ons aan die lewe te hou en te keer dat niks skeef loop nie.
Kom ons lig toe hoe die twee stelsels saamwerk deur ’n kykie te neem na Venesië, Italië, ’n stad wat bekend is vir sy netwerk van kanale. In Venesië gebruik mense die telefoonstelsel om boodskappe na ander dele van die stad te stuur. Die liggaam stuur eweneens sy boodskappe deur middel van die senuweestelsel, ’n blitsvinnige kommunikasienetwerk wat elektrochemiese seine gebruik. ’n Senu-impuls word, soos ’n telefoonoproep, feitlik oombliklik oorgedra.
’n Boodskap kan natuurlik ook met ’n gondel, ’n lang boot wat deur die doolhof van die stad se kanale vaar, afgelewer word. In die liggaam beweeg chemiese boodskappers (hormone) deur die bloedstroom en ander liggaamsvloeistowwe.
As ons die bloedstroom met die Venesiaanse kanale vergelyk, is die hormone soos vlote gondels wat boodskappe in alle rigtings vanuit talle bronne na talle bestemmings oordra. Hierdie hormone beweeg na spiere, organe of kliere wat ver van hulle beginpunt af is. Wanneer hulle by hulle bestemming aankom, sit hulle ’n reeks ingewikkelde chemiese reaksies aan die gang om hulle doel te bereik.
Maar hoe word al hierdie bedrywighede beheer en gekoördineer? Kom ons beskou die hoofkwartier van die endokriene stelsel om daardie vraag te beantwoord en kyk watter werk daar gedoen word.
Die pituïtêre klier—die hoofklier
Die opsiener van die endokriene stelsel is die pituïtêre klier, ’n klein, rooigrys orgaan wat met ’n dun steeltjie aan die brein vasgeheg is en in ’n beenholte net agter en aan die bokant van die neus geleë is.
Die pituïtêre klier lyk nie baie indrukwekkend nie. Dit is maar so groot soos ’n ertjie en weeg ’n skrale 0,6 gram. Maar al is die pituïtêre klier klein, het hy ’n ontsaglike verantwoordelikheid. Hy is al die hoofklier, die dirigent van die endokriene orkes, genoem. Hy is soos ’n sakebestuurder wie se kantoor die ene bedrywigheid is, met boodskappe wat van baie departemente af inkom en na hulle uitgaan.
Die pituïtêre klier dra sommige takies aan ander endokriene kliere oor. Byvoorbeeld, die pituïtêre klier stuur ’n hormoonboodskap in die bloedstroom in wat die skildklier beveel om drie ander hormone te produseer en af te skei. Hierdie hormone beheer die metabolisme, liggaamstemperatuur en die instandhouding van die bene. Die pituïtêre klier beveel die geslagskliere eweneens om hormone te produseer wat die fisiese veranderinge tydens puberteit sal meebring. Die hoofklier kan ook die byniere beveel om hormone te produseer wat die bloeddruk en die soutbalans in die liggaam handhaaf.
Maar soms sien die pituïtêre klier regstreeks na sake om deur hormoonboodskappe uit te stuur wat ’n uitwerking op die groei van ons bene en spiere het. Sy hormone bepaal selfs hoe lank ons sal wees.
Die pituïtêre klier speel ook ’n groot rol in die geboorte van babas. Die pituïtêre klier stuur oksitosien uit, ’n hormoon wat die sametrekkings van die baarmoeder stimuleer, om ’n vrou tydens haar bevalling te help. Wanneer die baba se kop die geboortekanaal bereik, stuur die brein ’n boodskap na die pituïtêre klier om ’n ekstra voorraad oksitosien aan te vra sodat dit met die finale stadium van geboorte kan help. Intussen het die hormone van die pituïtêre klier die produksie van melk in die moeder se borste die hele tyd gestimuleer. Wanneer die baba gebore word, is die moeder toegerus om hom te voed.
Die hoofklier se opsiener
Hoewel die pituïtêre klier die opsiener oor ander kliere is, het hy ook sy eie opsiener—die hipotalamus. Dit is ’n klompie senuselle wat omtrent so groot soos jou duim se punt is. Dit is aan die basis van die brein geleë en is aan die pituïtêre klier gekoppel. Dit hou nie alleen toesig oor die werk van die endokriene stelsel nie, maar koördineer ook die werk van die outonome senustelsel.
As deel van sy werk moet hy die samestelling en temperatuur van die bloed toets. Daar vloei meer bloed deur die hipotalamus as deur enige ander deel van die brein. Net soos iemand wat gaan bad sy vinger gebruik om die temperatuur van sy badwater te toets, steek die hipotalamus verrimpelde vingeragtige voelers in hierdie vloeiende bloed in. As die bloed te koud is, stuur die hipotalamus instruksies (via die pituïtêre klier en die skildklier) sodat meer tiroksien—’n hormoon wat die metabolisme stimuleer om hitte te produseer om die bloed warmer te maak—afgeskei word.
Aangesien die hipotalamus sy werk outomaties doen, is ons gewoonlik nie daarvan bewus nie. Tog het dit ’n daaglikse uitwerking op ons lewe. Is jy honger? Jou hipotalamus het vasgestel dat daar te min glukose in jou bloed is en dit sê dus vir jou om te eet. Is jy dors? Jou hipotalamus het besluit dat daar effens te veel sout in jou bloed is. “Drink ’n bietjie water”, sê dit vir jou.
Die hipotalamus kontroleer ook die hoeveelheid kalsium in jou bloed. Sonder kalsium sal ons brein, spiere en senuwees nie behoorlik funksioneer nie. Wanneer daar te min kalsium in die bloed is, neem die hipotalamus kalsium uit die bene, amper soos wanneer ’n mens geld by ’n bank trek. Hoe vind hierdie kalsiumonttrekking plaas? Die hipotalamus stuur ’n hormoonboodskap aan die pituïtêre klier. Die pituïtêre klier stuur op sy beurt ’n boodskap aan die byskildkliere, wat in die nek geleë is. Die byskildkliere skei op hulle beurt parathormoon (byskildklierhormoon) af, wat dan na die bene gaan om kalsium vir die bloedstroom te gaan haal. Sodra die hipotalamus vasstel dat daar genoeg kalsium in die bloed is, kanselleer dit opdragte vir verdere onttrekkings.
Maar wat gebeur as die hipotalamus vasstel dat daar te veel kalsium in die bloed is? Boodskappers word weer eens na die ‘beenbank’ gestuur, maar nou maak hulle ’n deposito en nie ’n onttrekking nie. Die prosedure is soos volg: Die hipotalamus stuur ’n boodskap aan sy hoofbestuurder, die pituïtêre klier. Die pituïtêre klier stuur nou ’n boodskap aan die skildklier. Die skildklier stuur op sy beurt die hormoon kalsitonien uit, wat help om die oortollige kalsium van die bloed na die bene oor te dra.
Intelligente ontwerp
Wat ’n organisatoriese meesterstuk! Die hipotalamus beheer die pituïtêre klier, die pituïtêre klier beheer die kliere en die kliere reguleer die liggaam. En dit alles word gedoen deur meer as 30 verskillende hormone wat geluidloos deur ons liggaam vloei om na ons eenvoudigste fisiese behoeftes om te sien. Tog funksioneer die endokriene stelsel, ondanks die ingewikkeldheid daarvan, met verstommende doeltreffendheid.
Die Bybel sê dat “God elkeen van die lede in die liggaam gestel [het] soos Hy gewil het”. Hoe gepas is die psalmis se woorde tog wat hy tot God gerig het: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed”!—1 Korinthiërs 12:18; Psalm 139:14.
[Venster/Diagram op bladsy 18]
ENDOKRIENE KLIERE SKEI HORMONE IN DIE BLOEDSTROOM AF
DIE HORMONE BEWEEG NA ANDER DELE VAN DIE LIGGAAM OM VERSKILLENDE TAKE TE VERRIG
Pineale klier
Hierdie kliertjie, wat aan die basis van die brein geleë is, skei melatonien af, wat vermoedelik ’n uitwerking op waaksaamheid en verskillende bioritmes in die liggaam het. Dit is nog nie bekend wat die presiese funksie van melatonien is nie.
Gonades, of geslagskliere
Die twee eierstokke (in vroue) lê in die bekkenholte, aan weerskante van die baarmoeder. Die hormone estrogeen en progesteroon word hier geproduseer. Hierdie hormone beheer die menstruele siklus en het ’n uitwerking op die ontwikkeling van die fisiese kenmerke van die volwasse vrou.
Die testes (in mans), wat in die skrotum geleë is, produseer hormone wat die ontwikkeling van die liggaamlike kenmerke van ’n volwasse man tydens puberteit beheer en die produksie van sperma stimuleer.
Pituïtêre klier
Hierdie orgaan, wat so groot soos ’n ertjie is, is met ’n dun steeltjie aan die brein vasgeheg en lê net bokant en agter die neus. Die pituïtêre klier is die opsiener van die ander kliere, en dit stuur chemiese boodskappe aan die skildklier, byniere en geslagskliere, asook aan ander kliere wat endokriene funksies vervul. Dit is hoofsaaklik die pituïtêre klier wat die liggaam se lengte beheer en ’n uitwerking op die groei van bene en spiere het. Dit stimuleer ook ’n sogende moeder se borste om melk te produseer.
Skildklier en byskildkliere
Hierdie kliere is in die nek geleë. Die byskildkliere skei hormone af wat kalsiumvlakke reguleer om bene gesond te hou. Die skildklier produseer ander hormone wat die tempo beheer waarteen suurstof en voedsel in energie omgesit word.
Die byniere
Die twee byniere, wat net bokant die niere geleë is, produseer adrenalien en noradrenalien wat die liggaam toerus om in noodsituasies te veg of te vlug. Ander hormone wat hier geproduseer word, het ’n uitwerking op die metabolisme van koolhidrate en proteïene, reguleer die water wat deur die niere beweeg en aktiveer die liggaam se voedselvoorrade wanneer daar nie genoeg is om te eet nie.
Pankreas
Hierdie klier, wat onder die maag geleë is, produseer glukagon en insulien, wat die hoeveelheid suiker in die bloed reguleer.
[Diagramme]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Pineale klier
Pituïtêre klier
Skildklier
Byniere
Pankreas
Testes
[Diagram]
Baarmoeder
Eierstokke