Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 6/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moordepidemie
  • Kerktragedie in Mexiko
  • Dit maak fietsry veiliger
  • Naamchristene
  • Bybelvertaling brei uit
  • Steeds dodelik
  • Inbraaknetwerke van transvestiete
  • Afskrikmiddel vir winkeldiewe
  • Brasiliaanse koffieplaag
  • Onbetroubare astroloë
  • Selfverydelende tegnologie
  • Die koffiedilemma
    Ontwaak!—1991
  • Koffie van gehalte—van die plant na jou koppie
    Ontwaak!—1999
  • Winkeldiefstal—Wie betaal?
    Ontwaak!—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 6/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Moordepidemie

Die aantal moorde in die Verenigde State het in 1991 steeds drasties toegeneem. Die tydskrif Time het voorspel dat wanneer al die syfers saamgetel word dit sal toon dat daar in daardie jaar ongeveer 25 000 moorde was, wat 1990 se rekordgetal van 23 440 ver oortref. Volgens Time maak hierdie sombere totaal die Amerikaanse moordsyfer “verreweg die hoogste in die Westerse wêreld” met ongeveer 10 moorde vir elke 100000 burgers. In Brittanje is daar 5,5 moorde vir elke 100 000 burgers; in Japan is dit net 1,3. Dit is dus geen wonder nie dat die Federal Centers for Disease Control moord nou as ’n epidemie beskou; elke 22 minute verloor nog iemand sy lewe omdat hy geskiet, gesteek, verwurg of geslaan is. Onder vroue is moord nou die hoofoorsaak van sterftes by die werkplek. Die polisie is só toegegooi onder die werk dat hulle nie die epidemie die hoof kan bied nie. In die middel-sestigerjare het hulle 9 uit elke 10 moordenaars voor die gereg gebring; vandag spoor hulle minder as 7 uit 10 op.

Kerktragedie in Mexiko

’n Tragedie het hom onlangs in ’n Pinksterkerk in die dorp El Charquillo, Mexiko, afgespeel. Butaandampe—moontlik afkomstig uit ’n gaslamp wat vir die kerk se aanddiens aangesteek is—het 30 mense in die kerk oorval en hulle dood veroorsaak. Volgens ’n berig in The Christian Century beweer drie mans wat die ramp oorleef het dat die kerk se priester die gemeente afgeraai het om die gebou te verlaat hoewel party as gevolg van die dampe benoud, siek en verward gevoel het. Die priester het na bewering vir sy siek kudde gesê dat daardie gevoelens nie deur siekte veroorsaak is nie maar deur die teenwoordigheid van Christus of die gees van God wat hulle liggaam binnegaan.

Dit maak fietsry veiliger

Verlede jaar is ongeveer 710 fietsryers in net die westelike deel van Duitsland in ongelukke dood, en nog 64 000 is beseer. Volgens die Rheinische Post, ’n Düsseldorfse koerant, is daar onder leiding van wetenskaplike Dietmar Otte ’n ondersoek gedoen na 1200 fietsongelukke wat oor ’n tydperk van vyf jaar plaasgevind het. Kopbeserings was by ongeveer die helfte daarvan betrokke. Otte meen dat die helfte van hierdie beserings minder ernstig kon gewees het of heeltemal voorkom kon word as die fietsryers fietshelms gedra het. Maar helms kan selfs effektiewer wees. ’n Verslag wat in JAMA (The Journal of the American Medical Association) gepubliseer is, het bevind dat fietsongelukke in die Verenigde State van 1984 tot en met 1988 bykans ’n miljoen kopbeserings veroorsaak het. Van daardie ongelukke was 2985 noodlottig. Volgens JAMA “kon die wêreldwye gebruik van fietshelms deur alle fietsryers tot . . . een sterfgeval elke dag en een kopbesering elke vier minute voorkom het”. Kinders word veral beskerm as hulle helms dra, omdat hulle makliker ernstiger kopbeserings as volwassenes opdoen.

Naamchristene

Hoewel daar ongeveer 45 miljoen Katolieke in Frankryk is, beteken die feit dat hulle Katoliek is nie baie meer as om deur die kerk gedoop, getrou en begrawe te word nie. ’n Onlangse opname wat deur die tydskrif Madame Figaro geborg is, toon dat 2 uit 3 mense in Frankryk wat hulself Katolieke noem nooit Nagmaal eet nie; 4 uit 5 gaan nooit bieg nie en net 1 uit 10 woon gereeld die Mis by. Wat gebed betref, bid 36 persent baie selde en 34 persent bid nooit nie. Die tydskrif lewer kommentaar oor die opname en sê: “Katolisisme is meer ’n godsdiens van tradisie as ’n werklik lewende godsdiens.” Madame Figaro haal die woorde van Franse kardinaal Lustiger aan wat sê dat “die mens ’n godsdienstige dier is” en voeg dan by: “Hy is beslis. Maar dit is duidelik dat hy al hoe minder daarvan bewus is.”

Bybelvertaling brei uit

Volgens syfers van die Verenigde Bybelgenootskappe, soos dit deur die Duitse Bybelgenootskap aangehaal word, is dele van die Bybel in 1991 in 32 nuwe tale vertaal. Bybeltekste is dus nou in 1978 tale beskikbaar, berig die Duitse koerant Wetterauer Zeitung. (’n Ander bron sê 1982 tale.) Die hele Bybel is al in 322 tale vertaal, die Christelike Griekse Geskrifte in 758 en ander dele van die Bybel in 898. In Afrika is Bybeltekste in 566 tale beskikbaar. In Asië is die syfer 490, in die Amerikas 411, in die Pasifiese gebied 321 en in Europa 187.

Steeds dodelik

Twee jaar na die beëindiging van die oorlog met Suid-Afrika eis landmyne steeds die lewe van kinders in Namibië. In Desember 1991 het die koerant Lesotho Today berig dat “meer as 40 mense die afgelope 18 maande gesterf het, en ongeveer 100 is beseer”. En dit was ten spyte van waarskuwings oor die televisie en in koerante. Een ma, wat drie van haar agt kinders as gevolg van hierdie plofstowwe verloor het, het hartseer gesê: “Dit is moeilik om te glo dat ons twee jaar ná die oorlog geëindig het steeds van ons kinders beroof word.” Hoewel duisende landmyne verwyder is, sal dit dalk nie moontlik wees om al die landmyne op te spoor en van hulle ontslae te raak nie, aangesien hulle oor ’n groot gebied verspreid lê en baie van hulle goed onder die grond weggesteek is.

Inbraaknetwerke van transvestiete

In onlangse jare het ’n ongewone vlaag van misdade Florida in die Verenigde State getref. Transvestiete—mans wat soos vroue aantrek—het klereboetieks in tientalle dorpe beroof. Volgens The Wall Street Journal skat die polisie dat daar meer as honderd transvestiete by die netwerke betrokke is. Speurder Michael Roggin het vir die Journal gesê dat hierdie bendes verlede jaar verantwoordelik was vir ongeveer 25 inbrake in die stad West Palm Beach alleen, waartydens R1 100 000 se klere gesteel is. Hulle het een boetiek ses keer binne agt maande beroof, en toe die eienaar tralies voor die winkelvenster aangebring het, het hulle probeer om met ’n motor daardeur te ry. Tog is dit moeilik om hierdie rowers, ten spyte van hulle flambojante gedrag en kleredrag, op te spoor. “As dit 20 jaar gelede gebeur het, sou hulle soos ’n paal bo water uitgestaan het”, het een polisiesersant aan die Journal verduidelik. “Maar in vandag se samelewing is dit glad nie meer snaaks om alle soorte mense orals te sien rondloop nie.”

Afskrikmiddel vir winkeldiewe

Die eienaar van ’n boekwinkel in Iwaki City, Japan, was moeg vir die diefstal wat gereeld in sy winkel gepleeg is, en hy het aan ’n nuwe manier gedink om die probleem die hoof te bied. “Hy het besluit om die videofilm, wat opgeneem is deur die sekuriteitskameras wat op vyf plekke in sy winkel opgestel is, te redigeer en te verkoop”, berig Tokio se Mainichi Daily News. Die geredigeerde videokassette wys duidelik hoe nege mense, waaronder vyf minderjariges, winkeldiefstal pleeg. Die winkel het die videokassette met hierdie woorde geadverteer: “Nou te koop teen 280 jen [ongeveer R5,50], videofilm oor winkeldiewe in hierdie winkel.” Ten spyte van waarskuwings van die owerheid dat hy moontlik op klante se regte inbreuk maak, is die winkeleienaar van plan om steeds sy teenmiddel teen winkeldiefstal te gebruik. “Dis ’n les vir hulle”, sê hy. Die eerste klomp videokassette is vinnig uitverkoop—en het ’n skielike einde gemaak aan die winkeldiefstal in die boekwinkel.

Brasiliaanse koffieplaag

Koffieboere kry reeds swaar as gevolg van dalende pryse—en nou gebeur dit. Die tydskrif New Scientist berig dat “krieke nou ’n plaag geword het in een van Brasilië se belangrikste koffieverbouingstreke”. Die landerye wemel van miljoene krieke wat hulle eiers op die wortels van die koffieplante lê. Wanneer die kleintjies, of larwes, uitbroei, eet hulle die wortels, en die plant gaan dan dood. Waar die krieke voorkom, kan koffieplantasies tot 60 persent van hulle koffie-oes verloor. Die afgelope ses jaar het hierdie plaag al hoe erger geword. Volgens New Scientist blameer die Brasiliaanse Koffie-instituut die skade wat die mens aan die omgewing aanrig vir die plaag. Die mens het onder andere die kriek se natuurlike roofvyande, in die besonder die armadil, uitgeroei.

Onbetroubare astroloë

Vroeg in 1991 het die Vereniging vir Wetenskaplike Navorsing oor die Parawetenskap in Duitsland 152 voorspellings deur 27 astroloë versamel. Toe het hulle dit aan die einde van die jaar beoordeel. Wetterauer Zeitung het berig dat 103 van die voorspellings “heeltemal verkeerd was”. Astroloë het byvoorbeeld voorspel dat daar in 1991 ’n atoomramp sou plaasvind en ’n geneesmiddel vir vigs uitgevind sou word. Die 14 voorspellings wat bewaarheid is, was eenvoudig algemene verklarings. Party was te vaag om vir akkuraatheid beoordeel te word, terwyl party mekaar selfs weerspreek het. Daarenteen het nie een van die astroloë iets gesê oor verskeie belangrike gebeure wat in 1991 plaasgevind het nie. “As net een van die astroloë geweet het wat hy doen”, het die bestuurder van die genootskap gesê, “sou hy byvoorbeeld Gorbatsjof se bedanking of die Sowjetunie se verval vooruitgesien het.”

Selfverydelende tegnologie

Byna 25 persent van al die Amerikaners wat in die oorlog in die Persiese Golf gesterf het en 15 persent van diegene wat gewond is, was slagoffers van dit wat in militêre terme vriendskaplike vuur genoem word—hulle is deur hulle eie magte geskiet. In vorige oorloë was hierdie soort vuur verantwoordelik vir minder as 2 persent van al die Amerikaanse ongevalle. Die probleem is grootliks vererger deur gevorderde tegnologie wat al hoe meer gebruik word. Moderne wapentuig stel tenks en helikopters in staat om met groot akkuraatheid op teikens tot agt kilometer daarvandaan te vuur. Dit verminder wel teenaanvalle, maar hedendaagse tegnologie kan nie tussen vriend en vyand onderskei wanneer aankomende voertuie nog ver is en na aan mekaar ry nie—veral nie tydens hewige gevegte en wanneer sig belemmer word nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel