Dood—Die universele tragedie
JAARLIKS sterf daar ongeveer 50 miljoen mense oor die wêreld heen. Dit wil sê, 137-000 per dag, 5700 per uur, ongeveer 100 per minuut of meer as 3 mense elke twee sekondes. Geen huisgesin is vry van die tragedie van die dood nie. Koning of burger, ryk of arm, manlik of vroulik—almal sterf.
Benjamin Franklin, die beroemde Amerikaanse uitgewer, uitvinder en diplomaat, het in 1789 aan ’n vriend geskryf: “In hierdie wêreld is niks behalwe die dood en belasting seker nie.” Maar sy opmerking was nie uniek nie. Ongeveer 2800 jaar vroeër het wyse koning Salomo van die eertydse nasie Israel gesê: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe.” Hy het maar net bevestig wat ongeveer 3000 jaar vroeër aan die heel eerste mens op aarde gesê is: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—Prediker 9:5; Genesis 3:19.
So onvermydelik soos die dood ook al deur die mens se hele geskiedenis was, is dit steeds ’n bron van groot droefheid. Daar is tereg al gesê dat dit ons normale begeerte is om te lewe en nie om te sterf nie. Die verhoudinge wat ons met familielede en vriende het, is noue bande wat ons nie wil verbreek nie. Maar terwyl die jare een vir een verbygaan, word hierdie bande deur die dood verbreek. Ons grootouers, ouers en vriende sterf.
Die Guinness Book of World Records sê: “Dit is ’n feit dat mense wat ouer as honderd jaar is uiters selde verby hulle 113de jaar leef en dat daar in die huidige absolute grens van ’n bewese langlewendheid by mense niemand is wat hulle 120ste verjaarsdag oorleef het nie.” Daarom is daar vandag niemand wat gelewe het toe Winston Churchill (1874) of Mohandas Gandhi (1869) gebore is of toe Alaska in 1867 deur Rusland aan die Verenigde State verkoop is of tydens die sluipmoord van Abraham Lincoln in 1865 nie—om nie eers te praat van al die historiese gebeure wat dié van die 19de eeu voorafgegaan het nie.
Ondanks al die hedendaagse deurbrake op mediese en wetenskaplike gebied kom die mens se lewensduur eintlik steeds neer op dít wat die eertydse man Moses gesê het: “Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen” (Psalm 90:10). Dit was ’n veralgemening. Moses self het 120 jaar lank geleef.
Al is die lewe so vol sorge, veroorsaak die dood besondere pyn en smart. Dit het dikwels ’n nadelige uitwerking op die gesondheid van dié wat agterbly, en dit is selfs bekend dat dit al siekte en die dood verhaas het. Ongeag watter familielid sterf, daar is steeds ’n groot gevoel van verlies. Soos een psigiater dit gestel het: “Wanneer jou ouers sterf, het jy jou verlede verloor. Wanneer jou kind sterf, het jy jou toekoms verloor.” Die ellende en emosionele spanning wat daarop volg, kan onbeskryflik wees. Die dood veroorsaak dikwels ’n swaar finansiële las wat sake vererger. Druk om by sekere begrafnisgewoontes en -gebruike te bly, kan tot die smart bydra.
Maar is daar enige manier waarop ons ’n mate van die spanning en verantwoordelikhede kan verlig wat ons te beurt val wanneer ’n geliefde sterf?