Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 8/22 bl. 3-5
  • ’n Geheimsinnige siekte word erken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Geheimsinnige siekte word erken
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Probleme met die naam
  • Historiese oorsig
  • Die siekte vind erkenning
  • Is CMS ’n werklike siekte?
    Ontwaak!—1992
  • Hoe om die uitdaging wat CMS inhou die hoof te bied
    Ontwaak!—1992
  • Op soek na ’n oorsaak
    Ontwaak!—1992
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 8/22 bl. 3-5

’n Geheimsinnige siekte word erken

CMS (chroniese moegheidsindroom) hou “naas vigs die ernstigste gesondheidsgevaar en ekonomiese bedreiging” in.

DIT is wat dr. Byron Hyde van Kanada gesê het tydens die wêreld se eerste simposium oor CMS wat in April 1990 in Cambridge, Engeland, gehou is. Trouens, dr. Jay Levy, ’n vigs-navorser van San Francisco, het CMS “die siekte van die negentigerjare” genoem.

Emergency Medicine het verduidelik dat CMS “’n siekte is wat meer as een stelsel aantas; die sentrale senuwee- en immuunstelsel en dikwels die spier-skelet-stelsel”. Daar heers tans groot besorgdheid oor die siekte. Toe die Amerikaanse tydskrif Newsweek in November 1990 ’n voorbladartikel daaroor gepubliseer het, het daardie nommer die tydskrif se blitsverkoper van die jaar geword.

Die Amerikaanse CDC (Centers for Disease Control) in Atlanta neem die siekte ernstig op. In 1988 het hierdie toonaangewende Amerikaanse gesondheidsinstansie hierdie geheimsinnige siekte amptelik erken deur dokters te voorsien van ’n aantal tekens en simptome, waardeur die siekte gediagnoseer kan word. Die instansie het die siekte chroniese moegheidsindroom genoem omdat moegheid oor die algemeen die vernaamste simptoom is.

Probleme met die naam

Baie dink egter dat die naam nie pas nie. Hulle sê dat dit die erns van die siekte ondermyn, aangesien die moegheid waardeur CMS gekenmerk word van gewone moegheid verskil. “Die moegheid wat ons ondervind”, het een pasïent verduidelik, “is net so min gewone moegheid as wat weerlig ’n vonk is.”

Dr. Paul Cheney, wat honderde pasiënte behandel het wat aan CMS ly, het gesê dat as jy dit chroniese moegheid noem jy “longontsteking net sowel ‘chroniese hoessindroom’ kan noem”. Dr. J. Van Aerde, wat self CMS opgedoen het, stem saam. Hierdie dokter het tot onlangs twee voltydse betrekkings beklee—in die aand was hy ’n dokter en in die dag was hy ’n wetenskaplike, terwyl hy ook ’n eggenoot en ’n pa was. Hy het verlede jaar sy ondervinding van CMS vertel, en Kanada se Medical Post het sy verhaal gepubliseer:

“Stel jou ’n siekte voor wat al jou energie vernietig sodat dit geweldige inspanning verg om die beddegoed van jou af te haal wanneer jy wil opstaan. Om om die blok te loop, selfs teen ’n slakkegang, is baie moeilik; as jy jou kleuter optel, is jy uitasem. Jy vermy jou studeerkamer in die kelder omdat jy nie weer by die trappe kan opkom sonder dat jy halfpad gaan sit en rus nie. Stel jou voor dat jy die woorde en sinne van ’n koerantartikel kan lees, maar dat jy dit nie kan verstaan nie . . .

“Stel jou voor dat jy voel asof jy honderde binnespierinspuitings tegelykertyd in al jou spiere kry, wat sit pynlik, beweging onmoontlik en ’n omhelsing onaangenaam maak. . . . Stel jou voor dat jy dikwels koue rillings, angssweet, ondervind wat gewoonlik met ligte koors gepaardgaan. Neem al hierdie simptome en vergelyk dit met die ergste griep wat jy al ooit gehad het, behalwe dat dit baie erger is en ’n hele jaar lank, miskien selfs langer, duur.

“Stel jou die angs en die onpeilbare teleurstelling voor wanneer jy keer op keer ’n terugslag beleef, net toe jy gedink het dat jy hierdie ding te bowe gekom het. Stel jou voor dat jy bang en paniekbevange is omdat jy voel asof jy in ’n vreemde liggaam vasgevang is, en jy weet nie wanneer en of dit alles wel tot ’n einde gaan kom nie.”—3 September 1991.

Die naam van die siekte in die Verenigde Koninkryk en Kanada beklemtoon die erns van die siekte. Dit staan daar as mialgiese ensefalomiëlitis, of kortweg as ME, bekend. “Mialgiese” vestig die aandag op die spierpyn en “ensefalomiëlitis” op die uitwerking wat die siekte op die brein en die senuwees het.

Aangesien die versteuring die immuunstelsel aantas, noem steungroepe vir pasiënte in die Verenigde State, waar daar honderde sulke groepe is, die siekte CMIDS (chroniese moegheid-immuundisfunksiesindroom).

Is dit werklik ’n nuwe kliniese probleem? Hoe het dit onder die publiek se aandag gekom?

Historiese oorsig

CMS is waarskynlik nie ’n nuwe siekte nie. Party het gedink dat dit dieselfde is as ’n verskeidenheid simptome wat in die vorige eeu neurastenie genoem is, ’n naam afkomstig van die Grieks wat “tekort aan senuweekrag” beteken. Die simptome van CMS is ook soortgelyk aan dié van fibromialgie, wat ook as fibrositis bekend staan. Party meen selfs dat CMS en fibromialgie dieselfde sindroom kan wees.

Daar is in vorige dekades baie gevalle opgeteken van siektes wat soortgelyk aan CMS is, en die meeste daarvan was in die Verenigde State. Maar hulle het ook al in Engeland, Ysland, Denemarke, Duitsland, Australië en Griekeland voorgekom. Name waardeur die sindroom al beskryf is, was Ysland-siekte, Akureyri-siekte, Royal Free-siekte en ander.

Meer onlangs in 1984 het sowat 200 mense in die klein dorpie Incline Village, naby die grens tussen Kalifornië en Nevada, ’n griepagtige siekte gekry wat voortgeduur het. “Ons het hulle geken as mense wat produktiewe, gelukkige en lewenslustige volwassenes was”, verduidelik dr. Cheney, wat baie van hulle behandel het. “Skielik het hulle siek geword en kon hulle nie gesond word nie. In party gevalle het hulle snags so gesweet dat hulle huweliksmaat moes opstaan om die lakens om te ruil.”

Party het die uitbreek van hierdie siekte in Incline Village neerhalend Jappie-griep genoem, aangesien veral ambisieuse jongmense van die middelstand aangetas was. Daar is gemeen dat pasiënte dalk aan akute klierkoors ly, maar toetse vir daardie siekte was in die meeste gevalle negatief. Bloedtoetse het egter gewys dat daar groot hoeveelhede teenliggaampies teen die Epstein-Barr-virus, ’n soort herpesvirus, teenwoordig was. Die siekte het gevolglik ’n ruk lank algemeen as chroniese Epstein-Barr bekend gestaan.

Die siekte vind erkenning

Toe dr. Cheney ’n verslag van die gebeure in Incline Village aan die CDC gestuur het, is daar eers min waarde daaraan geheg. Maar verslae van soortgelyke gesondheidsprobleme is weldra van oral oor die land ontvang.

Studies het mettertyd getoon dat die Epstein-Barr-virus in die meeste gevalle nie die oorsaak van die siekte was nie. Hierdie virus kom in werklikheid in ongeveer 95 persent van die volwasse bevolking voor. Dit lê rustend in mense se liggame. “Wanneer dit gewek word”, het ’n dokter verduidelik wat navorsing oor CMS doen, “kan dit tot die siekte bydra.” Maar dit is nie noodwendig die geval nie.

Baie navorsing word gedoen om vas te stel wat die oorsake van CMS is. Gevolglik erken al hoe meer dokters dat ’n wesenlike mediese probleem moontlik miljoene mense raak. Dr. Walter Wilson, die hoof van aansteeklike siektes by die Mayo-kliniek in Rochester, Minnesota, VSA, het gesê dat hy sy gesindheid verander het. Omdat hy so baie mense sien wat ten duurste hulp soek, sê hy dat “’n mens hulle met respek moet behandel vir wat hulle deurmaak”.

Dit is duidelik dat baie lewens verwoes word deur ’n siekte met simptome wat algemeen voorkom. Die CDC ontvang elke maand duisende oproepe oor hierdie toestand, en net vigs oortref die siekte wanneer dit kom by navrae wat by die Amerikaanse Nasionale Institute vir Gesondheid gedoen word. “Daar is iets aan die gang”, het dr. Walter Gunn verduidelik, wat voor sy onlangse aftrede aan die hoof gestaan het van navorsing oor CMS by die CDC. “Maar daar is nie sekerheid of dit een siekte of verskeie siektes is en of dit een oorsaak of meer het nie.”

Party meen dat CMS hoofsaaklik ’n psigiatriese probleem is. Die American Journal of Psychiatry van Desember 1991 het gesê: “Die skrywers redeneer dat chroniese moegheidsindroom dieselfde lot as neurastenie gaan hê—die gemeenskap sal nie meer soveel waarde daaraan heg wanneer dit bekend word dat die meeste lyers primêre psigiatriese versteurings ondervind nie.” En ’n nuwe boek, From Paralysis to Fatigue, sê CMS is “’n modesiekte”, en hiermee gee hulle te kenne dat dit nie ’n noemenswaardige siekte gaan wees nie.

Is CMS hoofsaaklik ’n psigiatriese probleem? Word die simptome oor die algemeen deur depressie veroorsaak? Is CMS ’n werklike siekte?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel