Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 8/22 bl. 9-11
  • Op soek na ’n oorsaak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op soek na ’n oorsaak
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Abnormaliteite in die brein
  • Moontlike oorsake
  • Talle faktore
  • ’n Teken van die laaste dae
  • Hoe om die uitdaging wat CMS inhou die hoof te bied
    Ontwaak!—1992
  • Is CMS ’n werklike siekte?
    Ontwaak!—1992
  • ’n Geheimsinnige siekte word erken
    Ontwaak!—1992
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 8/22 bl. 9-11

Op soek na ’n oorsaak

DIT het jare geduur om vas te stel wat die immuunstelsel van vigs-slagoffers ontwrig, maar dit duur selfs langer om vas te stel wat die liggaam en die brein van diegene met CMS (chroniese moegheidsindroom) aantas. Hoewel die oorsaak nog nie vasgestel is nie, kan mediese kenners oortuigende bewys lewer van fisiese abnormaliteite in pasiënte. Trouens, sulke getuienis is al in die hof gebruik.

Kanada se Medical Post het berig dat mediese kenners in ’n omstrede hofsaak bewyse gelewer het ter ondersteuning van die verdediging se stelling dat die pasiënt se oordeelsvermoë deur sy siekte aangetas is. Regter William G. N. Egbert het gevolglik tot dié slotsom gekom: “Die siekte tas jou hele oordeelsvermoë aan. . . . Klein dele van die brein word beskadig.”

Is dit waar?

Abnormaliteite in die brein

Mediese navorsing ondersteun die bewering dat CMS-pasiënte se brein aangetas word. The New York Times van 16 Januarie 1992 het dié opskrif gehad: “Studie ontdek breinabnormaliteit in pasiënte met chroniese moegheid.” Die artikel het, na aanleiding van ’n verslag wat die vorige dag in Annals of Internal Medicine gepubliseer is, gesê:

“Die grootste studie wat nog oor chroniese moegheidsindroom gedoen is, het bewyse opgelewer van ontsteking in die brein van pasiënte; dit is die eerste keer dat bewyse verskaf is dat ’n neurologiese abnormaliteit met die geheimsinnige siekte verband hou.” Die artikel het bygevoeg: “Die studie is die jongste van ’n onlangse reeks wat getoon het dat daar immunologiese en hormoonverskille bestaan tussen mense met die sindroom en mense wat gesond is.”

Die Journal of Clinical Endocrinology and Metabolism van Desember 1991 het verslag gedoen oor ’n ander studie wat wydverspreide aandag geniet het. Volgens hierdie studie was daar aanduidings van hormoontekorte in die endokrienkliere en die brein van mense met CMS. Die studie het dus bygedra tot die bewys dat biochemiese en immunologiese faktore die simptome van CMS veroorsaak.

Dr. Walter Gunn het, terwyl hy by die CDC (Centers for Disease Control in Amerika) gewerk het, baie studies oor CMS-pasiënte gekontroleer. Hy het gesê dat “sommige goeie wetenskaplikes by CMS-navorsing betrokke begin raak”. Hoewel die bevindinge van hierdie navorsers dikwels na verskeie oorsake gewys het, het dr. Gunn gesê: “Die een ding wat konsekwent is, is dat niemand sê dat daar geen abnormaliteite is nie.”

Watter oorsaak of oorsake is moontlik vir CMS verantwoordelik? Is ’n virus of virusse daarby betrokke? Indien wel, op watter manier? Hoe word die immuunstelsel aangetas? Hoe kan die disfunksie daarvan die simptome veroorsaak wat deur CMS-pasiënte ondervind word?

Moontlike oorsake

Navorsing toon dat virusse daarby betrokke is. Maar watter virusse? ’n Hele aantal is al deur navorsers verdink. “Retrovirusse, ‘skuimerige’ virusse, enterovirusse, die Epstein-Barr-virus en die menslike herpesvirus nommer 6 tel almal onder die gewilde en kontroversiële kandidate”, het The Journal of the American Medical Association verlede November gesê.

Hoe kan virusse CMS veroorsaak? Dit is nie bekend nie. Maar dr. Anthony L. Komaroff, ’n toonaangewende CMS-navorser, het gesê: “Die patroon wat nou te voorskyn kom, is dié van ’n immuunstelsel wat chronies geaktiveer is, ’n immuunstelsel wat in die een of ander chroniese oorlog gewikkel is teen die een of ander iets wat dit as vreemd beskou.”

’n Gesonde immuunstelsel reageer op ’n vyandelike virus of virusse deur chemiese stowwe, wat sitokines genoem word, vry te stel sodat dit die indringers kan beveg. Wanneer die noodgeval egter verby is, hou die produksie van sitokines gewoonlik op. Maar in CMS-pasiënte skakel die immuunstelsel klaarblyklik nie af nie. Dit is betekenisvol dat mense met CMS oor die algemeen ’n verhoogde produksie van sitokines het.

Dit is belangrik omdat dit nie die virus is wat ’n mens siek laat voel wanneer dit jou liggaam binnedring nie. Hy voel siek omdat sy liggaamselle sitokines produseer wat die koors, pyn en moegheid veroorsaak. Dr. William Carter, ’n Amerikaanse mediese professor, het gesê: “Die sitokines bly agter en begin die draer só benadeel dat ons uiteindelik ’n bedlêende pasiënt het wat skaars kan beweeg.”

Maar wat veroorsaak dat die immuunstelsel aanhou om sitokines te produseer wanneer dit eintlik moes ophou? Dr. Jay A. Goldstein sê: “’n Latente virus word deur die een of ander iets geaktiveer wat veroorsaak dat die selle van die immuunstelsel [sitokines] in abnormale hoeveelhede produseer.”

Verder lyk dit asof natuurlike moordselle en makrofae, wat aan die voorpunt is in die stryd teen organismes wat die liggaam binnedring, se hoeveelheid of funksie in CMS-pasiënte afneem, wat die immuunstelsel verder verswak. Wat belangrik is, is dat die immuunstelsel van CMS-pasiënte blykbaar nie normaal funksioneer nie, hoewel menings verskil oor waarom dit die geval is.

Soos ons in die vorige artikel gesien het, sê dokters dikwels dat depressie in baie pasiënte nie die oorsaak van CMS is nie. Maar sommige dokters dink dat sielkundige probleme, soos depressie, ’n veroorsakende faktor in ander pasiënte kan wees. Dit is interessant dat navorsing getoon het dat depressie die immuunstelsel kan beskadig. “Sielkundige angs kan op sigself versteurings in die funksie van neurohormone en die immuunstelsel veroorsaak”, skryf dr. Kurt Kroenke van die Walter Reed Army Medical Center in Washington, DC.

Depressie kan gevolglik in sommige gevalle veranderings in die immuunstelsel veroorsaak wat tot CMS kan bydra. Maar baie ander faktore wat die immuunstelsel kan verswak, is waarskynlik ook betrokke.

Talle faktore

Die meeste navorsers stem saam dat dit hoogs onwaarskynlik is dat CMS deur net een ding veroorsaak word. “Pleks daarvan is CMS waarskynlik ’n siekte wat voorkom in ’n vatbare persoon in wie depressie, [allergieë], virusinfeksies of ander faktore die immuunstelsel in sekere mate aangetas het”, het die mediese tydskrif Cortlandt Forum verduidelik.

’n Dokter het in Kanada se Medical Post gesê: “Dit is moontlik dat mense wat ’n oorgeërfde vatbaarheid vir die siekte het of wat liggaamlik uitgeput is die siekte kan opdoen. Dan tref ’n akute voorval, gewoonlik ’n akute virusinfeksie, die reeds moeë mens. Al hierdie faktore saam beskadig moontlik die immuunstelsel.”

“Spanning is een van die grootste aktiveerders van die siekte”, het dr. Charles Lapp gesê. “In sommige gevalle het ons gesien dat sekere chemiese stowwe ’n rol speel. . . . En dit is interessant dat etlike van my pasiënte (hoewel ons nog nooit ’n studie daaroor gedoen het nie) genoem het dat insekdodende middels, verwe en vernisse blykbaar betrokke was toe hulle siekte geaktiveer is.”

Mense is nog nooit tevore blootgestel aan sulke groot aanslae op hulle liggaam deur omgewingsbesoedeling as in ons dag nie. Voedselbymiddels en geneesmiddels kan die liggaam ook beskadig en die immuunstelsel aantas. Sekere dokters sê selfs dat antibiotikums wat oor ’n lang tydperk geneem word die immuunstelsel onderdruk.

Ander faktore kan ook betrokke wees by die lyding wat duisende CMS-pasiënte moet deurmaak. Maar hoewel daar aanloklike leidrade en interessante moontlikhede is, is die oorsaak van CMS nog onbekend.

’n Teken van die laaste dae

Jesus Christus het in sy belangrike profesie oor die laaste dae van die wêreldstelsel voorspel: ‘Daar sal op verskillende plekke pessiektes wees’ (Lukas 21:11). Hoe waar is dit tog nie van ons tyd nie! Die oorsaak van baie hedendaagse siektes is onbekend, tog maak dit die siektes nie minder werklik of aftakelend nie.

CMS is waarskynlik net nog ’n siekte wat deel uitmaak van die teken wat Jesus gesê het die laaste dae sal kenmerk. Maar hierdie wete maak nie die lewe vir diegene wat daaraan ly enigsins makliker nie. Hoe kan CMS-pasiënte met hulle siekte saamleef?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel