Van ons lesers
Chroniese moegheidsindroom Ons gesin het uit waardering gehuil toe ons ons Ontwaak! oor CMS ontvang het (22 Augustus 1992). Jehovah se organisasie gee soveel om deur diegene wat nie deur hierdie vreeslike en snaakse siekte getref is nie te help om dit te verstaan! Baie dankie ook vir die waardering wat julle uitgespreek het teenoor diegene wat vir ons sorg en so ’n groot las dra.
K. C., Australië
Ek het soos die vrou op die voorblad gelyk. Die artikels het my die krag gegee om ’n dokter te besoek en te besef dat ek werklik siek is. Ek het depressie vir alles geblameer. Maar danksy Jehovah behoort die angs wat ek ondervind het tot die verlede.
M. A., Spanje
Uiteindelik ’n tydskrif oor CMS! Ek het aan ander probeer verduidelik hoe ek voel, maar die gevolge was teleurstellend of soms krenkend! Hierdie artikels is voorbeelde van hoe julle publikasies in die dringende behoeftes van individue voorsien.
F. C., Italië
Ek kan steeds nie glo dat ek uiteindelik antwoorde op my vrae oor my gesondheid het nie. Ek het al 14 jaar lank CMS, maar het nooit geweet wat dit is nie. Ek het baie dokters besoek wat gesê het dat ek aan depressie ly of ’n emosionele probleem het. Ek het eksemplare van hierdie tydskrif aan 25 van hierdie dokters gestuur.
J. A. G., Brasilië
Ek het reeds baie oor CMS geweet. Wat ek veral nodig gehad het, was dit wat julle voorsien het in die paragraaf op bladsy 14 wat gehandel het oor wat Jehovah God dink. Baie dankie! Ek huil elke keer wanneer ek daardie paragraaf lees, wat nou al byna 50 keer is!
S. D., Verenigde State
Ek het hierdie artikel gelees onderwyl ek gehuil en van emosie gebewe het. Ek ly aan CMS. Dit het lank geduur voor my probleem gediagnoseer is. Maar die fisiese pyn wat ek ondervind het, was nie so erg soos die pyn wat ek ondervind het omdat my Christenbroers nie verstaan het nie. Dit lyk asof Jehovah altyd weet wanneer om vir ons inligting te gee.
K. J., Verenigde State
My dogter ly al ’n paar jaar aan CMS, en daarom was ek so verheug om die Ontwaak! van 22 Augustus te ontvang. Dit het die probleme so duidelik uiteengesit dat ek die tydskrif nie kon neersit totdat ek dit deurgelees het nie. Toe het ek dit weer gelees. Dit sal een van daardie tydskrifte wees wat ek in my spesiale lêer hou waarna ek in ’n japtrap kan verwys. Hierdie tydskrif het so ’n groot uitwerking op my gehad dat ek julle net moes bedank.
M. E., Engeland
Ouers wat alkoholiste is Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Een van my ouers is ’n alkoholis—Hoe kan ek daarmee saamleef?” (8 Augustus 1992). My pa is ’n herstellende alkoholis. Hy het ons fisies en verstandelik erg mishandel. Ek het op ’n vroeë ouderdom begin drink en was al amper self ’n alkoholis toe my ma saam met Getuies van Jehovah begin studeer het. Ek is verheug om te kan sê dat ek in Augustus 1991 gedoop is! Ek doen nou aansoek om as ’n pionier- [’n voltydse] evangelis te dien. Ek waardeer hoeveel begrip die artikel het vir die gevoelens van jongmense teenoor ouers wat alkoholiste is. Hoewel ons hulle liefhet, beteken dit nie dat ons dit wat hulle doen, goedkeur nie.
L. W., Verenigde State