Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 8/22 bl. 5-9
  • Is CMS ’n werklike siekte?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is CMS ’n werklike siekte?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Definisie van CMS
  • Kan CMS depressie wees?
  • Die belangrikheid van onlangse bewyse
  • Sê nou CMS is ’n werklike siekte?
  • Die waarde wat die erkenning van die siekte inhou
  • Hoe om die uitdaging wat CMS inhou die hoof te bied
    Ontwaak!—1992
  • ’n Geheimsinnige siekte word erken
    Ontwaak!—1992
  • Op soek na ’n oorsaak
    Ontwaak!—1992
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 8/22 bl. 5-9

Is CMS ’n werklike siekte?

“EK HET die een dokter na die ander besoek”, het Priscilla, ’n CMS-lyer (iemand wat aan chroniese moegheidsindroom ly) van die staat Washington, VSA, verduidelik. “Ek moes bloedtoetse laat doen, en ek is oor my lewenstyl uitgevra. Hulle het gesê dat daar nie werklik iets met my verkeerd is nie en het voorgestel dat ek psigiatriese voorligting ontvang. Nie een van die dokters wou my of my simptome ernstig opneem nie.”

Dit is nie ’n unieke ondervinding nie. ’n Dokter het verlede jaar in JAMA (Journal of the American Medical Association) geskryf: “Die deursneepasiënt met CMS het voorheen 16 verskillende dokters gespreek. Die meeste moes hoor dat hulle heeltemal gesond is, dat hulle terneergedruk is of dat hulle aan te veel spanning blootgestel is. Baie is na psigiaters verwys. Die situasie is vandag nie veel beter nie.”

CMS hou unieke uitdagings in, soos The American Journal of Medicine sê: “’n Mens word aan geweldige spanning onderwerp wanneer jy ’n siekte moet verwerk waar jy liggaamlik gesond lyk en jou fisiese ondersoek en die uitslag van laboratoriumtoetse normaal is. Die siekte gaan dikwels gepaard met gespanne verhoudings tussen huweliksmaats, ander familielede, werkgewers, onderwysers, gesondheidsdeskundiges en versekeringsmaatskappye.”

Die feit dat moegheid so algemeen voorkom, hou vir dokters ’n uitdaging in. “As ’n dokter $1 gehad het vir elke pasiënt wat oor moegheid gekla het, sou hy of sy kon aftree”, het ’n mediese redakteur geskryf. Maar natuurlik het min wat oor moegheid kla CMS. Hoe kan ’n dokter die siekte diagnoseer aangesien daar geen mediese toets vir die siekte bestaan nie?

’n Definisie van CMS

In Maart 1988 het die CDC (Centers for Disease Control in Amerika) ’n groep tekens en simptome in Annals of Internal Medicine gepubliseer wat gesamentlik ’n teken van CMS is. (Sien bygaande venster.)

Die hooftekens waardeur CMS gediagnoseer word, is (1) ’n ongekende aanval van moegheid wat langer as ses maande duur en veroorsaak dat jy 50 persent minder as voorheen kan doen en (2) die uitskakeling van ander mediese of psigiatriese toestande wat die simptome kan veroorsaak. Die pasiënt moet egter voor hy as ’n CMS-lyer gediagnoseer kan word ook 8 van die 11 simptome op die lys van ander tekens hê of hy moet 6 van dié 11 simptome sowel as 2 van die 3 simptome op die lys van fisiese tekens hê.

Dit is duidelik dat diegene wat as CMS-lyers gediagnoseer word vir ’n lang tydperk baie ernstig siek is. Die CDC het die definisie van CMS baie beperkend gemaak sodat hierdie mense duidelik geïdentifiseer kan word. Diegene wat minder ernstige vorme van die sindroom het, word tans deur hierdie definisie uitgesluit.

Kan CMS depressie wees?

Wat van dokters wat sê dat CMS-lyers aan depressie en ander sielkundige versteurings ly? Het hierdie pasiënte die kenmerkende simptome van depressie?

Baie CMS-pasiënte ly aan depressie, maar soos dr. Kurt Kroenke, ’n professor aan ’n mediese skool in Bethesda, Maryland, VSA, gevra het: “Is daar enigiemand wat nié aan depressie sal ly as hy of sy ’n jaar of langer moeg bly nie?” Daarom is dit redelik om te vra: Is depressie die oorsaak van CMS of is dit ’n gevolg daarvan?

Dit is gewoonlik moeilik om daardie vraag te beantwoord. Wanneer ’n dokter die tweede punt van die hooftekens in ag neem, wat sê dat ‘psigiatriese toestande wat die simptome kan veroorsaak, uitgeskakel moet word’, kan hy tot die gevolgtrekking kom dat die pasiënt aan depressie ly en nie aan ’n organiese of fisiese siekte nie. Tog is dit in baie gevalle nie ’n bevredigende diagnose nie.

Die mediese tydskrif The Cortlandt Consultant het gesê: “Die oortuigendste bewys dat CMS ’n ‘organiese’ siekte is, is dat dit in 85 persent van die pasiënte skielik begin. Die meeste pasiënte sê dat hulle siekte op ’n spesifieke dag met ’n griepagtige sindroom begin het wat deur koors, [seerkeel, geswelde limfkliere, spierpyne] en verwante simptome gekenmerk is.” Dokters wat CMS-pasiënte behandel het, is daarvan oortuig dat depressie dikwels nie die oorsaak van die simptome is nie.

Dr. Anthony Komaroff, hoof van Algemene Geneeskunde by Brigham and Women’s Hospital in Boston, VSA, het gesê: “Toe ons ons gevalle vergelyk het, het dit ons opgeval dat die meeste pasiënte gesê het dat hulle heeltemal gesond en energiek was en ’n suksesvolle lewe gehad het totdat hulle op ’n dag verkoue, griep of brongitis opgedoen het en nooit daarvan herstel het nie. Die simptome wat as sielkundig van aard beskou kon word—depressie, ’n algemene gevoel van ongesteldheid, slaapversteurings, ensovoorts—het nie voor die begin van die siekte voorgekom nie.”

Een kenmerkende simptoom van depressie is dat ’n mens belangstelling in alles verloor. Maar dr. Paul Cheney het gesê: “Hierdie pasiënte is net die teenoorgestelde. Hulle is uiters besorg oor wat hulle simptome beteken. Hulle kan nie funksioneer nie. Hulle kan nie werk nie. Baie is bang. Maar hulle het nie ’n gebrek aan belangstelling in hulle omgewing nie.”

Geswelde kliere, koors, ongewone witbloedseltellings, herhaalde asemhalingsinfeksies, spier- en gewrigspyne en veral ’n ongewone gevoel van ongesteldheid en spierpyn wat na selfs matige oefening kan voorkom—hierdie simptome is net nie kenmerkend van ’n depressieverwante sindroom nie.

Die belangrikheid van onlangse bewyse

Die tydskrif JAMA van 6 November 1991 het gesê: “Voorlopige data van ’n voortgesette studie van pasiënte wat voldoen aan die CDC se definisie van chroniese moegheidsindroom (CMS) toon dat die meeste pasiënte met die siekte nie slagoffers van depressie of ander psigiatriese probleme is nie.”

Dr. Walter Gunn, wat CMS-navorsing by die CDC noukeurig gekontroleer het, het in hierdie nommer van JAMA verduidelik: “Ondanks die feit dat baie dokters tot die gevolgtrekking sou gekom het dat al hierdie pasiënte [in die studie] aan depressie ly, het ons gevind dat net 30% van die CMS-pasiënte aan die begin van hulle moegheid tekens van depressie getoon het.”

Daar kan selfs fisiese verskille tussen baie CMS-pasiënte en depressielyers wees. “Pasiënte met major depressieversteuring (MDV) se paradoksale slaap (REM-slaap) is gewoonlik abnormaal, terwyl CMS-pasiënte se nie-paradoksale [slaap] abnormaal is”, het die mediese tydskrif The Female Patient gesê.

Die tydskrif Science van 20 Desember 1991 het verslag gedoen oor nog ’n belangrike bevinding. Dit het gesê dat navorsing toon dat “CMS-pasiënte hoeveelhede van sekere breinhormone het wat van die normale verskil” en het opgemerk: “Hoewel die verskille tussen hulle en mense sonder CMS matig was, het CMS-pasiënte oor die algemeen ’n afname in die hoeveelheid kortisol, ’n steroïedhormoon, en ’n toename in die hoeveelheid AKTH (adrenokortikotrope hormoon), ’n hipofisehormoon, getoon, wat presies die teenoorgestelde is van die veranderinge wat tydens depressie voorkom.”—Ons kursiveer.

Sê nou CMS is ’n werklike siekte?

Lede van die mediese professie is skepties oor versteurings, soos CMS, wat hulle nie verstaan nie. “Ons professie is deurtrek van skeptisisme”, het dr. Thomas L. English geskryf. “Gesonde skeptisisme is die gesindheid wat ‘in’ is vir intelligente, oordeelkundige dokters.” Tog twyfel dr. English of skeptisisme enige voordeel inhou vir die pasiënt wat daaraan ly “as CMS ’n werklike siekte is”. Hy vra skeptiese mededokters: “Sê nou julle is verkeerd? Watter gevolge hou dit vir julle pasiënte in?”

Dr. English ly self aan CMS, en JAMA het verlede jaar sy artikel gepubliseer wat aan mededokters gerig was. Hy het hulle genooi om hulle in die plek te stel van die pasiënt wat daaraan ly en het die sindroom só beskryf:

“Jy doen ‘’n verkoue’ op en daarna is die gehalte van jou lewe vir altyd verander. Jy kan nie helder dink nie . . . Partykeer verg dit al jou krag om die koerant te lees of om op die intrige van ’n televisieprogram te konsentreer. Jy voel asof jy altyd reisroes het. As ’n dokter het jy eers selfvertroue op die gebied van pasiëntsorg gehad, maar nou het jy dit verloor. Mialgieë [spierpyne] kom in alle dele van jou liggaam voor. Simptome kom en gaan, vererger en verbeter. . . . Jy sou waarskynlik ook oor sommige van jou simptome getwyfel het as jy nie met ander pasiënte gepraat het wat soortgelyke ondervindings het nie . . . of met dokters gepraat het wat honderde soortgelyke gevalle gesien het nie. . . .

“Ek het met tientalle medepasiënte gepraat wat mediese dokters gaan spreek het om hulp te kry, maar wat vernederd, kwaad en bang daar weg is. Hulle liggaam het vir hulle gesê dat hulle fisies siek is, maar hulle dokters se mening dat hulle siekte psigosomaties van aard is, het hulle net bang en kwaad gemaak—en hulle nie gerusgestel nie. Dit het vir hulle getoon dat hulle dokters baie min begrip van die werklike probleem het. . . . Moet ons glo dat net omdat simptome vreemd en ongewoon is hulle nie werklik kan wees nie? Moet ons aanneem dat ons laboratoriumtoetse nuwe sowel as ou siektes kan opspoor? Nuwe idees word al van die mens se bestaan af gewantrou; die skadelike gevolge van daardie wantroue kom net so lankal voor.”—JAMA, 27 Februarie 1991, bladsy 964.

Die waarde wat die erkenning van die siekte inhou

“Dokters wat baie tyd daaraan bestee om met CMS-pasiënte te gesels, hoor ’n verhaal wat heeltemal konsekwent is; ’n verhaal wat ooreenkom met die verhale van ander CMS-pasiënte”, het dr. Allan Kind, ’n spesialis op die gebied van aansteeklike siektes, gesê. “Ek kan vir jou sê dat chroniese moegheidsindroom werklik is.”

Al hoe meer dokters stem nou saam. The Female Patient het dokters dus aangemoedig: “Totdat ’n presiese diagnose en ’n geskikte behandeling bepaal kan word, het die dokter ’n spesiale verantwoordelikheid om vir hierdie pasiënte te sê dat hulle inderdaad ’n werklike siekte het en dat dit nie ‘blote verbeelding’ is nie.”

Dit kan groot voordeel inhou om ’n pasiënt se siekte te bevestig. Toe ’n dokter vir een vrou gesê het dat sy CMS het, het sy gesê: “My oë het vol trane geskiet.” Om te hoor dat ’n dokter sê dat haar siekte werklik is en dat dit ’n naam het, was vir haar ’n groot verligting.

Maar wat veroorsaak CMS? Wat het navorsing getoon?

[Venster op bladsy 7]

Tekens waardeur chroniese moegheidsindroom gediagnoseer kan word

Hooftekens

1. ’n Ongekende aanval van moegheid wat langer as ses maande duur en veroorsaak dat jy 50 persent minder as voorheen kan doen

2. Geen ander mediese of psigiatriese toestande wat die simptome kan veroorsaak nie

Ander tekens

Simptome moet met die aanvang van moegheid of daarna begin

1. Ligte koors

2. Seerkeel

3. Pynlike limfkliere

4. Spierswakheid wat oral voorkom

5. Spierpyn

6. Langdurige moegheid na oefening

7. Hoofpyne

8. Gewrigspyn

9. Slaapversteuring

10. Neuropsigologiese klagtes, soos vergeetagtigheid, verwardheid, moeite om te konsentreer, depressie

11. Akute aanvalle (wat ’n paar uur of ’n paar dae duur)

Fisiese tekens

1. Ligte koors

2. Keelinfeksie

3. Geswelde of gevoelige limfkliere

[Prent op bladsy 8]

Dokters moet die insig hê om tussen depressie en chroniese moegheidsindroom te onderskei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel