Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 8/22 bl. 24-27
  • Die tragedie van die Aralmeer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die tragedie van die Aralmeer
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Unieke gesig
  • Waarom die meer besig is om te verdwyn
  • Voordele met tragiese gevolge
  • Sterwende land en siek mense
  • ’n See wat sterf van die dors
    Ontwaak!—1991
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1993
  • Raak ons water op?
    Ontwaak!—2009
  • ’n Besonderse see—maar dood!
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 8/22 bl. 24-27

Die tragedie van die Aralmeer

“ONS weet van geen ander geval in die mens se geskiedenis waar ’n hele meer ten aanskoue van ’n enkele geslag verdwyn het nie.”

Nadat R. V. Khabiboellaen daardie opmerking gemaak het, het hy, ’n prominente lid van die voormalige Sowjetunie se wetenskaplike gemeenskap, verduidelik: “Helaas! dit is die hartseer lot wat die Aralmeer bedreig.”

Hierdie ontsaglike meer is in die woestyngebiede van Oesbekistan en Kasakstan geleë wat voorheen Asiatiese republieke van die Sowjetunie was. In 1960 het dit ongeveer 67 000 vierkante kilometer beslaan, wat dit die wêreld se vierde grootste binnelandse watermassa gemaak het. Slegs die nabygeleë Kaspiese See, Noord-Amerika se Bowemeer en Afrika se Victoria-meer was groter.

Maar die afgelope 30 jaar het die Aralmeer se oppervlak met meer as ’n derde gekrimp en sy volume met ongeveer twee derdes! Meer as 28 000 vierkante kilometer van die Aral, twee keer die grootte van die staat Connecticut, VSA, het verdwyn. Die meer se vlak het meer as 12 meter gesak, en op party plekke het die water 80 tot 100 kilometer van sy vorige oewer af teruggetrek. Nou lê daar net ’n droë, kaal sandbedding waar daar voorheen pragtige blou waters was wat van visse gewemel het. Vissersdorpies wat vroeër gefloreer het, lê nou verlate baie kilometers van die oewer af.

Die Aral het gedurende die laat vyftigerjare jaarliks ongeveer 45 miljoen kilogram bemarkbare vis opgelewer. Die meer, wat ’n lae soutgehalte gehad het, het gewemel van 24 soorte varswatervisse. Uit die hawestad Moejnak alleen het ongeveer 10 000 vissers visgevang, waar 3 persent van die Sowjetunie se jaarlikse vangs bewerk is. Maar nou het die meer se florerende vissery, wat voorheen aan 60 000 mense werk verskaf het, tot ’n einde gekom; die Aral se toenemende soutgehalte het die visse laat sterf.

’n Unieke gesig

Dit is verbasend om te sien dat Moejnak, waarvan die bevolking van meer as 30 000 tot ongeveer 20 000 afgeneem het, nou meer as 30 kilometer van die verdwynende Aral af lê! ’n Besoeker uit die Verenigde State wat die dorp per vliegtuig genader het, het gesê dat hy “iets wat soos speelgoedbootjies gelyk het op hulle sye in die woestyn sien lê het”. Toe hy die gebied van naderby gesien het nadat hy geland het, het hy gesê: “Daar lê tientalle massiewe ystertreilers en ander bote op hulle sye en hulle is gedeeltelik begrawe asof hulle [kilometers] ver deur ’n reusevloedgolf die binneland ingegooi is.”

Toe die meer se water begin terugtrek het, is daar ’n kanaal gegrawe sodat die bote in Moejnak se hawe toegang tot die meer kon hê. Maar die dorp se burgemeester het gesê: “In die winter van 1974 het die water vinnig teruggetrek, en teen die lente, wanneer die bote gewoonlik te water gelaat is, was hulle te ver van die water af en was dit onmoontlik om hulle te beweeg.”

Wat het hierdie tragedie veroorsaak?

Waarom die meer besig is om te verdwyn

Twee groot riviere, die Amu Darja en die Syr Darja, vloei al uit jare her in die Aral in. Hierdie riviere kry hulle water van die smeltende gletsers wat van die berge in die noordoostelike dele van Afganistan en Kjirgizstan af kom. Maar ten einde die droë Aralkom in ’n groot landbougebied te verander, is die water na besproeiingskanale afgelei sodat daar feitlik niks oor was wat in die meer kon invloei nie.

In 1960 is daar met die sogenoemde Aralmeerprojek begin, en spoedig het die land wat onder besproeiing was tot ongeveer 6,8 miljoen hektaar uitgebrei, twee keer so groot soos dié van Kalifornië, VSA. Die plantasies het geil gegroei in die woestyn, maar kort daarna het die meer begin verdwyn.

Was die voordele belangriker as die skade wat aan die meer aangerig is?

Voordele met tragiese gevolge

Katoen is die vernaamste gewas, en ongeveer die helfte van die land word vir die verbouing daarvan gebruik. Voor die Sowjetunie ontbind is, het dit 95 persent van sy katoen van hierdie besproeiingsgebied van die Aralkom af gekry. Daar was boonop ’n surplus wat uitgevoer kon word om die nodige kontant te voorsien. Die Sowjetunie het ook ongeveer 40 persent van sy rys van hierdie gebied af gekry.

Die Aralkom het boonop die land se vernaamste verskaffer van vars vrugte en groente geword, net soos in die geval van Kalifornië in die Verenigde State. En werksgeleenthede is vir die gebied se vinnig groeiende bevolking van byna 40 miljoen geskep. Maar daar is nie eintlik rekening gehou met die uitwerking wat dit op die omgewing sou hê nie.

Besproeiingskanale is byvoorbeeld nie met sement uitgevoer nie. Gevolglik het die meeste water deur die sandgrond gesypel nog voor dit die plantasies bereik het. Daarbenewens is groot hoeveelhede gevaarlike plaagdoders gebruik, en om die katoenoes te vergemaklik, is sterk onkruiddoders gebruik om die plante te ontblaar.

Groot skade is dus aan die omgewing aangerig—dit behels veel meer as net die Aralmeer se vissery wat uitgewis is. As gevolg van die oop bodem van die meer wat ’n gebied van 28 000 vierkante kilometer beslaan, waai miljoene ton sand en sout byvoorbeeld jaarliks die lug in en veroorsaak dit storms wat so groot is dat dit uit die ruimte gesien kan word.

Die neerslag van hierdie storms wat in die vorm van stof of reën plaasvind, bevat giftige vlakke soute, plaagdoders en ander stowwe. Party gebiede in die Aralkom kry jaarliks tot een en ’n kwart ton van hierdie sout-en-sand-mengsel per hektaar. En Aralstof is al tot aan Rusland se Arktiese kus opgemerk.

Die uitwerking wat die verdwynende Aralmeer op die weer het, is ook angswekkend. Die meer se matigende invloed op die weer het so afgeneem dat somertemperature hoër en dié in die winter laer is. In die lente ryp dit later, en in die herfs ryp dit vroeër, wat die groeiseisoen verkort.

Die Aral se verdwyning het ook veroorsaak dat die dierelewe grootliks uitgewis is. ’n Paar jaar gelede was daar meer as 170 diersoorte in die omgewing van die Aral; nou is daar minder as 40. In die vroeë sestigerjare is meer as 600-000 bisamrotpelse jaarliks gekry, nou word daar feitlik niks gekry nie. Die woestyndiere wat die meer se water drink, sterf weens die verhoogde mineraalinhoud.

Sterwende land en siek mense

Dit is tragies om te sien dat die grond se hoër soutgehalte besig is om die land te vergiftig. Wanneer woestyngrond besproei word, laat die warm son die meeste van die water verdamp, wat die grond se soutinhoud verhoog. Wanneer baie van die besproeiingswater boonop in die grond insypel, verhoog dit die watertafel geleidelik. En wanneer die besoedelde water die plantwortels bereik, beskadig die giftige water hulle. Dit is wat besig is om in die Aralkom te gebeur. “Dieselfde ramp wat tot die val van die vroeë Mesopotamiese beskawings bygedra het”, het een skrywer verduidelik, “eis al weer ’n slagoffer.”

Die mense word ook vergiftig. Plaag- en onkruiddoders sypel in die grond in en besoedel bronwater. Baie mense drink dus water wat gevaarlike chemikalieë bevat, met tragiese gevolge. “Die plaaslike mediese leesstof”, sê die tydskrif World Watch, “is vol verhale van gebreklike babas, toenemende lewer- en nierkwale, chroniese maagontsteking, toenemende kindersterftes en vinnig stygende kankersyfers.”

Dr. Leonid Elpiner, wat ’n studie van die Aralmeer se gesondheidsprobleme maak, het die ramp wat in die gebied voorkom “plaagdoder-vigs” genoem. Hy het gesê: “Na ons mening is die hoofdoel nie meer om die Aralmeer te red nie. Dit is om die bevolking te red.”

’n Redakteur van National Geographic, William S. Ellis, een van die eerste Amerikaanse besoekers aan die gebied, het geskryf: “Die meer is ’n verergerende omgewingstragedie—baie sê dat dit ten minste met die Tsjernobil-kernramp van 1986 vergelyk kan word.” Op ’n vergadering in Moejnak het een man dit selfs “tien keer erger” genoem.

Wat met die Aralmeer gebeur het, is ’n ware tragedie. Maar dit was onopsetlik. Bewindvoerders het dit goed bedoel. Hulle het die woestyn probeer ontwikkel sodat hulle die mense van voedsel kon voorsien. Maar toe al hulle planne uitgevoer is, het dit ontsettende probleme veroorsaak, wat die voordele ver oortref.

’n Skrywer het gesê wat hy van die tragedie van die Aralmeer dink en het opgemerk dat die mens die verantwoordelikheid het om die aarde “as ’n goed opgepaste en mooier plek” vir toekomstige geslagte na te laat. Ongelukkig het die teenoorgestelde hier gebeur, soos gesien kan word aan die dramatiese veranderinge wat meer as 30 jaar gelede in die Aralkom begin plaasvind het.

[Prent op bladsy 24, 25]

Die Aralmeer se oewer het met tot 95 kilometer teruggetrek, wat bote in die sand gestrand gelaat het

[Erkenning]

David Turnley/Black Star

[Prent op bladsy 26]

Met behulp van besproeiing is die Aralkom in ’n produktiewe land ontwikkel, maar met rampspoedige gevolge

[Erkenning]

David Turnley/Black Star

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel