Nie gewone afval nie!
OP VRYDAG, 24 Maart 1989, het die tenkskip Exxon Valdez in die Prins William-sont in Alaska teen ’n rif gebots. Gevolglik het 42 miljoen liter ru-olie in die water uitgestroom. Die ongeluk het die heenkome van plaaslike vissers bedreig, die kuslyn vir honderde kilometers besoedel en duisende voëls en seesoogdiere uitgewis.
Omgewingsbewuste mense bly bekommerd oor die Exxon Valdez-voorval. Maar ’n gevaarliker “oliestorting” vind daagliks plaas. En dit kom heel waarskynlik in jou eie buurt voor!
Volgens Consumer Reports gooi mense wat hulle motor se enjinolie self vervang jaarliks tussen 750 miljoen en 1,5 miljard liter afvalolie weg. Volgens berig “word daar net van 10 tot 14 persent van daardie olie op die regte manier ontslae geraak”. Hierdie klein persentasie afvalolie word herbenut aangesien ander nuttige produkte daarvan gemaak kan word. Maar wat gebeur met die res? Motoriste gooi dit heel waarskynlik net as gewone afval weg.
Miljoene liter afvalolie beland jaarliks in die grond, in riviere of in riole. Dit sal minstens 25 Exxon Valdez’s neem om soveel olie te stort! Maar gebruikte olie asook ander motorafval, soos vriesweermiddels, remvloeistof en transmissieolie, is nie gewone afval nie. Dit is iets ergers.
Consumer Reports sê dat as die olie “in drinkwater beland dit ernstige gevolge kan hê: Een [liter] gebruikte olie kan ’n miljoen [liter] vars water ondrinkbaar maak, en slegs [0,5 liter] olie kan ’n olielaag veroorsaak wat [0,4 hektaar] water bedek.”