Van ons lesers
Hormone Ek het die artikel “Hormone—Die liggaam se wonderlike boodskappers” (22 April 1992) waardeer. Julle het daarin geslaag om een van die belangrikste en mees komplekse van alle lewensonderhoudende funksies in eenvoudige taal te beskryf. Die dinge wat ek in hierdie artikel geleer het, het my die Skepper van ons wonderlike liggaam selfs meer laat waardeer!
L. F., Italië
Ek het die artikel baie nuttig gevind, aangesien ek so pas oor hierdie onderwerp op skool begin leer het. Die artikel is goed geskryf en só aangebied dat die werking van hormone maklik verstaanbaar is. Die Ontwaak! is werklik ’n opvoedkundige tydskrif.
D. A. J., Côte d’Ivoire
My vriendin, wat een van Jehovah se Getuies is, gee my gereeld van julle lektuur om te lees. Ek het veral in julle artikel oor hormone belanggestel. Ek is besig met my tweede jaar van opleiding as ’n verpleegster, en aangesien ons tans die hormoonstelsel behandel, was ek besonder bly om julle artikel byderhand te hê. Ek is baie dankbaar dat ek Jehovah se Getuies leer ken het.
Y. L., Duitsland
Aandklokreëls Julle artikel “Jongmense vra . . . Waarom moet ek so vroeg tuis wees?” (8 Mei 1992) het ’n groot indruk op my gemaak. Ek het altyd tot laat in die aand uitgebly en dan in die huis probeer insluip—net om te vind dat my ma op die voorstoep vir my sit en wag. Soms het sy met my geraas terwyl haar oë vol trane was. Wanneer ek daaroor nadink, is ek spyt dat ek ongehoorsaam was. Ek weet nou dat enigiemand wat Jehovah se raad verontagsaam vir homself probleme op die hals sal haal.
T. A., Japan
Maagdelikheid Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Is dit normaal om ’n maagd te wees?” (22 Maart 1992). Ek onthou hoe my klasmaats my verpes het deur te vra of ek al geslagsomgang gehad het. Selfs vandag nog spot werkmaats my wanneer hulle uitvind dat die Bybel voorhuwelikse seks veroordeel. Maar promiskue gedrag het ongewenste swangerskappe en seksueel oordraagbare siektes tot gevolg. As jy Bybelbeginsels toepas deur voorhuwelikse seks te vermy, dien dit as jou beskerming.
G. I. I. L., Brasilië
Ek is 17 jaar oud en swanger. Ek het nie na die Bybel se raad geluister nie. Julle artikel het my gehelp om van my vooroordele ten opsigte van maagdelikheid ontslae te raak. Ek het maagdelikheid nog nooit as ‘’n teken van eer’ beskou nie. Ek wens nou dat ek na die Bybel se raad geluister het.
M. R., Verenigde State
Baie dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Waarom moet ek ’n maagd bly?” (22 April 1992). Ek het op ’n baie vroeë ouderdom die een betekenislose verhouding na die ander aangeknoop, op soek na liefde. Ek was jare lank diep teleurgesteld. Julle kan julle nie voorstel hoe skuldig, skaam en moedeloos ek al daardie jare gevoel het nie. Terwyl ek julle voetnoot op bladsy 27 oor God se vergifnis gelees het, kon ek skaars die stortvloed van emosie en dankbaarheid inhou wat in my hart teenoor God opgewel het.
A. M., Verenigde State
Ongelooflike insekte Net ’n kort briefie om my waardering uit te spreek vir die artikel “Ongelooflike insekte steek die mens se lugmasjiene in die skande” (22 Mei 1992). Ek werk in die navorsingsafdeling van ’n hipertegnologiese maatskappy, en dit is maar alte duidelik hoe trots die mens op sy prestasies is. Maar daar word selde erken dat die kompleksiteite van die natuur die handewerk van die Skepper is. Ek het eenkeer toevallig gehoor hoe twee wetenskaplikes die geometriese prag van ’n bloekomboomsaadjie bespreek. Hulle gevolgtrekking? “Is Moeder Natuur nie wonderlik nie?” Hulle sinne is waarlik verblind.
P. G., Verenigde State