Ons beskou die wêreld
Outomate vir die voorkoming van vigs
’n Australiese staatskommisie oor vigs het die opdrag ontvang om aanbevelings te doen oor hoe die verspreiding van die siekte vertraag kan word. Volgens The Courier-Mail van Brisbane is daar sterk aanbeveel dat jongmense vryer toegang tot vigs-voorkomingsmetodes moet hê, aangesien, soos die voorsitter, dr. Charles Watson, verduidelik het, die meeste hoërskoolleerlinge seksueel aktief is. Een van die aanbevelings is dat kondome deur middel van muntoutomate by hoërskole beskikbaar gestel moet word. Dr. Watson glo nie dat die installering van muntoutomate wat kondome verkoop jonger leerlinge sal aanspoor om vroeër geslagsomgang te hê nie. Die verslag het geen aanbevelings ten opsigte van selfbeheersing op sedelike gebied bevat nie.
Persoonlike helikopters?
Was jy al gefrustreerd omdat jy ure lank in die stadsverkeer moes wag? Het jy al gedink hoe aangenaam dit sou wees om in die lug op te styg en by jou bestemming neer te stryk? Wat van ’n persoonlike helikopter? Die ontwikkeling van die eerste ultraligte helikopter is die jongste nuwigheid op die gebied van die lugvaart, berig die Italiaanse koerant Il Messaggero. Hy weeg slegs 230 kilogram en het ’n maksimum snelheid van 150 kilometer per uur. Dit sal jou R165000 kos om een te koop en ongeveer R1,90 per kilometer om daarmee te vlieg. Al is hy kleiner as die groot modelle kan hy nogtans op ’n hoogte van 4000 meter vlieg en is sy vliegafstand 320 kilometer.
Oorlogsverkragting
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Japannese leër duisende meisies en jong vroue uit lande in Oos-Asië gevange geneem om as seksslawe vir die troepe aan die gevegsfronte te dien. Hulle is eufemisties “troosvroue” genoem, en dié wat nie aan geslagsiektes gesterf het nie, is agtergelaat om te sterf toe die leërs teruggetrek het. Nou het ’n man 50 jaar later na vore gekom om sy aandeel daaraan openlik te erken en verskoning te vra. Seiji Josjida, 78, “kan nie die herinneringe uitwis van hoe hy huilende Koreaanse kinders wat aan hom geklou het, weggeskop het terwyl hulle jong moeders deur sy manne in vragmotors gelaai is om vir die Japannese Keiserlike Leër seksslawe te word nie”, sê die Mainichi Daily News. Toe mnr. Josjida gevra is hoe hy op daardie tydstip gevoel het, het hy volgens die koerantberig geantwoord: “Ons het bloot bevele uitgevoer. Ons was sielkundig op ’n laagtepunt. Dit was bloot besigheid. ’n Ander ideologie was buite die kwessie. Ek het niks gevoel nie. Ek was besig, ek was desperaat, ek was besete.” Baie lande se militêre amptenare het al gesorg dat hulle troepe van vroue voorsien word, óf deur vroue gevange te neem, óf deur prostitute te betaal.
Die goeie grond aan die verdwyn
Volgens ’n verslag in die tydskrif Science verminder die wêreld se bewerkbare grond, omdat dit “vinnig wegspoel of stof word in die wind”. Die WRI (World Resources Institute) van Washington, DC, het in Maart die resultate van ’n drie jaar lange studie bekend gemaak waarin honderde deskundiges nagegaan het hoe die toestand van die grond sedert die Tweede Wêreldoorlog wêreldwyd verander het. Die resultate? Grond wat vantevore vrugbaar was, ’n gebied wat gelyk is aan die totale oppervlakte van China en Indië saam, is nou kwaai verswak weens die mensdom se misbruik van die grond—hoofsaaklik deur ontbossing, oorbeweiding en skadelike landbougebruike. Hierdie tendens voorspel niks goeds nie, want volgens die skatting van die WRI se president, Gus Speth, sal die wêreld sy voedselvervaardiging in die volgende halfeeu moet verdriedubbel om in die behoeftes van die groeiende bevolking te kan voorsien.
“Julle was ons slagoffers, kinders”
Kindermishandeling? Nie in die gewone sin nie. Die bostaande is die woorde van David Goerlitz, ’n akteur wat in advertensies vir Winston-sigarette verskyn het as ’n bergklimmer wat ’n sigaret aansteek terwyl hy aan ’n krans hang. The Boston Globe berig dat mnr. Goerlitz en Wayne McLaren (wat in die advertensies vir Marlboro-sigarette verskyn het) nou groepe skoolkinders besoek om hulle te oorreed om nie te rook nie. “Ons het julle laat glo dat julle baie manlik sal wees as julle rook”, het mnr. Goerlitz verduidelik. “My lewe is baie verkort omdat ek besluit het om te rook”, het mnr. McLaren hartseer erken nadat hy een long weens kanker verloor het.
Eerstehulp vir tande wat uitgestamp word
“Tande wat uitgestamp is, kan selfs etlike dae na die ongeluk weer ingeplant word mits hulle behoorlik bewaar word”, berig die Duitse koerant Frankfurter Allgemeine Zeitung. ’n Eerstehulpkissie is ontwerp waarin ’n uitgestampte tand gesit kan word. Die kissie bevat steriele water sowel as ’n mengsel van voedingstowwe en antibiotikums, wat apart gehou word. Hierdie twee bestanddele kan dan gemeng word deur ’n knoppie te druk. Die toerusting is nie duur nie en kan ongeveer drie jaar lank sonder verkoeling gehou word. So ’n eerstehulpkissie kan veral nuttig wees op plekke waar ongelukke waarin tande verloor word redelik dikwels plaasvind, soos by swembaddens, sportterreine en skole.
Vakansiespanning
’n Gespanne persoon kan meer daarby baat vind om sekere gewoontes te verander as om met vakansie te gaan. Dr. Sérgio Tufik, professor aan die Mediese Skool van São Paulo, Brasilië, is in Veja aangehaal waar hy sê: “Ons biologiese ritme is geprogrammeer om soos ’n horlosie te loop. Enige verandering, selfs ’n week in weelde op ’n Karibiese eiland, kan ’n mens vermoei.” Om skadelike spanning te voorkom, hetsy ’n werk uitdagend is of nie, beveel hy aan: “Wees tevrede met wat [jy] doen.” Pleks van altyd iets anders te probeer doen wat moontlik meer spanning as die daaglikse roetine veroorsaak, doen die dokter aan die hand: “Die geheim is miskien om elke dag ‘met vakansie te gaan’. Dit beteken dat jy, behalwe die werk, aan verskeie aktiwiteite moet deelneem wat tevredenheid verskaf.”
Tragiese bloedskenkings
In Frankryk het meer as duisend mense reeds weens bloedoortappings vigs gekry. Waarom het hulle vyf tot tien keer meer gevalle as die meeste Wes-Europese lande? Die koerant Le Monde verduidelik dat tronkowerhede tot 1985 aangehou het om bloedskenkings van gevangenes te ontvang—drie jaar nadat naburige lande die gebruik gestaak het. Die berig het verder gesê dat bloedskenkings “’n gebruik is wat al lank bestaan en algemeen beskou word as iets wat gevangenes se rehabilitasie vergemaklik. Bloedskenking het gevangenes laat dink dat hulle vir hulle misdaad vergoed en het hulle boonop ’n geleentheid gegee . . . om ’n glas wyn te drink en, in die geval van dwelmverslaafdes, ’n genotvolle sensasie te ondervind wanneer hulle die prik van die naald voel.” ’n Bloedskenking het dit ook vir gevangenes moontlik gemaak om hulle tronkstraf te verkort.
Modeparade in ’n katedraal
“Terwyl Gregoriaanse gesang, donderslae en klokke in feitlik algehele donkerte gehoor word, verskyn die silhoeëtte van sewe nonne geklee in lang mantels wat hulle gesig verberg. Skielik word die ligte aangeskakel, die nonne trek hulle mantels uit [en] hulle word modelle.” Dit is hoe Jornal da Tarde die modeparade beskryf wat in die ondergrondse kapel van die moederkerk van Pôrto Alegre, Brasilië, gehou is. Die aartsbiskop, wat die geleentheid bygewoon het, word as volg aangehaal: “Ek het nog altyd gedink dat hierdie plek ’n saal vir feestelike en sosiale geleenthede moet wees.” Hoewel die vertoning geld ingesamel het om dwelmverslaafdes te help, stem die biskop van Novo Hamburgo glad nie met die idee saam nie. Hy het gesê: “Die doel heilig nie die middele nie.”
Hedendaagse seerowery
“In teenstelling met 17de- en 18de-eeuse seerowers gebruik hulle nie oogklappe of swaarde nie. Vandag het hulle vinnige motorbote en kragtige wapens”, sê die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo. Gedurende die afgelope drie jaar is daar nie minder nie as 185 seeroweraanvalle in Rio de Janeiro opgeteken. Onlangs het tien seerowers met masjiengewere ’n olietenkskip gekaap en geld en goedere gesteel nadat hulle twee bemanningslede doodgemaak en twee ander gewond het. Sulke georganiseerde bendes, wat in stampvol hawens soos Santos en Rio de Janeiro bedrywig is, vind by die plaaslike prostitute uit wat die skeepsvrag en die veiligheidsmaatreëls is. Soos die koerant ten slotte sê, laat die vermeerderde seerowery en die diefstal van houers “Brasilië se buitelandse handel ook finansiële verliese ly”.
’n Epidemie van skakings
Motorskakings is nou wel ’n internasionale probleem, maar volgens die Financial Mail van Suid-Afrika “het motorskakings epidemiese afmetings” in Suid-Afrika aangeneem. Hoe kan jy die risiko verminder dat jou motor geskaak word as jy woon waar dit ’n probleem is? Probeer jou daaglikse reisroetine verander. Volg verskillende roetes of vertrek effens vroeër of later. Hou die deure gesluit en die vensters toe. Moenie aanbied om rylopers op te laai nie en, indien moontlik, moet jy nie alleen ry nie. Voor jy by ’n padversperring stop, moet jy jou afvra of dit eg lyk. Kyk of daar waarskuwingsvlae en munisipale waarskuwingsligte is en let op na watter klere die padwerkers aan het. ’n Polisiekolonel se raad aan ’n bestuurder wat hom in ’n gevaarlike situasie bevind, is: “As jou lewe in gevaar is, moet jy die voertuig afgee. Dit is sinneloos om ’n dooie held te wees.”
Fisiese mishandeling van ouers
Iets wat al beskryf is as die “verborge gruwel van tienerwoede” wat op ouers gekoel word, neem in Australië toe. Polisiebeamptes en welsynsgroepe sê dat die aantal tieners wat hulle ouers slaan in hierdie land vinnig toeneem. En hoewel moeders gewoonlik die slagoffers is, is selfs vaders en grootouers al wreed aangeval. In die koerant Sunday Telegraph van Sydney word die direkteur van ’n welsynsorganisasie aangehaal waar hy sê: “Mense is verbaas om te hoor dat kinders wat maar 10 jaar oud is tot fisiese geweld in staat is—en hulle moeder en broers of susters intimideer.” Een gemeenskapswelsynsdiens het al soveel oproepe van mishandelde ouers ontvang dat dit ’n spesiale program vir slagoffers en oortreders beoog.