Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 11/22 bl. 3-5
  • Loodvergiftiging—’n wêreldwye dilemma

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Loodvergiftiging—’n wêreldwye dilemma
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe gevaarlik?
  • ’n Alomteenwoordige metaal
  • Loodvergiftiging—die verwoestende uitwerking
    Ontwaak!—1992
  • ’n Loodbelaaide wêreld?
    Ontwaak!—1990
  • Pasop vir loodvergiftiging!
    Ontwaak!—2009
  • Hoe om loodvergiftiging te voorkom
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 11/22 bl. 3-5

Loodvergiftiging—’n wêreldwye dilemma

SIR John Franklin se ekspedisie om die legendariese Noordwestelike Deurvaart te vind, was in die moeilikheid. Sy twee skepe was vasgeys, en die lang Noordpoolwinter het maar net begin. Een matroos het alreeds op ’n eienaardige manier gesterf—hy het stadigaan irrasioneel en toe histeries geraak, en uiteindelik het hy weggeteer en gesterf. Toe het die kranksinnigheid versprei. Meer manne het gesterf. Nadat vier-en-twintig gedurende die volgende twee jaar gesterf het, was die oorlewende lede van die ekspedisie so vasbeslote om van hulle skepe af weg te kom dat hulle ’n desperate trek suidwaarts oor die bevrore woesteny aangepak het. Hulle het yslike sleë gesleep wat met onnodige besittings, selfs luukses, belaai was. Nie een van die ekspedisielede het dit oorleef nie. Dit was in 1848. Die oorsaak van hulle kranksinnigheid was omtrent 140 jaar lank ’n raaisel. Maar in die laaste dekade het toetse op hare en stukkies been ’n belangrike leidraad tot die raaisel gegee: lood. Die manne het vleis geëet uit blikkies wat met loodsoldeersel verseël was. Hulle is deur lood vergiftig!

Loodvergiftiging was reeds lank voor daardie mislukte ekspedisie ’n probleem en dit het sedertdien tot ’n wêreldwye gesondheidsgevaar toegeneem. In onlangse jare is boekdele oor die gevare van loodvergiftiging geskryf. Gesondheidsorganisasies rondom die wêreld bevind hulle in ’n dilemma oor hoe hulle die situasie die hoof moet bied. Vernaamlik in Latyns-Amerikaanse en Oos-Europese lande, waar daar slegs beperkte omgewingsbeheer is, het loodvergiftiging ’n toenemende probleem geword. Nywerheidslande is ook bekommerd.

Verontrus deur die toenemende bewys dat loodvergiftiging ’n algemene siekte geword het, het gesondheidsbeamptes in Australië, Denemarke, Duitsland, Mexiko, Skotland en die Verenigde State ’n dekade terug met studies begin om vas te stel presies hoe gevaarlik selfs baie lae loodvlakke vir die mens en veral vir kinders is.

Hoe gevaarlik?

Kan blootstelling aan ’n eenvoudige metaal wat algemeen voorkom werklik so gevaarlik wees? Dr. Richard Wedeen, skrywer van Poison in die Pot: The Legacy of Lead, glo dat lood heel moontlik elke biochemiese funksie van die menseliggaam kan besoedel. Hy het gevolglik tot die slotsom gekom dat “lood moontlik gekoppel kan word met hoë bloeddruk, beroertes en hartaanvalle sowel as nierkwale”. Dr. Wedeen glo dat party volwassenes wat akute loodvergiftiging het selfs alkoholiste kan word en in sielsieke-inrigtings kan beland.

The World Book Encyclopedia noem ander simptome, soos bloedarmoede, lomerigheid, spierkrampe, swakheid, verlamming, maagpyne en vomering. “In ernstige gevalle kom breinskade, koma en stuipe voor, en uiterste gevalle van loodvergiftiging het al die dood veroorsaak”, sê die ensiklopedie. En ’n aansienlike deel van diegene wat van ernstige gevalle herstel, hou breinskade oor, skryf een bekende dokter.

Wat presies doen lood om hierdie simptome te veroorsaak? Die liggaam verwar lood in werklikheid met kalsium, en gevolglik wend dit geen poging aan om daarvan ontslae te raak nie. Die lood in die bloedstroom saai verwoesting so ver as wat dit gaan. In die bloed verhinder dit die vervaardiging van hemoglobien, en beskadig daardeur die bloed se vermoë om suurstof te vervoer. In die brein en senustelsel verbind dit met belangrike proteïene wat ensieme genoem word en maak hulle nutteloos. Die bene vergaar lood, berg dit, en stel dit soms baie later vry en dit doen dan meer skade.

Twee eienskappe van loodvergiftiging maak dit besonder gevaarlik. Eerstens kan dit ’n baie subtiele, sluipende soort siekte wees wat moeilik is om op te spoor. Tweedens kom lood, hoofsaaklik weens die industriële omwenteling, feitlik oral in ons omgewing voor.

’n Alomteenwoordige metaal

Net die mens se verbeelding beperk vandag lood se gebruike. Daar is byvoorbeeld, vanaf die twintigerjare tot onlangs, miljoene ton lood by petrol gevoeg om enjinwerkverrigting te verbeter. Lood is algemeen in verf gebruik, hoewel party lande die gebruik daarvan nou streng beperk het.

Maar al woon jy in ’n land waar die gebruik van lood in verf en petrol lankal verbied is, is jy moontlik nie veilig teen blootstelling aan lood nie. Dalk woon jy byvoorbeeld in ’n huis of in ’n woonstel wat geverf is toe sulke wette nog nie van krag was nie. Of miskien is daar waar jy woon baie ouer motors wat nog altyd loodhoudende petrol verbrand, en nog altyd aansienlike hoeveelhede looddampe vrystel wat die lug en die grond rondom jou besoedel.

Lood is ook algemeen in loodgietery en soldeersel gebruik. Beskermingsmateriaal wat van lood gemaak is, word gebruik om x-straaltegnici en kernenergiewerkers van skadelike straling te beskerm. Drinkfonteine met loodgesoldeerde tenks is steeds in gebruik, en die nate van blikkies vir ingemaakte kos word nog steeds met loodsoldeersel aanmekaargelas. Loodkristal word algemeen in wynglase en kraffies gebruik. Selfs sekere bababottels word van loodkristal gemaak. Daar is loodplate in motorbatterye. Ontelbare miljoene loodkoeëls en haelgeweerpatrone word gebruik. Die lys lyk eindeloos.

Hoewel die mediese professie loodvergiftiging onder volwassenes as iets ernstigs beskou, is kinders die kwesbaarste slagoffers van hierdie siekte. Waarom kinders? En hoe kan jy jou en jou kinders beskerm teen hierdie siekte wat jou fisies en geestelik aftakel?

[Lokteks op bladsy 4]

Kan blootstelling aan ’n metaal wat so algemeen voorkom werklik so gevaarlik wees?

[Lokteks op bladsy 4]

In die bloedstroom saai lood verwoesting omtrent oral waar dit gaan

[Lokteks op bladsy 5]

“Lood kan moontlik gekoppel word met hoë bloeddruk, beroertes en hartaanvalle sowel as nierkwale”

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Photo: Painting by Thomas Smith, courtesy of the Maritime Museum, Greenwich, England

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel