Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 5/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • TV se wêreldwye houvas
  • Familielede se bloed is nie veiliger nie
  • Die planeet word tot die uiterste beproef
  • Hulp wat nooit opdaag nie
  • Afrikastof
  • Publikasie van godsdienstydskrifte word gestaak
  • Geweld in skole
  • Deur nektar verlei
  • Verborge risiko
  • Nuwe werwingstaktiek
  • Het televisie jou verander?
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1995
  • TV—Die “subtiele onderrigter”
    Ontwaak!—2006
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 5/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

TV se wêreldwye houvas

Presies hoe gewild is televisie oor die hele wêreld? Volgens die International Herald Tribune is daar wêreldwyd meer as ’n miljard TV-stelle, 50 persent meer as vyf jaar gelede. In Japannese huise is daar meer TV-stelle as spoeltoilette. Slegs sowat die helfte van alle Mexikaanse huise het ’n telefoon, maar feitlik elke huis het ’n TV. En baie Amerikaners het 25 of 30 kanale waaruit hulle kan kies. Die Tribune sê: “Die kulturele, politieke en ekonomiese gevolge van hierdie wêreldwye televisierevolusie is skokkend. . . . Party is bekommerd dat al hierdie TV-kykery sal veroorsaak dat die res van die wêreld nie meer sal wil lees nie, soos reeds met twee geslagte Amerikaners gebeur het.”

Familielede se bloed is nie veiliger nie

’n Regeringstudie van meer as ’n miljoen bloedskenkings in vyf groot gebiede in die Verenigde State het getoon hoe verkeerd die algemene opvatting is dat bloedskenkings van vriende of familielede veiliger is as dié wat van vreemdelinge ontvang word. Een toets het byvoorbeeld getoon dat 2,6 persent van die bloedskenkings wat van familielede en vriende ontvang is met hepatitis B besmet was, in vergelyking met die 1,8 persent wat van anonieme skenkers ontvang is. Daar is ook bevind dat die skenkings wat van familielede en vriende ontvang is meer besmet was met sifilis, hepatitis C en HTLV-1, ’n virus wat kanker veroorsaak. “Jy verminder nie die risiko deur vriende of familielede te vra om vir jou bloed te skenk nie”, het Lyle Petersen van die Federale Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming gesê.

Die planeet word tot die uiterste beproef

Die wêreld se huidige jaarlikse bevolkingsaanwas is byna 100 miljoen, en volgens skatting sal die aarde se bevolking teen die jaar 2050 10 miljard wees, sê ’n verslag in die British Medical Journal. Die Koninklike Vereniging van Londen en die Amerikaanse Nasionale Akademie vir Wetenskap het ’n ongeëwenaarde gesamentlike verklaring uitgereik wat gesê het dat so ’n aanwas onherstelbare skade vir die omgewing inhou. Dit sal veral die geval wees as die ontwikkelende nasies, waar die aanwas die grootste is, hulpbronne net so vinnig soos die ontwikkelde lande verbruik. Die akademies het aan die hand gedoen dat die wetenskap en die tegnologie ’n sleutelrol speel, maar het gesê dit sal onverstandig wees om slegs op hulle staat te maak “om probleme op te los wat veroorsaak is deur ’n vinnig toenemende bevolkingsaanwas, die verkwisting van hulpbronne en die mens se skadelike gewoontes”. As daar nie ’n verandering intree nie, het die verklaring gesê, “sal die wetenskap en die tegnologie moontlik nie die onherroeplike agteruitgang van die omgewing of voortgesette armoede oor ’n groot deel van die wêreld kan voorkom nie”. “As ons nie ernstige pogings aanwend om die bevolkingstal te beheer nie, sal alle ander dinge van minder belang wees”, het sir Michael Atiyah, president van die Koninklike Vereniging van Londen, gesê.

Hulp wat nooit opdaag nie

Slegs 7 persent van die internasionale hulp wat geskenk word om hongersnood en armoede in Afrika te verlig, bereik diegene wat veronderstel is om daarby baat te vind, erken Ferhat Yunes, vise-president van die Ontwikkelingsbank van Afrika. Die tragedie is nog erger as die benarde situasie van miljoene kinders van Afrika in ag geneem word. Die Spaanse koerant El País berig dat daar 30 miljoen ondervoede kinders oor die hele vasteland is en nog 40 miljoen wie se groei gestrem word as gevolg van ’n swak dieet. Verteenwoordigers van 44 Afrikalande wat in Dakar, Senegal, bymekaargekom het, het die desentralisasie van hulpverspreiding en ’n inkorting van wapenbesteding as twee belangrike stappe aan die hand gedoen om die lot van hierdie kinders te verbeter.

Afrikastof

Afrikastof, wat deur warm, droë winde uit die grasvlaktes en ruigtes geskep word, bevoordeel ander dele van die planeet, sê wetenskaplikes. Deels vanweë ’n langdurige droogte in Suidelike Afrika is miljoene ton Afrikabogrond in 1992 alleen in dik stofwolke weggevoer, berig die International Herald Tribune. Baie van die stof val in die Atlantiese Oseaan en voorsien minerale—veral noodsaaklike yster—aan plankton en kril, wat aan die begin van die voedselketting is. Die res dryf weg na die Amerikas. Studies in die Amasonereënwoud toon dat Afrikastof grondsoorte daar wat arm aan voedingstowwe is, help herstel. “Hierdie Afrikastof wat die Atlantiese Oseaan en die Amerikas voed, toon hoe besonder groot ekosisteme wat ver uitmekaar geleë is van mekaar afhanklik is”, sê dr. Michael Garstang wat aan die Universiteit van Virginië is. “Die boodskap is dat ons planeet uit talle onderling verbonde en afhanklike stelsels bestaan wat ons skaars begryp. Ons het nog maar net ’n oppervlakkige begrip hiervan.”

Publikasie van godsdienstydskrifte word gestaak

“Die publikasie van twee van die land se oudste godsdienstydskrifte, die American Baptist en die Christian Herald, is gestaak”, berig Associated Press. “Die 115-jarige Christian Herald, wat sedert 1878 uitgegee is en waarvan die hoofkantoor in Chappaqua, NY, geleë is, sowel as die 189-jarige American Baptist, wat sy voorgangertydskrif wat sedert 1803 gedruk is, opgevolg het, se oplaag het afgeneem.” Die maandtydskrif American Baptist, met sy hoofkantoor in die Forgevallei, Pennsilvanië, sal deur ’n nuusbrief vervang word. Maar ’n ander godsdienstydskrif van daardie era, Die Wagtoring, se oplaag neem voortdurend toe. Die Wagtoring, wat in 1879 aanvanklik maandeliks in Pittsburgh, Pennsilvanië, uitgegee is met ’n oplaag van 6000 eksemplare in Engels, word nou halfmaandeliks in 112 tale uitgegee en het ’n oplaag van 16 400 000 eksemplare per nommer.

Geweld in skole

’n Uitgebreide opname van 169 skole in Hamburg, Duitsland, het die oorsake van toenemende aggressie by onderriginstansies probeer vasstel. Waarom meld skole al hoe meer gevalle van afpersing, intimidasie, liggaamlike beserings en seksuele oortredings aan? Volgens die koerant Frankfurter Allgemeine Zeitung het die leerlinge wat ondervra is geweld wat in die media uitgebeeld word, verwaarlosing by die huis, botsings met vreemde leerlinge en spanning op skool as die belangrikste redes aangevoer. Die opname het ook die aandag op ’n aantal sosiale oorsake gevestig wat voorkom dat probleme wat met geweld verband hou op skool opgelos word. Daar is byvoorbeeld bevind dat kinders en jongmense oor die algemeen geen skuldgevoel het of nie dink dat hulle oortree het nie en dat hulle baie egosentries, onverdraagsaam en onbedagsaam is. En baie ouers het dit as normaal beskou om geweld te gebruik om geskille uit die weg te ruim en het hulle kinders geleer om terug te slaan en hulleself te verdedig.

Deur nektar verlei

Wat gebeur wanneer bye hulle aan gegiste nektar ooreet? Hulle gedra hulle soos dronk mans. Party kan nie die pad huis toe kry nie, en dié wat wel kan, word weens hulle afwykende gedrag gewoonlik toegang tot die byekorf verbied. Dan, as hulle nie weens koue sterf nie, kan hulle babelas só erg wees dat dit hulle lewensduur met die helfte verkort, berig die Spaanse dagblad El País. Maar in die geval van bye is hulle dronkenskap heeltemal onwillekeurig. Errol Hassan, wat aan die Universiteit van Queensland, Australië, is, verduidelik dat ’n styging in die temperatuur daartoe kan lei dat die nektar waarvan hulle leef, gis en alkohol produseer.

Verborge risiko

“Rokers kan verkeerdelik ingelig word dat hulle gesond is wanneer hulle in werklikheid ’n groter gevaar loop om ’n hartaanval te kry”, sê ’n artikel in The New York Times. Waarom? Omdat skade wat aan die hart se piepklein bloedvaatjies (die arteriole) aangerig word, nie op normale harttoetse gesien kan word nie. Wanneer rokers dan onder liggaamlike of emosionele druk verkeer, ontvang hulle hart nie genoeg bloed nie, wat hulle risiko om ’n hartaanval te kry selfs groter maak. ’n Studie by die Iowa-hartinstituut in Des Moines het getoon dat dit die geval is selfs wanneer die roker nie besig is om te rook nie en dat die probleem vererger word wanneer hy rook. Wanneer die hart se arteriole onder druk verkeer, ontsluit hulle en kan hulle vier keer meer bloed as gewoonlik na die hart vervoer. Maar by rokers is die vloeitempo 30 persent minder.

Nuwe werwingstaktiek

“Televisieadvertensies wat toon hoe nonne grasperke sny en hoe priesters basketbal speel, maak deel uit van ’n nuwe werwingsveldtog deur die Katolieke Kerk om meer geestelikes vir hulle minder wordende geledere te werf”, berig die koerant The West Australian. “Die advertensies van 30 sekondes lank . . . toon hoe jong priesters en nonne hulle roeping bespreek terwyl hulle grasperke sny, inkopies doen, aan sport deelneem en hospitale en gevangenisse besoek.” Die priester Brian Lucas, wat ’n woordvoerder vir die Katolieke Kerk in Sydney is, het gesê dat nonne en priesters gewoonlik uitgebeeld is waar hulle kerse vasgehou en onder kerktorings gestaan het en dat hierdie veldtog ander sal help om hulle as gewone mense te beskou. Die TV-veldtog word tans in Melbourne uitgesaai en sal daarna na ander state in Australië uitbrei as dit suksesvol is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel